Kan ons iets by boere leer?

image_pdfimage_print

Don’t believe everything you think. You cannot be trusted to tell yourself the truth. Stay in The Word. —Jerry Bridges

Kan ons iets by boere leer?

Greg Stier van Dare 2 Share Ministries, wat veral met tieners werk, wys daarop dat Jesus die beeld van ‘n boer gebruik het toe Hy aan sy dissipels vertel het hoe om meer doeltreffend te evangeliseer.

‘n Saaier het eendag gaan saai (Markus 4:3). Die gelykenis van die saaier is ‘n kragtige gelykenis oor hoe ons doeltreffend kan saai en resultate kan sien. In hierdie gelykenis leer ons ten minste drie dinge oor evangelisasie.

  • Hoe suiwerder die saad, hoe beter die resultate

Suiwer saad = goeie oes.  Suiwer saad moenie plantoorblyfsels, dooie of stukkende saad, onkruid, peste of siektes bevat nie. Hoe dikwels bevat ons verkondiging van die evangelie nie allerhande onkruid en gifstowwe nie. Wat veral algemeen is, is die werke plus genade mengsel. Paulus was absoluut teen die saai van hierdie soort saad: Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref! (Galasiërs 1:8). Baie sterk woorde. In werklikheid sê hy, maak nie saak wie saai nie, maar as die saad nie suiwer is nie, moet dit verwerp word.

 Ons moet ons evangelieboodskap suiwer hou. Dit gaan nie oor wat ek vir God kan/moet doen nie, maar oor wat Hy reeds vir my gedoen het. Dan sal ons ‘n groter oes hê. Verlossing is genade  – dit is gratis en word deur God se genade moontlik gemaak. Ons moet net op Hom vertrou. Dit is wat saad goed, suiwer en produktief maak.

Suiwer saad = goeie oes.

 

  • Gaan vir dié wat groei en bid vir die ander

Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig (Markus 4:20)

As jy die evangelie verkondig sal sekere mense dit verwerp – die saad het op die pad geval; ander lyk asof hulle dit aanvaar het, maar verloor gou entoesiasme – die saad het op ‘n klipbank of tussen die onkruid geval. Daar is egter sommiges wat dit aanvaar en hulle versprei die boodskap aan die mense om hulle.

 Wat beteken dit vir ons? Fokus op diegene wat groei en bid vir diegene wat nie groei nie. Ons spandeer so dikwels die meerderheid van ons tyd aan diegene waar groei nie plaasvind nie. Ons moet fokus op diegene wat gereed is om te groei. Dit is wat Jesus gedoen het. Hy het die skares bedien, maar sy lewe en tyd in sy dissipels belê. Die gevolg is ‘n oes wat wêreldwyd ontplof het – lees net Handelinge.

  •  Hou aan saai

As saaiers van verlossing is ons taak om aan te hou saai. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei (1 Korintiërs 3:6 – 7). Ons saai, ons gee water, maar God laat groei. Ons verkondig Christus, ons leer die waarheid, maar God laat groei en vermeerder.

 

Hoe getrou is ons om te saai? Wanneer laas het jy ‘n handvol saad gegryp en dit in jou buurt of skool of werkplek uitgegooi? Dra die goeie nuus uit. Saai die goeie saad. Doen dit met liefde, teerheid en respek en kyk hoe die saad begin groei.

image_pdfimage_print