Kinders en die evangelie

image_pdfimage_print

 

Salvation is not a reward for the righteous, but a gift for the guilty. —Steven Lawson

 

Kinders en die evangelie

Wat hoor ons kinders? Die evangelie of ‘n klomp Bybelstories? Ons praat baie oor die kontekstualisering van die evangelie: hoe verkondig ons die evangelie in spesifieke plekke vir spesifieke mense  met ondervindings wat hulle gedeel het? Die evangelie verander nie. Daarom bly die boodskap dieselfde, maar die metodes word vir doeltreffendheid aangepas.

 

Maar hoe verkondig ons die evangelie vir kinders? Kontekstualiseer ons ons boodskap vir hulle? Ed Stetzer sê dat ons onderrig vir kinders dikwels bestaan uit ‘n aantal geïsoleerde stories – ‘n aantal sedelesse. Ons leer ons kinders om goed te leef – daarom gebruik ons stories uit die Bybel van mense wat die regte dinge gedoen het. Ons hoop hulle aanvaar die idee dat God goed is en dat dit tot sukses lei.  Ons leer dat Satan sleg is en net tot mislukking lei. As die kinders die storie kan oorvertel, voel ons dat hulle die evangelie verstaan.

 

Kerke het baie goeie stories vir kinders vertel, maar het ons vir hulle dié Storie vertel? Dit is maklik om die stories te vertel, maar in die Bybel is daar ‘n groter storie. In hierdie groot storie is daar basies vier tonele: Skepping, Sondeval, Verlossing, Herstel. Leer ons dit vir ons kinders en hoe moet ons dit vir hulle leer? Ons wil tog hê dat ons kinders die volle storie moet hoor en nie net een of twee waarhede nie.

 

Die evangelie is nie net ‘n klompie idees nie – dit is ‘n plan wat ontwerp en geïmplementeer is deur ‘n liefdevolle God met die doel om mense te verlos. Christian Smith sê dat die oorheersende godsdiens in on huidige kultuur is moralistiese terapeutiese deïsme (net ‘n akademikus kan so ‘n naam uitdink.) Moralisme (God wil hê dat ek ‘n goeie persoon moet wees), terapeuties (dit maak van jou ‘n beter persoon) en deïsme (ek glo daar is ‘n God daar buite wat iets doen). Hierdie mense kry hulle teologie uit verskillende bronne insluitend die Bybel, maar hulle kies stories in die Bybel wat by hulle wêreldsiening inpas en neem die moraliteit wat hulle in daardie storie kry aan. Dit laat hulle beter voel. Sending voltooi.

 

Maar dit is nie ons sending nie. Die evangelie is dat sondaars gered is en deel van ‘n geloofsgemeenskap is wat mekaar toerus en na ander sondaars uitreik om aan hulle die storie van die Verlosser te vertel. Dit is die storie wat ons moet vertel … ook aan kinders.

 

Kinders is nog besig om te leer hoe om te leer, maar dit moet ons nie terughou om die hele plan van God met hulle te deel nie. Toe Jesus oor die aanvaarding van die evangelie gepraat het, het Hy gesê ons moet weer soos kindertjies word. Kinders kan die dinge van God hoor en dit glo. Daarom moet ons eerlik met hulle wees oor die evangelie. Dit sal meer sin maak as ons dit holisties oordra en dit sal ‘n groter impak op hulle lewens hê.

 

Daar is baie hulpbronne beskikbaar om kinders die hele storie van die Bybel te vertel. Kry hulle in die hande en vertel vir hou kinders die hele Storie van die Bybel.

 

image_pdfimage_print