Hiskia se tragiese dood

image_pdfimage_print

 

“As you walk through the valley of the unknown, you will find the footprints of Jesus both in front of you and beside you.” ~ Charles Stanley

 

Hiskia se tragiese dood

Dit maak ons mismoedig as ons sien hoeveel helde in die Bybel nie die eindstreep van geloof oorsteek nie. Dink maar aan Noag, Moses en Dawid. Hulle begin met sulke goeie bedoelings, maar kan nie tot die einde volhard nie.

 

‘n Voorbeeld hiervan in Koning Hiskia (1 Konings 19). God keer dat Sanherib met sy groot leër Jerusalem inval en vernietig – sonder ‘n enkele ongeval aan die kant van die Israeliete. As ons na die einde van sy lewe kyk is daar vir ons ‘n waarskuwing en ‘n belofte.

 

  1. ‘n Waarskuwing

Hiskia word ernstig siek – ‘n lewensbedreigende siekte (2 Konings 20). Die profeet Jesaja kom by hom: So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie. Hiskia is verpletter; hy draai sy gesig na die muur en bid tot die Here. God laat Hiskia nog 15 jaar lewe.

 

Hiskia se liggaam genees, maar sy geestelike lewe gaan agteruit. Toe die koning van Babilon van Hiskia se wondergenesing hoor, stuur hy gesante om Hiskia geluk te wens. In plaas daarvan dat Hiskia al die eer aan God vir sy genesing gee, wys hy vir die gesante al die skatte wat hy oor die jare bymekaar gemaak het.

 

Toe die gesante weg is, laat Jesaja vir Hiskia weet dat sy trots ernstige gevolge sal hê: al sy skatte sal na Babel weggedra word en sy seuns sal diens doen in die paleis van die koning van Babel. Hiskia se reaksie verstom ons: As daar maar net in my tyd vrede en veiligheid is! Dit is al wat vir hom belangrik is.

 

Hiskia het die toets van teenstand geslaag toe die vyandelike leërs Jerusalem bedreig het; Hiskia druip die toets van voorspoed. Hy wys vir ons dat dit maklik is om God se seëninge te ontvang … en al waaraan ons kan dink is ons eie gemak en behoeftes en eer.

 

Hoeveel Christene eindig nie hulle lewens soos Hiskia nie. Hulle vergeet dat God ons seën sodat ons vir ander tot seën kan wees. Solank as aan my behoeftes voldoen word, kan ek maar gelukkig sterf. Voorspoed is ‘n toets. Moenie dit gebruik om skatte vir jouself bymekaar te maak nie.

 

  1. ‘n Belofte

Waar Hiskia gefaal het, sal Jesus slaag. Toe Hiskia se lewe bedreig is, vra hy dat God hom moet genees – maar uiteindelik sterf hy. Jesus word gemartel en toe doodgemaak – maar Hy staan weer op uit die dood. Toe Hiskia hoor van probleme in die toekoms trek hy sy skouers op en sê: “Wie gee om vir toekomstige geslagte as ek net in vrede kan leef.” Jesus lê sy lewe neer sodat toekomstige geslagte kan leef. Hiskia gee nie om vir sy eie kinders nie; Jesus lê sy lewe af ook vir sy vyande.

 

En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is (2 Korintiërs 5:15).

 

image_pdfimage_print