Hoekom moet ons bid?

image_pdfimage_print

A teacher who is attempting to teach, without inspiring the pupil with a desire to learn, is hammering on a cold iron. –Horace Mann, onderwyshervormer

 

Hoekom moet ons bid?

In die vorige blog het ons gekyk na vir wie ons moet bid en waarvoor ons moet bid. Ons kom nou by ‘n volgende vraag: Wat dryf ons om te bid? Die motivering vir ons gebede vir die wêreld is God se passie vir die wêreld. Paulus noem in 1 Timoteus 2:3 – 6 drie verskillende aspekte van sy teologiese motivering vir gebed.

  • Ons bid, want God wil hê dat alle mense gered word. Sodra ons vir alle soorte mense bid, kom ons hart in lyn met God se hart. Dit beteken nie dat alle mense gered sal word nie. Ons word net deur genade en geloof in Jesus Christus gered. Dit beteken nou nie dat God se begeerte – die redding van alle mense – gedwarsboom word nie. God is soewerein oor alle dinge. Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit (Job 42:2). Ons moet ons verantwoordelikheid en God se soewereiniteit saam sien – nie altyd so maklik nie. Wat hierdie woorde wel beteken, is dat God alle mense liefhet.
  • Ons bid, want God verdien die eer van alle mense. Daar is immers net een God. ’n Eenvoudige stelling met ‘n groot betekenis. Daarom verdien God die lof van alle mense. Daar is buiten My geen God nie; net Ek is ’n God wat regverdig is en red. Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde, want Ek is God, daar is geen ander nie (Jesaja 45:21 – 22). Ons vergader saam met ander gelowiges en verklaar dat daar net een God is. Ons sing dit; ons glo dit; ons bid dit. Dit is die hart van die Ons Vader-gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word. Ons verlang dat God verheerlik word.
  • Ons bid, want Christus het gesterf sodat mense gered kan word. Daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het. Hy het die prys vir ons verlossing betaal. Jesus is uniek – Hy is die volmaakte Middelaar, want Hy kan beide God en die mensdom verteenwoordig – Hy is volkome God en volkome mens. Jesus is ook uniek in wat Hy vir ons gedoen het – Hy gee Homself as losprys vir ons alhoewel Hy self sonder sonde was.

 

Soos ons bid vir alle mense, verkondig ons die evangelie aan alle mense. Ons weet dat God wil hê dat alle mense gered moet word en  dat Hy waardig is om geloof te word en dat Christus vir ons verlossing gesterf het – daarom moet ons hierdie goeie nuus met mense deel.

 

 

image_pdfimage_print