Liefde van die begin af

image_pdfimage_print

 

Christianity is, in its very essence, a religion of the Word of God (John Stott)

 

Liefde van die begin af

Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie” (Eksodus 34:5 – 6).

By Sinai wys God ‘n deel van sy heerlikheid aan Moses. God gee in hierdie verse ‘n beskrywing van Homself. God ontken nie dat Hy kwaad oor die sonde is nie, maar as Hy Homself openbaar, waarvan praat Hy heel eerste? Hy praat eerste van sy liefde. Is sy liefde net vir baie goeie mense? Nee, sy liefde vergewe diegene wat teen Hom in opstand was. Daar is dus hoop vir almal van ons wat sondig. God praat eerste van sy genade en deernis wat na ons toe uitreik ten spyte van ons sonde.

 

God bewys sy liefde vir ons nie net in woorde nie, maar ook in dade – van die begin af. Die Skepping was ‘n liefdesdaad. Toe God alles gemaak het, het Hy na alles gekyk en dit was baie goed (Genesis 1:31). Nadat God alles gemaak het, maak God die mens om in hierdie mooi en goeie huis te woon. [Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers  oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip (Genesis 1:25 – 26)]. As beeld en verteenwoordiger van God kan die mens op God en sy dade reageer – meer so as enige dier.

Daar is egter een ding in die skepping wat nie goed was nie. Dit is nie goed dat die mens alleen is nie (Genesis 2:18). God besef dat dit nie goed was vir Adam om alleen te wees nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke (Genesis 2:18). God maak hulle as ‘n gawe vir mekaar. Uit die vreugde van hulle eenheid word kinders gebore – ‘n verdere gawe van God. Ten spyte dat Adam en Eva God se gebod verontagsaam het, het God vir hulle in die tuin kom soek. Hy het selfs vir hulle velklere gemaak (Genesis 3:21).

 

Die heelal is veel groter as ons klein mensies, maar God kies om spesiale aandag aan die mens te gee. Hieroor kan ons maar net in verbasing staan. God het ons lief – van die begin af.

 

image_pdfimage_print