Leef uit jou Doop: 8.2 Lidmate se behoefte

image_pdfimage_print

Leef uit jou Doop: 8.2 Lidmate se behoefte – Adrio König

8.2 Lidmate se behoefte

Kom ons gaan nou terug na die lidmate in die historiese kerke wat nog ’n keer gedoop wil word. Wat vra hulle eintlik? Uit die ondersoek waarna reeds verwys is, het dit duidelik geword dat daar eintlik hoofsaaklik twee groepe is,

 

♦   Die groep wat die kinderdoop verwerp

♦   Die groep wat nog die kinderdoop aanvaar, maar iets ekstra soek.

 

Die tweede groep het meer as die helfte van die steekproef verteenwoordig (53%) wat beteken meer as die helfte van die lidmate wat oorgedoop is, erken nog die betekenis van die kinderdoop!

 

Wat gaan hier aan? Eintlik is dit nie so vreemd nie. Wat hulle soek, is presies dit waarvan hulle by die Pinksterkerke hoor: ’n bekeringsdoop. Ons het vroeër al gesien die Pinksterkerke het ’n ander siening van die doop as die Gereformeerde wêreld (1.3). Hulle praat graag van bekeringsdoop of belydenisdoop of geloofsdoop. Al hierdie terme wys in dieselfde rigting: Dit gaan in die doop oor wat ons doen, ons geloof, ons belydenis, ons bekering. Daarteenoor staan die betekenis wat ek meen ons in die Bybel kry: Die doop as God se werk in ons lewe.

 

Sommige van die NG Kerk se lidmate kry nou ’n besondere geestelike ervaring. Hulle kom vir die eerste keer tot ’n ware oorgawe aan die Here Jesus, of hulle kom tot ’n geestelike verdieping. En nou wil hulle daarvan getuig. En hulle het by Pinkster gehoor as jy jou bekeer, moet jy gedoop word om te getuig van jou bekering en jou geloof. Hulle lees dan ook in die Bybel elke keer van mense wat tot geloof gekom en hulle bekeer het en wat dan gedoop word. En hulle verstaan dit in die lig van die Pinksterkerke se bekeringsdoop.

 

Dit is volkome verstaanbaar dat sulke persone dan vra om gedoop te word. Hulle is volkome oortuig dit is die wil van die Here. Hulle voel hulle kry dit direk uit die Bybel.

 

Intussen aanvaar die helfte van hulle nog hulle kinderdoop. Waarom? Waarskynlik onthou hulle nog iets daarvan dat die Here in hulle (kinder-)doop sy hand op hul le lewe gelê het. En nou voel hulle waarskynlik dat die doop waarvoor hulle nou vra, direk hierby aansluit: Hulle wil nou antwoord op God se inisiatief in hulle eerste doop, hulle wil nou bely dat hulle eerste doop in hulle lewe ’n werklikheid geword het, dat hulle hulle bekeer het. Dit is dan ook presies wat die Pinksterkerke hulle bied: ’n bekeringsdoop.

Waarom gee ons dit nie self vir hulle nie?

 

 

leefuitjoudoop

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...