Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(5)

image_pdfimage_print

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke(5) – Hennie Stander

Die dak

Die dak was gewoonlik plat en ook nie baie hoog van die grond af nie. Dit is gevorm deur balke oor die mure te lê en dit met klein takkies en lower te bedek. Daar is dan ‘n laag modder, wat soms met kalksteen of klippies gemeng is, bo-oor hierdie basis gegooi. Hierdie dakke het gou groen geword vanweë al die saad wat op die dak ontkiem het. Die saad was waarskynlik teenwoordig in die modder wat op die dak gebruik is en verder het dit gekom van die produkte wat op die dak uitgedroog is. Ons lees in verskeie plekke in die Bybel van hierdie groen uitspruitsels op die dak van die wonings, naamlik in 2 Konings 19:26; Psalm 129:6 en Jesaja 37:27.

So ‘n dak was redelik dig en dit het die ergste reën weggehou. Tog word daar ook in Spreuke 27:15 gepraat van ‘n gedrup van water wanneer dit gestortreën het en dit mag moontlik na ‘n lekkende dak verwys. (lees ook Spreuke 19:13).

 

Hierdie plat dak het baie voordele gehad. Daar was gewoonlik trappe aan die buitekant (soms aan die binnekant van die huis) met die gevolg dat ‘n mens baie maklik op die dak kon klim. ‘n Mens het ‘n goeie uitsig van daar of gehad (Rigters 16:27); die oeste is op die dak uitgedroog en gestoor (Josua 2:6); dit was ‘n gerieflike plek om te wandel in die aandkoelte (2 Samuel 11:2) of om daar te gesels (1 Samuel 9:25). Die ruimte op die dak is so dikwels gebruik dat die Wet vereis het dat daar ‘n reëling rondom die dak gebou moes word sodat mense nie daarvan sou afval nie (Deuteronomium 22:8).

oorblyfsels

Die oorblyfsels van ‘n huis in Jerusalem in die eerste eeu n.C.. Dit is afgebrand toe die Romeine die stad in 70 n.C. vernietig het. Die verskillende kamers is geldentitiseer dour die gebruiksartikels wat nog daarin gevind is.

 

Beligting

Die beligting in die huise is deur olielampe verskaf. Baie lampe is in opgrawings gevind met die gevolg dat die ontwikkeling van die lamp van die vroegste tye af presies bepaal kan word. Die eenvoudigste vorm van hierdie lampie was ‘n pieringvormige kleibakkie met ‘n tuitjie. In die bakkie is olyfolie gegooi (Eksodus 25:6; 27:20; Matteus 25:3,4). Die lamppit het in die tuitjie gelê en die ander punt daarvan was in die olyfolie. ‘n Mens het natuurlik baie maklik olie gemors met so ‘n lampie, en dus het dit later ontwikkel tot ‘n geslote bakkie met twee gaatjies daarin: in een gaatjie het die lamppit gelê en in die ander een is die olie gegooi. Hierdie lampies moes gereeld hervul word (lees Matteus 25:8). Kerse is nooit in die Bybelse tye gebruik nie.

kleinolielampie

 

‘n klei olielampie wat versier is met ‘n afbeelding van ‘n kandelaar met sewe arms

 

Later is groter lampies gemaak wat versier is en handvatsels gehad het. Hulle het ook meerdere lamppitte gehad en kon dus beter lig verskaf. Hoe hoër die lamp was, hoe beter was die lig. Dit is derhalwe aan die plafon gehang, of op ‘n staander gesit (Matteus 5:15; Lukas 8:16; 11:33), of in die nis van ‘n muur, of selfs op ‘n omgekeerde maatemmer.

 

Die brandende lampie is dikwels in die Skrif gebruik as simbool van lewe, vreugde en vrede (Psalm 18:29) terwyl die blus van die lampie gebruik is as simbool van somberheid, sterwe en verlatenheid (2 Samuel 21:17; Job 18:5 ev ; 21:17; Spreuke 13:9; 20:20; 24:20).

huisbinne

Die binnekant van ‘n huis. Let op die olielampie op die omgekeerde maatemmer, die verskillende potte en kruike vir stoordoeleindes, en die verhewe platform vir familie aktiwiteite.

 

 

Verhitting

Vuur is gebruik vir verwarming- en kookdoeleindes. Hout, takke, stokkies en droë gras is gebruik as vuurmaakgoed (vgl Handelinge 28:3), maar daar is ook gebruik gemaak van die droë mis van diere (Esegiël 4:15) asook van houtskool (Johannes 18:18; 21:9). In die Bybel is daar geen vermelding van minerale steenkool nie. Die houtskool waarvan hier gepraat word is gemaak deur hout to brand terwyl dit so gepak is dat die lug uitgesluit word. Maar ons lees ook in die Skrif dat die mense hulself warm gemaak het by kole wat in ‘n vuurpan gehou is (Jeremia 36:22 ev; vgl ook Sagaria 12:6). Die vuur is buitekant gemaak of in ‘n holte in die vloer van die huis. Die huise het geen skoorstene gehad nie, en die rook het by die deur of venster uitgetrek (sien Hosea 13:3-in Hebreeus word hier gepraat van “rook uit die venster”. Sommige moderne vertalings gee dit egter weer met “rook uit die skoorsteen” maar laasgenoemde is bloot ‘n moderne kulturele verstelling wat aan die teks gemaak is). Ook Paulus en sy mede-skipbreukelinge het hulself voor ‘n vuur warm gemaak (Handelinge 28:2 ev).

 

Die vrouens het gekook en gebak (vgl Genesis 18:6) en hiervoor het hul oonde, panne en bakplate gebruik (Levitikus 7:9) en selfs ook warm klippe (1 Konings 19:6).

miskoeke

 Vrouens maak miskoeke wat hul as vuurmaakgoed kan gebruik

 


Skrywer: Prof Hennie Stander

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...