Kategese in die Nuwe Testament

image_pdfimage_print

One who condones evils is just as guilty as the one who perpetrates it. -Dr. Martin Luther King Jr.

Kategese in die Nuwe Testament

Believe me … the Church of God will never be preserved without catechesis (Calvyn)

In J. I. Packer en Gary A. Parrett se boek Grounded in the Gospel sê hulle dat kategese ‘n integrale deel van die Christelike groeiproses is. Omdat kategese in baie gemeentes nie meer belangrik is nie, kry ons ‘n geleidelike toename in Bybelse ongeletterdheid.

 

Kategese is maar een van baie woorde wat in die NT vir onderrig gebruik word. Dit beteken eenvoudig om inligting oor te dra. Paulus gebruik die woord altyd om te verwys na onderrig oor die inhoud van die geloof: Maar in die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te onderrig, as duisend woorde in ongewone tale of klanke (1 Korintiërs 14:19). In Handelinge 18:25 sien ons iets van die tegniese gebruik van die woord kategese: Hy (Apollos) het in die leer van die Here onderrig ontvang.

In Handelinge 2:42 lees ons van die eerste bekeerlinge: Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels. Hierdie leer sou ongetwyfeld op die evangelie van Jesus Christus en ander noodsaaklike elemente van die geloof gefokus het. Dit berus op die apostels se uitleg onder leiding van die Heilige Gees.

Kategese het nie net met nuwe dinge te doen nie – veral as ons by die inhoud van dit wat oorgedra moet word, kom. Die inhoud gaan oor die belangrike waarhede wat eens aan die apostels gegee is. Ons moet toegewyd hierdie leer van die apostels bestudeer en aan ander oordra. Elkeen wat nie by die leer oor Christus bly nie, maar daaraan verander, erken God nie. Wie in die leer bly, erken sowel die Vader as die Seun (2 Johannes :9).

Ons sien dus dat kategese die doelbewuste oordra van die geloof behels. Dit word nie net gedoen sodat gelowiges dit verstandelik kan verstaan nie, maar dit word veral gedoen vir die holistiese transformasie van gelowiges en die gemeenskap.

Kry ons spesifieke kategetiese dokumente in die Nuwe Testament?  In wese is alle Nuwe Testamentiese  geskrifte belangrike dokumente vir onderrig. Die evangelies word dikwels as die beginpunt beskryf. Elke evangelie gee ‘n verslag van Jesus Christus se lewe en onderrig vir ‘n spesifieke geloofsgemeenskap. Die inhoud van die evangelies is Christosentries – wie Jesus Christus was, hoe hy geleef, gesterwe en opgestaan het en wat Hy vir sy dissipels geleer het.

Ook wat die proses wat gevolg moet word, betref, volg die evangelies ‘n narratiewe benadering. Die beklemtoon die verhaal van Jesus Christus. In die briewe kry ons dikwels ‘n reaktiewe benadering – die skrywer reageer op een of ander probleem in die gemeente. Maar in sommige briewe kry ons duidelik ‘n proaktiewe benadering waar ‘n geestelike, morele en teologiese fondament gelê word om gelowiges te help. Goeie voorbeelde van hierdie benadering is die briewe aan die Romeine, Efesiërs en Kolossense. Die doel is om mense tot geestelike volwassenheid te lei. Hierdie drie briewe vul mekaar aan en hanteer elk ‘n ander element van die waarheid.

Kry ons sekere opdragte aangaande kategese in die Nuwe Testament? In beide die Ou en Nuwe Testament word ouers aangesê om hulle kinders te onderrig: En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil (Efesiërs 6:4). Veral in die pastorale briewe is daar baie opdragte en oproepe om te onderrig. In veral in die briewe aan Timoteus en Titus word onderrig as die sentrale deel van hulle bediening gesien. Ook ouderlinge moet bekwaam wees om te onderrig (1 Timoteus 3:2).

Vandag is daar baie predikers wat nie meer die sentrale rol van onderrig insien nie. Maar ons model vir onderrig is Jesus Christus. Hy het ook aan ons die mandaat om te onderrig gegee. Hy was die Leermeester van die leermeesters. Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels sluit onder andere in: Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:20). Dit vereis toegewyde, sistematiese en betekenisvolle onderrig.

image_pdfimage_print

You may also like...