Kan die kerk die wêreld verander?

image_pdfimage_print

To progress is always to begin again (Martin Luther)

 

Kan die kerk die wêreld verander?

Die kerk wêreldwyd het amper twee biljoen vrywilligers wat net wag om gemobiliseer te word. Die kerk het die mannekrag – hulle moet net tot aksie oorgaan. Die kerk se opdrag is immers om die goeie nuus aan die wêreld te bring. Rick Warren sê ons moet die latente energie in gelowiges wat niks vir die koninkryk van God doen nie, loslaat.

 

 

Hy sê dat die kerk die liggaam van Christus is, maar dit lyk asof hierdie liggaam geen hande en voete het nie – meeste van die tyd net ‘n groot mond. Dit is tyd dat die mense hoor waarvoor die kerk staan – genade, deernis, barmhartigheid, vergifnis, verlossing en ‘n nuwe lewe in Jesus Christus. Dit is nie nodig om te sê waarteen die kerk is nie – almal weet dit.

 

Jesus sê aan sy dissipels: Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom (Markus 16:15). Die kernwoord is: Gaan. Jesus sê vir ons om te gaan – nie net vir die sendelinge  nie. Natuurlik het ons professionele mense nodig, maar ons kan nie verwag dat hulle ons werk vir ons moet doen nie. Jesus sê: Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Handelinge 1:8). Wat is ‘n getuie? Iemand wat sy/haar storie vertel: “Dit is wat ek gehoor het; dit is wat ek gesien het; dit is wat met my gebeur het.” Niemand anders kan jou storie vertel nie en jy het ook geen spesiale opleiding nodig om jou storie te vertel nie.

 

Maar is Jesus se opdrag in Handelinge 1:8 op ons van toepassing?Jesus is hier besig om sy plan uit te lê. As Hy sê gaan na Jerusalem sê Hy dat ons met ons familie, vriende en medewerkers moet begin. Judea is die gebied waar jy leef. Samaria is ook mense wat in jou buurt woon, maar kultureel verskil hulle van jou. Jesus sê: Gaan na mense wat anders as jy is. Laastens sê Hy dat ons tot in die uithoeke van die wêreld moet gaan. Dit beteken alle ander mense – nou beweeg jy uit jou gemaksone. Ons moet dissipels van al die nasies maak.

 

Wat is ons veronderstel om te doen as ons vir Jesus gaan. Ons moet doen wat Hy gedoen het. Hy het nie net gepreek nie; Hy het die onderdruktes, armes, siekes, bejaardes, blindes en melaatses versorg. Hy het omgegee vir mense met geestesongesteldhede, die weduwees en wese, diegene in tronke en die haweloses. Jesus gee om vir mense wat die wêreld graag wil vergeet. Die grootste probleme van die wêreld in Jesus se tyd is steeds die grootste probleme vandag: geestelike leegheid, egosentriese leierskap, armoede, siekte en ongeletterdheid – die reuse.

 

Hoe het Jesus hierdie reuse aangevat? Hy het vyf dinge gedoen wat Hy wil hê dat sy volgelinge steeds moet doen. Dit is:

  • Hy plant geloofsgemeenskappe. As ons die liefde van God met miljoene mense wil deel, moet ons bestaande gemeentes help, maar ook nuwe geloofsgemeenskappe vestig. Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? (Romeine 10:14).
  • Hy rus dienaarleiers toe. Dwarsdeur duie wêreld is daar leiers wat hulle mag misbruik – hulle gebruik nie hulle mag vir hulle mense nie, maar vir hulleself. Daarom moes die volk weg, moes hulle in ellende beland soos skape wat nie ‘n wagter het nie (Sagaria 10:2); Leiers moet korrupsie met wortel en tak uitroei. Goeie leiers is altyd eerlik. ‘n Leier moet die waarheid liefhê. Vir eerlike mense moet hy respek hê (Spreuke 16:12 – 13 – Die Boodskap).
  • Hy help die armes. Meer as helfte van die mense op aarde oorleef op minder as $2 per dag; ‘n biljoen mense woon in krotbuurtes. WorldVision sê dat 600 miljoen uit armoede kan losbreek as iemand net bereid sou wees om vir hulle ‘n klein lening te gee. ‘n Gelowige weet dat hy ‘n arm mens moet help. ‘n Slegte mens steur hom nie aan die armes nie. Hy sal hulle nooit help nie (Spreuke 29:7 – Die Boodskap).
  • Hy versorg die siekes. Miljoene mense, veral kinders, sterf nog jaarliks aan voorkombare siektes. Die grootse oorsaak vir kindersterftes is onsuiwer water. Ons weet mos hoe om water te suiwer.
  • Hy onderrig die volgende geslag. Geen land kan sterk wees as hy nie sykinders opvoed en onderrig nie; geen land kan groei as sy burgers nie kan lees nie. Meer as die helfte van die wêreldbevolking is nog ongeletterd.

 

Rick Warren noem dit die PEACE plan (plant, equip, assist, care, educate). Dit is ‘n beweging vir gelowiges – alle gelowiges en nie net leraars nie. Dit gaan oor alle gelowiges in elke gemeente wat doen wat Jesus gesê het, gedoen moet word. Dit gaan oor gemeentes wat saamwerk om hierdie vyf reuse in hulle samelewing aan te pak. Die huidige gehoor moet in ‘n leër verander word, verbruikers in bydraers, toeskouers in deelnemers.

 

Net die kerk deur die krag van die Heilige Gees kan dit doen – geen regering nie. net die kerk het die mannekrag – twee biljoen vrywilligers wat wag om gemobiliseer te word. Net die kerk het die mag van die Heilige Gees om hom te bemagtig.

 

Jesus het ons beveel om dit te doen. Sal ons doen wat Hy beveel het? Lees net weer Psalm 67:3: Almal op aarde moet sien hoe groot en goed U is. Volke wat U nie ken nie, moet besef dat U mense red (Die Boodskap). God wil al sy kinders gebruik om die wêreld vir Jesus Christus te bereik. Mense moet besef dat die grootste avontuur vir ons is om deur God gebruik te word.

As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig verloor. As jy egter bereid is om alles wat Ek vra vir My te gee, al is dit ook jou lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig behou. Jy moet die keuse doen (Markus 8:35 – Die Boodskap).

 

image_pdfimage_print

You may also like...