Laat sy Liefde jou Lei: Hoe hardloop jy jou wedloop?

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Hoe hardloop jy jou wedloop? – Milanie Vosloo

Hoe hardloop jy jou wedloop?

“ … Om My te volg is nie altyd maklik nie.” Markus 8:34B

Die lewe is nie ’n oefenlopie nie. Ons is nie net hier vir een van vele oefensessies voordat ons eendag aan die finaal gaan deelneem nie. Ons is rééds besig met ons finale wedloop van die lewe. En die manier hoe ons hier hardloop gaan bepaal watter kroon ons eendag ontvang.

Die vereistes vir hierdie wedloop is tegelykertyd eenvoudig en maklik en soms baie baie moeilik en ingewikkeld. Die eenvoud lê in die feit dat al wat gemeet gaan word ons liefde is. Die mate waartoe ons ons Vader, onsself en ander liefgehad het gaan eenvoudig eendag gemeet word wanneer ons ons hemelse erkenning kry. Dis die eenvoudige boodskap van die evangelie. En maklik klink dit … totdat ons begin om dit te leef. Dan kom ons agter hoe ingewikkeld hierdie liefhê-wedloop regtig kan wees en hoe moeilik dit met tye is om vol te hou daarmee. Ja, die hekkies van selfsug en die versperrings van gerief lê verhinder ons so maklik om werklik voluit in die liefdeswedloop te hardloop. Keer op keer struikel ons oor een van ons sondes en mensheid op ons pad wenpaal toe.

Daar is maar net een manier om die wedloop van die liefde struikelvry te hardloop en dit is om ons hand stewig in dié van ons Vader te hou. Hy alleen is in staat om ons oor elke versperring te help.

Vader-God, uit myself kan ek nie met oorgawe liefhê nie. Met U kan ek dalk nog vorder.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...