Jakobus 2:1–4: Wat is die implikasies

image_pdfimage_print

Jakobus 2:1–4: Wat is die implikasies

Uit Jakobus 2:6 is dit duidelik dat hierdie onderskeid wat gemaak word, die arm man oneer aandoen.

Die arm man se moontlikhede word in beide gevalle met die ryk man gekontrasteer: “hier” staan teenoor “daar” en “gerieflik” staan teenoor “die sit op die grond”. Sosiaal word daar dus gekommunikeer dat die arm man minderwaardig is.  Normaalweg kan daarvan uitgegaan word dat die meer eervolle plek die plek nader aan die huisheer of die leier van die gemeente is.  Die arm man wat buite in die binneplein moet gaan staan, word so afstandsgewyse van die eervolle plek af wegbeweeg.  Dat dit sosiale onderskeid beteken is duidelik.  As die man ’n plek in die kamer aangebied word, is dit op die grond – degradering van die arm man is duidelik.  Dit word wel nie in die teks gesê nie, maar word tog gesuggereer deur die feit dat die ryk man so ’n lekker sitplek gekry het. Die probleem hier is dus die sosiale aantasting van die arme bloot op grond van sy kleredrag en dit in ’n openbare plek soos die byeenkoms van die gemeente. Die plekke wat toegeken is, het die sosiale waarde van die persoon aangedui en op die wyse is die arme oneer aangedoen.  Dit kom neer op die perspektief waarmee daar na die gebeure in hierdie wêreld gekyk word. ’n Mens kan deur die oë en met die wysheid van ’n mens kyk – dan sien jy aardse rykdom en status raak; maar ’n mens kan ook deur die oë en met die wysheid van God kyk – dan lyk mense en wat hulle doen vir jou anders (sien Jakobus 3:13-18).  Dit is wat daar na alle waarskynlikheid bedoel word met die woorde: “Het julle nie dan mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?” (Jakobus 2:4).
image_pdfimage_print

You may also like...