Hoe om nie te bid nie (1)

image_pdfimage_print

 

He who does not believe is like one who must cross the sea, but is so timid that he does not trust the ship; and so he must remain and never be saved, because he does not embark and cross over –  Martin Luther.

 

Hoe om nie te bid nie (1)

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

Een dag het Jesus se dissipels die geleentheid gehad om Jesus te vra om hulle iets te leer. Jesus het hulle reeds vir ‘n geruime tyd onderrig. Toe Hy hulle met Volg My geroep het, het Hy nie bedoel dat hulle net sy onderrig moes volg nie – Hy wou gehad het hulle moes Hom letterlik volg. Dink net aan die voorreg om elke dag saam met Hom te loop; te hoor wat Hy sê; te sien wat Hy doen. Daar is so baie dinge wat hulle Hom wou en kon vra. Hulle kon vir Hom gevra het: “Here leer ons om water in wyn te verander;” of: “Jesus leer ons om op die water te loop.” Maar wat vra die dissipels? Here, leer ons bid (Lukas 11:1). Dit was die brandende vraag waarmee hulle Jesus genader het.

 

Hoekom het hulle nou juis hierdie vraag gevra? Moontlik het hulle die verband tussen Jesus se gebedslewe en sy mag, karakter en sy onderrig raakgesien. Hulle sou gesien het dat nadat hy by ‘n groot skare betrokke was Hy onttrek het. Maar Hy het nie onttrek net om te rus nie, maar om te bid. Ons weet uit sy gebed in die tuin van Getsemane dat Hy ernstig gebid het. Ons weet dat Hy sy dissipels gekies het nadat Hy die hele nag gebid het.

 

Geen wonder hulle vra Hom om hulle te leer bid nie. Maar hulle voeg nog ‘n stertjie by: soos Johannes ook sy volgelinge geleer het. Hulle het nie alleen gesien dat Jesus bid nie, maar ook Johannes en sy volgelinge het gebid. Baie van Johannes se dissipels het ook vir Jesus gevolg.

 

Gebed is belangrik. As ons in die geskiedenis teruggaan, sien ons dat gebed ‘n belangrike rol gespeel het wanneer die kerk gegroei het – tydens geleenthede van herlewing. Jesus kon vir sy dissipels gesê het om die Psalms – die gebedsboek van die kerk deur die eeue – te lees. Nee, Hy doen dit nie … Hy gee aan hulle die Ons Vader-gebed. Dit was die gebed wat Hy vir sy volgelinge gegee het.

 

Volgende keer kyk ons na die vooraf aanmerkings wat Jesus gemaak het voordat Hy vir hulle leer het hoe om te bid.

 

 

image_pdfimage_print