Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke (3)

image_pdfimage_print

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke (3) – Hennie Stander

Grotbewoners

In die antieke tye in die Midde-Ooste het talle mense in grotte gebly, alhoewel die meeste mense oor die algemeen egter reeds uit hul grotwonings getrek het. Gedurende die Bybelse tye, was daar nog steeds mense wat in grotte gewoon het. So lees ons van Lot wat saam met sy twee dogters in ‘n grot gaan woon het na sy vlug uit Sodom (Genesis 19:30). Ook die Edomiete het hulself stewig ingegraaf in die rotsagtige gebiede van Petra (wat “klip” beteken).

Obadja verwys na die Edomiete “wat woon in die rotsklowe op hoë plekke” (Obadja 3). Volgens antieke geskrifte wat nie in die Bybel opgeneem is nie, is ook Jesus in ‘n grot gebore. Hierdie tradisie weerspreek nie noodwendig die Bybelse inligting wat dat Jesus in ‘n stal gebore is nie, aangesien ons weet dat grotte dikwels as stalle gebruik is. Mense het ook dikwels in grotte gaan skuiling soek wanneer hulle gevlug het (Josua 10:16; 1 Samuel 22:1; 1 Konings 18:4). Voorts is grotte ook as grafte gebruik (Johannes 11:38).

 

In die Bybelse tye het die meeste mense egter reeds in vestings gewoon wat goed teen vyandige aanvalle beskerm was en waar daar ook ‘n watervoorraad beskikbaar was. Sommige het egter ook ‘n semi-nomadiese lewenswyse aangeneem en in tente gewoon. Hulle het dan saam met hulle kudde van oase tot oase beweeg soos wat die weiding opgeraak het.

 

Tentbewoners

Abraham het die gevestigde gemeenskap van Ur in Chaldea verlaat en deur die geloof ‘n tentbewoner geword terwyl by geglo het dat God uiteindelik ‘n permanente land aan sy nageslag sou gee (Hebreërs 11:9). Die semi-nomadiese lewenswyse van Israel voor hul vestiging in Kanaän het ‘n beweeglike woning soos die tent vereis. Verder het hul veeboerdery hul genoodsaak om dikwels van woonplek te verwissel ter wille van weiding en water vir die vee. Ons lees dikwels in die Skrif dat die tent as woonplek gebruik is (Genesis 4:20; 13:5; 18:1; 26:25; 31:33; Eksodus 33:10). Maar ons lees selfs in die Koningstyd nog van tente wat as wonings gebruik is (1 Samuel 13:2; 2 Samuel 18:17; 2 Samuel 19:8; 2 Samuel 20:1). Hierdie lewenswyse het egter nooit heeltemal doodgeloop nie en die lewenswyse van die moderne Bedoeïen stem baie ooreen met die van Abraham.

tentvroue

 

Die vrouens se gedeelte in die tent. Let op die vloerbedekkings en die verskeidenheid van potte en kruike wat vir stoordoeleindes gebruik is

Israel se tentlewe het ‘n belangrike deel van hulle verlede geword en God het later, wanneer hulle afgedwaal het, dikwels na hierdie fase in hul bestaan verwys asook na die tyd toe hulle in die woestyn deurgebring het en altyd op trek was. In Jesaja 46:9 lees ons byvoorbeeld “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie”. Verskeie terme wat verband hou met ‘n tentlewe is later in ‘n figuurlike betekenis deur Bybelskrywers aangewend. So lees ons byvoorbeeld aan die begin van die Johannesevangelie dat die Woord het mens geword en het onder onsgewoon.” (Johannes 1:14). Die woord wat met “gewoon vertaal word, het oorspronklik “tent opslaan” beteken. Ons moet egter nou net waak daarteen dat ons nie hierdie woord se betekenis “oorlaai”deur allerhande addisionele betekenissein hierdiefiguurlike betekenis in te lees nie. Dit sou byvoorbeeld verkeerd wees om in ‘n ieder en elke plek waar die woord “tent (opslaan)” voorkom,ook die konsep van “tydelikheid” of “kort tydjie” in te lees. In 2 Korintiërs 5:1,4 vergelyk Paulus wel ons liggaam met ‘n tent en daar is die bedoeling inderdaad dat die liggaam waarin ons “gehuisves” word, van verbygaande aard is. Wat Johannes 1:14 betref, wat ons hierbo aangehaal het, moet ons dit waarskynlikveel eerderin die lig vanEksodus 25:8-9 verstaan waar God die volk Israel beveelom ‘ntent te maak sodat Hy onder hulle kan bly. Vir ‘n persoon in die Bybelse tyd was dit dus ‘n algemene begrip dat God ‘n tent as woning op dieaarde het. Toe Johannes dus wou dat God onder die mense kom woon het, het hy dit figuurlik uitgedruk as “tent opslaan” sonder om noodwendig daarmee op die tydelike aard van Jesus se aardse bestaan to fokus.

bedoeintentnuite

‘n Bedoeiengesin buitekant hul eenvoudige tent naby Hebron.

 

Die tent

Die tent van mense in Bybelse tye is gemaak van velle of van ‘n lang stuk seil of materiaal wat van bokhaar geweef is: Dit is dan oor ‘n paalraamwerk getrek om ‘n langwerpige sonskerm te vorm, terwyl die twee eindpunte daarvan met tou en tentpenne in die grond vasgeslaan is (vgl Rigters 4:21). In Hooglied 1:5 lees ons dat hierdie tente n bruinerige kleur gehad het.

bedoeintentwoestyn

‘n Bedoïentent in die woestyn van Judea

Die “voorkant” en die “agterkant” van die tente is gevorm deur vertikale behangsels. Dit is gemaak van matte wat van riete of biesies geweef is, of van “gordyne” wat van bokhaar-gemaak is. Hierdie behangsels is ook gebruik om afskortings binne die tente te vorm, soos byvoorbeeld om families, te skei, of die diere van die mense te skei.

                                                                              .

Die tent kon groter gemaak word deur bloot ekstra lengtes aan die oorspronklike tentdoek aan te werk. In Jesaja 54:2 word juis hierdie “groter maak van die tent as beeld gebruik vir die uitbreiding van die Joodse volk. Hierdie tentdoek was nie waterdig alvorens die eerste reëns dit laat krimp het nie. Op die vloer was daar leer- of strooimatte.

 

Tente is dikwels so gegroepeer om al die lede van n familie te huisves. Groot tente is afgeskort in mans en vroue ontvangs en woonvertrekke, asook vir die slawe. Soms is daar ook, na gelang na die vermoë van die eienaar, afsonderlike tente opgeslaan vir die verskillende lede-‘ van die huishouding (Genesis 31:33). Tente is ook nie sommer hot en haar opgeslaan nie. Tydens die omswerwinge van die Israeliete tussen Egipte en Kanaän, is daar duidelike riglyne gegee waar die tente van die verskillende families opgeslaan moes word (Numeri 2).

 

‘n Mens moet egter nie die fout maak om to dink dat tente noodwendig almal primitief was nie. Die rykes se tente was beslis meer luuks; ook die inhoud van die tent het saamgehang met die vermoë van die eienaar.

tentfases

Die verskillende fases waarin ‘n tent opgerig is. So ‘n tent is van materiaal of van bokhaar gemaak

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

image_pdfimage_print

You may also like...