Jesus se versoeking in die woestyn

image_pdfimage_print

 

To know what is right and not do it is the worst cowardice – Confucius

Jesus se versoeking in die woestyn

In ‘n vorige blog het ons gesien hoe Aäron op druk gereageer het. Met Jesus se versoeking in die woestyn kry ons ‘n teenoorgestelde reaksie op druk. Hierdie is Jesus se eie storie soos Hy dit aan sy dissipels vertel het. Ons kry dit opgeteken in Matteus, Markus en Lukas. Matteus en Lukas ruil die volgorde van die tweede en derde versoeking om. (Ons gaan Lukas se volgorde gebruik.)

 

Daar is baie vrae wat ons nie kan beantwoord nie. Het Satan sigbaar na Jesus gekom en hoorbaar dinge gesê? Was dit net gedagtes soos ons eie versoekings dikwels is? Wat belagrik is, is Lukas se afsluiting: Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus ‘n tyd lank met rus gelaat. Versoekings is iets wat gereeld kom.

 

Kom ons kyk nou van nader na hierdie versoekings:

Versoeking #1: Jesus was al veertig dae in die woestyn. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was. Satan sê vir Jesus dat Hy vir hierdie klip moet sê om ‘n brood te word. Hy wil hê God se koninkryk moet bonatuurlik in Jesus se fisiese behoeftes voorsien. Jesus sê dat dit verkeerd is deur na sy Vader se wil in die Skrif te verwys: ‘n Mens leef nie net van brood nie.

Versoeking #2: Satan sê dat hy aan Jesus die mag en majesteit oor al die koninkryke van die wêreld sou gee. Die voorwaarde: Jesus moes voor hom buig en hom aanbid. Satan is ‘n leuenaar. Hy het nie die reg om dit wat hy nie het nie, weg te gee nie. Jesus antwoord hom weer met ‘n aanhaling uit Deuteronomium: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Versoeking #3: Jesus staan op die hoogste punt van die tempel. Satan versoek Hom om daar af te spring. Jesus sien dit as sy roeping om ‘n geestelike koninryk te bring. Hier sien ons dat Satan hom op die Skrif beroep (Psalm 91:12) om sy voorstel te ondersteun. Jesus antwoord self uit die Skrif: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.

 

Satan wil elke keer hê dat Jesus die grense moes oorsteek. Maar Jesus is nie mislei nie. Hy hou voortdurend in gedagte wat die Vader se wil is. Satan, daarenteen, blaas die begeertes in die mens aan en buit dit uit. Dit is sy ou taktiek – moenie dat jou begeertes jou denke verwar nie.

Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood (Jakobus 1:14 – 15).

 

image_pdfimage_print