Kleipotte wat maklik breek

image_pdfimage_print

“When both parties are right, it’s a bad day for ‘right.’” ~ Yiddish Proverb

Kleipotte wat maklik breek

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie (2 Korintiërs 4:7).

God maak dit baie duidelik: die rede waarom Hy gewone mense gebruik om die bonatuurlike werk – om die evangelie te versprei – te verrig, is sodat sy mag en heerlikheid duidelik word en sodat ons vertroue nie in onsself is nie, maar in Hom alleen. Dikwels gebruik God gewone, swak mans en vroue  om sy werk te doen.

Dit is een van die baie maniere waarop God se gedagtes en optrede nie ons gedagtes en optrede is nie (Jesaja 55:8 – 9). Jesus se roeping van sy twaalf dissipels is ‘n goeie voorbeeld hiervan: In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. Toe dit dag word het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het. Hulle was Simon, wat Hy ook Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat die verraaier geword het (Lukas 6:12 – 16).

 Nadat Jesus die hele nag gebid het, kies Hy sy twaalf dissipels – vir Homself, vir sy doel. Hy noem hulle  ook apostels – sy amptelike verteenwoordigers. Maar wie was hierdie manne op wie Christus sy kerk wou bou? Hoogs geleerde mense? Mense wat goed kon praat? Nee, doodgewone manne – manne met baie gebreke.

  • Simon/Petrus was ‘n visserman. Hy was ‘n man van uiterstes en baie sterk emosies. Soms vertrou hy vir Jesus, maar ander kere twyfel hy aan Jesus – hy verloën Hom drie maal. Op pinksterdag verander die Heilige Gees hom  in ‘n kragtige leier en prediker.
  • Andreas, Petrus se broer, het Jesus eerste gevolg. Hy was ook ‘n visserman en hy het sy broer na Jesus gebring.
  • Jakobus en Johannes was ook vissermanne – vurig van geaardheid. Jesus noem hulle die seuns van die donder.
  • Filippus bly in dieselfde dorp as Petrus en Andreas. Hy het Natanael aan Jesus voorgestel. Toe hy voor 5 000 honger mans te staan kom, het hy nie vertroue in Jesus nie. Hy is oortuig dat daar geen manier was waarop hulle hierdie mense kon voed nie.
  • Bartolomeus, ook Natanael genoem, kon nie glo toe hy Jesus ontmoet het dat daar iets goeds uit Nasaret kon kom nie.
  • Matteus was ‘n tollenaar – gehaat deur alle Jode. Toe Jesus hom roep, los hy sy winsgewende besigheid om Jesus te volg.
  • Tomas staan vir altyd bekend as “twyfelende/ongelowige Tomas.” Hy het nie onmiddellik geglo dat Jesus wel opgestaan het nie Hy was ‘n toegewyde man, maar het dikwels ook wanhopig gevoel.
  • Jakobus die seun van Alfeus was waarskynlik baie kort.
  • Simon die Seloot was ‘n voormalige lid van hierdie rebellegroep  wat terreur teen die Romeinse regering versprei het.
  • Judas die seun van Jakobus staan ook as Taddeus bekend. Hy wou gehad het dat Jesus meer in die kollig moes gewees het.
  • Judas Iskariot wat Jesus verraai het. Hy was ‘n bose, selfsugtige mens. Hy het geld liefgehad en ‘n vrou tereggewys het wat duur olie gebruik het om Jesus se voete mee te salf.

 Daar is niks spesiaal aan hierdie mense nie – geen groot kanonne nie. Hulle was gewone, alledaagse mense. Maar tog het hulle iets gehad wat ‘n verskil gemaak het. Wat was dit? In Handelinge 4:13 lees ons: Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus.

 Gewone mense, maar kosbare mense vir die Verlosser. Dink maar net hoe het Jesus vir hulle gebid die nag voor Hy deur Judas verraai is (Johannes 17:6 – 18). Hier lees ons van Jesus se liefde en deernis vir hierdie “gewone” mense. Jesus gaan verder: Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom (17:20) – Hy bid ook vir jou en vir my.

 Hierdie kort oorsig oor die twaalf apostels behoort ons te bemoedig. God soek nie supersterre nie – Hy soek gewone, alledaagse mense wat hulle volledig aan Hom en sy koninkryk sal oorgee. Hy gee aan ons die regte geestelike gawes om sy werk te doen. Hy het ook sy Heilige Gees aan ons gegee – die ware krag agter alles wat ons doen om God te verheerlik.

image_pdfimage_print