Leef uit jou Doop: 3.3 Die verband tussen die doop en geloof

image_pdfimage_print

Leef uit jou Doop: 3.3 Die verband tussen die doop en geloof – Adrio König

3.3 Die verband tussen die doop en geloof

Dis merkwaardig in watter noue verband die doop en die geloof werk. Kom ons kyk in meer besonderhede daarna. Omtrent alles wat aan die doop toegeskryf word, word ook aan die geloof toegeskryf.

Heilswerk Deur die doop Deur die geloof

  • Vereniging met  Christus Gal 3:27 Ef 3:27
  • Vereniging met sy dood en opstanding Rom 6:1 ev Gal 2:19-20
  • Regverdiging 1 Kor 6:11 ev Kol 2:12; Rom 8:12-13
  • Vergifnis van sonde Hand 2:38 1 Joh 1:9
  • Reiniging van sonde Hand 22:16 1 Joh 1:9
  • Weergeboorte en die nuwe lewe Tit 3:5; Joh 3:5 Joh 3:14, 16; 20:31
  • Die verskillende verbande waarin die doop voorkom
  • Redding 1 Pet 3:21 Rom 1:16; Ef 2:8

Eenvoudig omtrent al die heilsbegrippe kom in hierdie lys voor. Dit beteken dat God die volle heil wat Christus vir ons verdien het, deur die geloof en die doop aan ons gee. Is dit vreemd dat die doop en die geloof selde saam genoem word? Of is daar eenvoudig ’n versweë aanname agter hierdie uitsprake sodat die doop veronderstel word as daar na die geloof verwys word, en andersom? Die enkele kere waar hulle wel saam genoem word, bevestig dit. Kolossense 2:12 is een van die min voorbeelde: “Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Christus begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.”

So ’n uitspraak gee ons die vrymoedigheid om te aanvaar dat Paulus inderdaad in ’n gedeelte soos Romeine 6, waar hy net die doop noem, inderdaad ook die geloof daar by bedoel. En ander uitsprake waar dit weer net oor die geloof gaan, veronderstel dan weer die doop. In Galasiërs 2:19-20 skryf Paulus dat hy saam met Christus gekruisig is, en dat Christus nou in hom leef. Maar hy noem net die geloof (v 20). Maar dis dieselfde as wat hy van die doop skryf in Romeine 6. Ons kan dus aanvaar dat hy ook in Galasiërs die doop bybedoel. En dit geld ook vir ons deelname aan Christus se opstanding deur die geloof (Ef 2:4-8).

Die ou mense sal verstaan as ’n mens skryf die doop en die geloof is soos twee karperde wat saam die kar trek.

“Samewerking” tussen God en mens?

Dit is ’n vraag of ons uit die noue verband tussen doop en geloof ook die volgende kan afl ei. Ons het gesien dat dit in die doop om God se werk gaan. Ons weet dat dit in die geloof om ons antwoord aan Hom gaan. Sou dit dus beteken dat die noue verband tussen doop (God se werk) en geloof (ons antwoord aan Hom) beteken dat dit gaan om die “samewerking” tussen God en ons, om die feit dat

God in ons lewe inkom (die doop), en ons daarop moet antwoord (die geloof)?

Die vraag is maar net wat ons onder “samewerking” ver staan. Want eintlik is ons geloof glad nie ons bydrae nie. Ons het trouens geen bydrae nie. God doen alles. Hy het deur Jesus volkome voorsiening vir ons redding gemaak. Deur die doop skenk Hy ons die redding. Ons geloof is ons “dankie” vir wat Hy gedoen het, nie ons bydrae wat sy werk moet aanvul nie.

“Samewerking” kan dus nie ’n 50/50-verhouding wees of ’n 90/10-verhouding nie. Dit is nie eens ’n 99/1-verhouding nie. Ons praat graag van ons geloof as “leë” geloof. Dit beteken daar is geen bydrae van ons kant in nie. Dis net ’n “dankie” omdat Hy alles gedoen het. Ons geloof is immers niks anders nie as ons antwoord op God se voltooide heilswerk in Christus. Wanneer ons in Christus se verlossing glo, glo ons in ’n volkome, volmaakte verlossing. As ons daarin glo, is dit juis omdat ons niks van ons kant het om by te dra nie.

Maar intussen moet ons nie té bang wees vir die woord “samewerking” nie, al sit ons dit doelbewus in aanhalingstekens. As ons dit reg verstaan, is dit ’n gepaste woord vir die verbondsverhouding tussen God en ons. Immers ’n verbond het twee kante. As ons nooit reageer (dan kie sê) op die genade van God nie, is ons verlore. God gee ons in die doop die redding, die volle heil, maar as ons

dit nie aanvaar nie, is ons verlore. Ons dankie is dus nie ons bydrae nie, dis ons erkenning dat ons niks het nie, dat al les van Hom af kom. Miskien moet ons van “ongelyke samewerking” praat. Genesis 17 is ’n goeie voorbeeld.

♦ Die inisiatief kom van God se kant af. God kom na Abraham, Abraham gaan smeek nie by God om na hom te kom nie.

♦ God kondig die verbond eensydig aan. Dis nie ’n onderhandeling tussen Hom en Abraham nie.

♦ God kondig selfs al die besonderhede alleen aan, en dit terwyl Abraham op sy knieë val.

♦ Vir 16 verse lank is dit net God wat praat, en van Abraham lees ons net die een sinnetjie: “Abram het op sy knieë geval.”

Dis hoe die “samewerking” tussen God en mens werk. Eintlik kom alles van God se kant. Maar Abraham moes wel op sy knieë val. Dit is seker bedoel as die aanduiding dat hy aanvaar het wat God eensydig afkondig. Dit is geloof.


leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...