Hoekom ly gelowiges?

image_pdfimage_print

 

Till men have faith in Christ, their best services are but glorious sins. —Thomas Brooks

 

Hoekom ly gelowiges?

Niemand, ook nie gelowiges nie, is immuun teen krisisse in hulle lewens nie. Die boek Job help ons oor hoe om oor ons krisisse te dink. Job se lewe het ‘n tragiese wending geneem. Die boek gaan egter nie oor Job alleen nie, maar ook oor ons en veral oor God. Hoewel die boek ‘n uiterste krisis hanteer, wil dit nie ons lyding minimaliseer nie.

 

Ons kan nie lyding objektief meet nie. Dit maak nie saak hoe erg ons pyn en lyding is nie almal vra dieselfde vrae. Ongelukkig is daar baie vrae en min antwoorde. Dikwels sien ons nie antwoorde in Job nie, maar dit is omdat ons die verkeerde vrae vra. In Handelinge 3 lees ons van die verlamde bedelaar. Toe Petrus en Johannes daar verbykom, vra hy vir hulle geld. Petrus antwoord: Geld het ek nie, maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop. Die verlamde man het nooit eers daaraan gedink om vir genesing te vra nie. Wat ons vra, is dikwels te beperk om veel goed te doen.

 

Ons moet leer om beter vrae te vra, sodat ons meer betekenisvolle antwoorde kan kry. Die boek Job wys vir ons dat wat ons dink belangrike vrae is, nie betekenisvol genoeg is nie. Eers teen die einde van die boek leer ons wat werklik belangrike vrae is. Hoe leer ons dit? ‘n Hele reeks antwoorde. Die doel van al hierdie antwoorde is om ons te lei om die regte vrae te vra.

 

Hierdie boek gaan oor ons en God. Ons vrae oor lyding lei ons uiteindelik na God. As daardie moeilike tye in ons lewens kom, is daar niemand anders om te nader nie. As ek vra: “Waarom ek?” vra ek in werklikheid: “Hoe werk God?” Ek mag vra: “Hoekom verdien ek die lyding?” maar die ware vraag is: “Watter soort God is U?”

 

Anders as wat ons dink, is Job nie in die beskuldigdebank nie. Reg aan die begin verklaar alle partye dat hy onskuldig is. As Satan erken dat Job vroom en opreg is, bevraagteken hy egter Job se motiewe: “Job is vroom en regverdig, want God beskerm hom en sy huis en sy besittings – hy doen alles uit selfbelang.” Satan het geen bewyse vir hierdie stelling nie. Ook Job se vriende maak allerhande bewerings teen hom, maar hulle het geen bewyse daarvoor nie. Dit is nie Job wat teregstaan nie. Uit die proloog van die boek is dit baie duidelik dat dit God se beleid is wat bevraagteken word. Job is deel van die verhoor, maar hy staan nie in die beskuldigdebank nie.

 

Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie (Job 1:9). Satan lê klem op Job se motivering om God te dien. Hy glo dat God se houding teenoor die regverdiges ‘n insentief is vir die gedrag van regverdiges: die regverdiges ondervind voorspoed en die goddeloses kry swaar. Daarom glo Satan dat God se beleid in werklikheid teenproduktief is. Ons vra: “Hoekom ly regverdige mense?”; Satan vra: “Hoekom moet regverdige mense voorspoedig wees.” God aanvaar Satan se voorstel dat Job moet swaarkry en so begin Job se lyding.

 

Hierdie boek sê nie vir ons hoekom Job of enigeen van ons swaarkry nie. Die boek sê wel vir my oor hoe ek oor God moet dink as ek swaarkry. Dit is in ieder geval die antwoord wat ons nodig het. Hierdie boek wil ons denke oor God en die manier waarop Hy oor die wêreld regeer, verander. Die boek gee nie redes vir ons lyding nie; die boek probeer nie God se geregtigheid regverdig nie; die boek antwoord nie die “hoekom-vraag” wat ons so graag vra nie. Nee, ons moet God se wysheid vertrou.

 

Ons sal nooit in staat wees om God se geregtigheid te beoordeel nie. Om dit te kan doen het ons al die feite nodig – en ons het nooit al die feite nie. Ons bevestig dat Hy regverdig is deur ons geloof in sy wysheid. God se uitsprake aan die einde van die boek is nie ‘n verdediging van sy oordeel nie – dit beklemtoon sy wysheid en mag.

 

 

image_pdfimage_print