Hoekom moet ek wyd lees?

image_pdfimage_print

God is most glorified in us when we are most satisfied in Him – John Piper

Hoekom moet ek wyd lees?

Ons raak gemaklik as ons net binne ons eie kerkverband lees. Almal maak dieselfde gevolgtrekkings. Maar ons kan te stamgebonde word – ons plant ons pilaar in die grond en gebruik dit om ander mee aan te val. Ons moet wyd lees en dus ook wyd leer. Ons moet uit ons gemaksone kom.

  • My onderskeidingsvermoë

Dit is nogal uitdagend om deur ‘n boek te lees wat van my siening verskil. Dit dwing ons om te probeer agterkom wat die skrywer wil sê. Ons word gedwing om te probeer vasstel wat waardevol is en wat teen die Christelike leer is; dit verskerp ons onderskeidingsvermoë.

As ek net uit die een perspektief lees, verwerp ek onmiddellik dit wat nie inpas by my denke nie. As ek egter lees met die doel om te verstaan, verskerp my onderskeidingsvermoë. As ek net lees om iets af te breek, gaan ek niks leer nie.

  • My trots

Ek vertrou op my eie ondersoeke; ek glo dat ek alle kante regverdig ondersoek het. As ek wyd lees, word hierdie gevoel van meerderwaardigheid gekonfronteer. Ek besef dat ek van ander kan leer – selfs dié wat van my verskil.

  • My onkunde

Daar is niks wat my so nederig maak soos wanneer ek besef dat ‘n leerstelling waarvan ek verskil het omdat ek gedink het dat ek dit verstaan het, waar is. Hoe meer ons lees, besef ons dat ons dikwels premature gevolgtrekkings maak – ek oordeel oor dinge wat ek net oppervlakkig ken. Ek kan ook nie net op die oordeel van mense wat net soos ek dink vertrou nie. Ons moet leer van diegene wat ‘n spesifieke standpunt inneem. As ek wyd lees, mag ek uitvind dat daar ook ander dinge is wat ek moet oorweeg. Dit beteken nie dat ek my siening gaan verander nie, maar ten minste word my oortuigings deur deeglike studie ondersteun.

  • My familie

Daar is net een liggaam van Christus met baie lede. Dikwels word ons nederig as ons sien hoe diegene wat van ons verskil aan die Here toegewy is. Dit bemoedig ons ook, want wat hier werklik ter sake is, is ons liefde vir God en ons naaste. Jesus het immers gesê dat hoe ons teenoor ander optree ‘n onderskeidingsteken van sy dissipels is. As ek wyd lees, herinner dit my daaraan dat daar ook ander lede van die familie is – hulle studeer ook; hulle wil ook die waarheid ken; hulle is ook oortuig van hulle gevolgtrekkings.

Natuurlik is daar ‘n lyn wat ons nie kan oorsteek nie. Daarom lees wyd, soek vriende wat aan ‘n ander denominasie behoort, luister na wat hulle sê om van hulle te leer nie net om hulle te kritiseer en reg te help nie.

image_pdfimage_print