Gelowiges doen steeds sonde!

image_pdfimage_print

Holiness is plain hard work, and we’er often lazy. We like our sins, and dying to them is often painful – Kevin deYoung.

 

Gelowiges doen steeds sonde!

En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige as ons voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld (1 Johannes 2:1 – 2).

 

Die Woord sê dat ons nie moet sondig nie, want dit onteer God. Al is jy vrygespreek, maak sonde steeds saak. Maar ons hoef nie in wanhoop te verval nie, want ons het ‘n Advokaat wat vir ons by God pleit. Hierdie wetlike status van ons verval nie – ons hoef nie weer vrygekoop te word nie. Jesus Christus se offer was immers vir altyd.

 

 

Wat wel gebeur as ons sondig is dat ons verhouding met God versteur word. Ons mag God se ontevredenheid ondervind, maar nie sy toorn wat ons veroordeel nie.  Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders.  Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad.  Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie? Ons vaders het ons wel ‘n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel (Hebreërs 12:7 – 10). God sal ons dissiplineer en reghelp om die verhouding tussen Hom en ons weer reg te stel.

 

John Stott (Basic Christianity) gebruik die volgende beeld:

‘n Seun is onbeskof met sy ouers. Daar heers spanning in die huis; seun en ouers praat nie meer met mekaar nie. Wat het gebeur? Is die seun nou nie meer hulle kind nie? Nee, hy is steeds hulle kind, maar hulle verhouding het verander. Die feit of hy kind is of nie, word deur sy geboorte bepaal; die verhouding is afhanklik van sy gedrag. Sodra die seun om vergewing vra, word hy vergewe en die verhouding is weer herstel. Hy mag tydelik ongehoorsaam, selfs in opstand, gewees het, maar hy het nooit opgehou om hulle seun te wees nie.

 

So gaan dit ook met die kinders van God. As ons sondig, bly ons steeds God se kinders – ons verhouding met Hom is wel versteur. Hierdie verhouding met God word herstel sodra ons ons sonde bely en daarvan afsien. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9); Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely, sal genade ontvang (Spreuke 28:13).

 

image_pdfimage_print

You may also like...