Geseënd is diegene wat waag

image_pdfimage_print

 

You don’t have to transform the message, but you do have to translate it – Rick Warren

 

Geseënd is diegene wat waag

Jesus het die verhaal van die ryk man wat op reis wou gaan, vertel (Matteus 25:14 – 30). Hy roep sy slawe bymekaar en vertrou sy besittings aan hulle toe. Vir die een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir die ander twee, en vir ‘n derde een. Dan lees ons: Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en ‘n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het ‘n wins gemaak van nog twee. Maar die slaaf wat een gekry het, het ‘n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

 

Toe die eienaar terugkom, vra hy rekenskap van sy slawe. Hy prys die eerste twee slawe vir hulle wyse gebruik van sy geld. Vir die een wat sy muntstuk begrawe het, sê hy: Jy is ‘n slegte en lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie. Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het. Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat tien het. Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het weggevat word. En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tandekners.

 

Hier is twee dinge wat opval in hierdie gelykenis:

  1. Jesus prys die eerste twee slawe omdat hulle met sy geld gewaag het. Hulle het geen waarborg gehad dat hulle nie die geld sou verloor het nie. Hy betig hulle nie – Hy prys hulle.
  2. Hy noem die een wat niks gewaag het en die geld begrawe het ‘n slegte en lui slaaf. Wat het hy verkeerd gedoen? Hy het tog nie gesteel of was nie onverantwoordelik nie. Hy het nie ‘n enkele sent op homself spandeer nie – hy gee 100% van die geld terug. En Jesus sê dat hy sleg en lui was.

 

As ons praat van sleg dink ons gewoonlik aan iets verkeerd wat ons gedoen het. Volgens hierdie gelykenis is sleg net so van toepassing op iets wat ons nie doen nie as op iets wat ons wel doen. As ek nie my lewe volledig vir die koninkryk van God waag nie, is ons sleg.

 

Hoekom het hierdie derde slaaf anders as die ander twee opgetree? Kyk na sy reaksie op die eienaar: Meneer, ek ken u en weet dat u ‘n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie. Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug. Hy het nie sy eienaar se goedheid vertrou nie.

 

Elke groot waagstuk in God se Naam begin met vertroue in die goedheid en betroubaarheid van God. Die vrou met bloedvloeiing wat aan die soom van Jesus se klere geraak het, is genees, want sy het in Jesus se goedheid geglo (Lukas 8:45 – 46). Ons kan Hom nie beledig met groot versoeke nie.

 

John Newton, skrywer van Amazing Grace stel dit so:

Thou art coming to a King, so with thee large petitions bring!

For his grace and power are such, that none can ever ask too much.

 

image_pdfimage_print