Ek is nou ‘n volwassene

image_pdfimage_print

Gratitude is happiness doubled by wonder – G.K. Chesterton

Ek is nou ‘n volwassene

Wanneer is ‘n persoon ‘n volwassene? As hy die huis verlaat? As hy begin werk? Dit lyk nie asof hierdie dinge outomaties ‘n persoon ‘n volwassene maak nie. Volwassenheid is ‘n geleidelike, daaglikse proses. Dit gebeur nie op een spesifieke oomblik nie, maar na jare van wyse besluite. Hierdie is ‘n ingewikkelde, soms pynlike, proses. Hier is ‘n paar hulpmiddels.

  • Besef dat  jy nie die middelpunt van die wêreld is nie – die wêreld draai nie om jou nie. Ons stel onrealistiese verwagtings van onsself, ons beroep, ons huwelik, ens. Dan raak ons teleurgesteld as ons verwagtings nie realiseer nie. Eers as jy met nederigheid begin dink, word jou verwagtings van jouself en ander realisties.
  • Ontwikkel emosionele volwassenheid. As ek onvolwasse is, beheer my emosies my; as ek volwasse is, beheer ek my emosies. Volwassenes kan hulle emosies beheer – dink voor jy reageer of praat.
  • Leer die verskil tussen die bestuur van tyd en energie. Net omdat iets in jou tydskedule pas, beteken nie dat jy die energie het om dit te doen nie. Jy moet leer om “ja” en “nee” te sê vir dinge. As jy “ja” vir een ding sê, beteken dit dat jy “nee” vir iets anders moet sê.
  • Moenie met ongesonde aannames saamleef nie. Baie mense leef in ‘n verbeeldingswêreld. Hulle dink aan hipotetiese vrae soos: wat daarvan as hulle sleg van my dink? Dit verander baie vinnig in ‘n aanname: Hulle dink sleg van my. Dikwels neem ons besluite, verbreek verhoudings en ontwikkel emosies gebaseer op aannames – wat dikwels nie waar is nie. As jy nie seker is of iets waar is nie, moenie leef asof dit waar is nie.
  • Belê in mense jonger as jy. Dit help hulle om te groei, maar dit druk jou ook in die rigting van volwassenheid.
  • Ontwikkel diep verhoudings. Soms belê ons nie in verhoudings nie, want ons is bang dat ons sal seerkry. Daarom probeer ons nie eers verhoudings ontwikkel nie. Ons het egter betekenisvolle verhoudings nodig. Risiko, kwesbaarheid en pyn is alles deel  van ‘n gesonde verhouding, maar dit is nie ‘n rede om ‘n verhouding te verbreek nie.
  • Maak ‘n plan. So baie dryf maar deur die lewe, want hulle het nie ‘n visie van wat hulle wil doen nie. Stel vir jouself doelwitte. Al bereik jy nie al jou doelwitte nie, is dit tog goed, want jy leef doelgerig en dryf nie net rond nie.
  • Leer om goed te rus. Jy kan nie goed werk as jy nie goed kan rus nie. Jy moet jou skedule so organiseer dat jy tyd het om te rus.
  • Jy moet die Here liefhê. Maak nie saak hoe goed dit met jou werk of verhoudings, ens gaan nie, as jy nie leef om God te verheerlik nie, is jou lewe nie wat dit moet wees nie. Jou diepste behoefte in om op Jesus Christus, jou Verlosser en Here, te vertrou. Dit vereis dat jy deel van ‘n geloofsgemeenskap word. Hierdie is die fondament van ‘n ware gesonde volwasse lewe.

Moenie tevrede wees om maar net voort te ploeter nie – word volwasse.

image_pdfimage_print