Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Die Oppas van Skape en Bokke – Interessante Skrifgedeeltes – Hennie Stander

image_pdfimage_print

Miga 7:14. Miga het uitgesien na die dag wanneer konings hul volk sal regeer soos ‘n herder sy skape oppas: “Pas jou volk op met jou kierie, die kleinvee wat aan jou behoort.”

Slingervel

1 Samuel 25:29. Abigail bid dat die Here “die siel van Dawid se vyande uit die holte van die slinger sal wegslinger”. Abigail het dus hiermee vir die Here gevra dat Dawid se vyande ver weg verwyder sal word net soos wat ‘n mens ‘n klip uit ‘n slingervel gooi.

Versorging van die skape

Jesaja 40:11. Hier word die beeld gebruik van die herder wat die lammers optel en wat die ooie versigtig hanteer tydens lammertyd. Dit versinnebeeld die groot sorg waarmee God na Sy kinders omsien: “Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen Sy bors; Hy sorg vir die lammerooie.”

Die Lam van God

Johannes 1:29. Johannes die Doper het na Jesus verwys as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”. Hierdie woorde verwys beslis nie na die sondebok nie (vgl Levitikus 16:20-22) omdat hier van ‘n skaaplam, en nie ‘n bok nie, gepraat word. Dit moet veel eerder as ‘n verwysing na die pasgalam gesien word. Volgens Johannes (19:14) is Jesus omtrent dieselfde tyd gekruisig as wat die pasgalam geslag moes word. Net soos die pasgalam, is ook Jesus se bene nie gebreek nie (Johannes 19:33,36; vgl ook Eksodus 12:46). Alhoewel die slag van die pasgalam nie in die Judaïsme as ‘n sondoffer beskou is nie, is dit nogtans duidelik waarom dit later so verstaan is: dit is immers hoe hulle die dood van Christus gesien het. Johannes die Doper se uitspraak beteken derhalwe iets soos “Dit is die Lam wat God gegee het om versoening vir die mense te bewerkstellig.”

Die geboortedag van Jesus

Lukas 2:8. Niemand weet presies wanneer Jesus gebore is nie. Die datum 25 Desember is egter in die vierde eeu n.C. gekies om as teenfoeter te dien vir die heidense feeste wat die Christene gaan bywoon het. Daar is derhalwe besluit om ook vir die Christene die geleentheid te bied om op hierdie dag fees te kon vier en dit is toe gekoppel aan die geboortedag van die Here. In Desembermaand is dit egter nog winter in Palestina. Dit is dan te koud vir die herders om in die oop veld by hulle skape wag te hou (Lukas 2:8) en dus kan ons met redelike sekerheid sê dat Christus nie in Desembermaand gebore is nie. Dit is dus meer waarskynlik dat hierdie gebeure in die lente of somer plaasgevind het.

Die herder

Efesiers 4:11. “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars.” In hierdie gedeelte word een van die kerkleiers as ‘n herder bestempel. Dit is ‘n figuurlike aanwending van die term “herder”. Let verder daarop dat daar in hierdie vers nie sprake is van vyf klasse van persone nie, maar net van vier. Die laaste klas handel oor twee aktiwiteite wat mekaar aanvul, naamlik die van herder en leraar, dit wil sê om ‘n gemeente te help en te lei, maar ook te onderriq. Die herders was almal weer verantwoordelik aan Jesus, die opperherder (1 Petrus 5:4).

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

image_pdfimage_print

You may also like...