Logika en die Bybel

image_pdfimage_print

 

The Bible is a letter God has sent to us; prayer is a letter we send to him. —Matthew Henry

 

Logika en die Bybel

Daar is baie van die sogenaamde “nuwe Ateïste” wat beweer dat godsdiens anti-intellektueel is – met ander woorde logika speel geen rol in die lewe van ‘n Christen nie. Is dit waar? Een bron definieer logika as die ontleding en oorweging van argumente. Argumente is nie net ‘n stryery nie, maar beteken ook beredenering ter ondersteuning van ‘n gevolgtrekking. Een denkfout wat ons dikwels maak, is om twee uiterste alternatiewe as enigste alternatiewe aan te bied. So ‘n denkfout is ‘n oortuigende argument wat berus op vals of ongeldige afleidings.

Dat ons argumente in die Bybel kry, is nie verbasend nie, want die Bybel beskryf tog die mens se lewe – al die goeie en die slegte. ‘n Goeie voorbeeld kry ons in 2 Samuel 17:1 – 14. Absalom begin ‘n opstand teen die koning – sy vader Dawid. Hy dwing Dawid om uit Jerusalem te vlug. Hy besef egter dat solank as wat Dawid leef sy magsposisie onseker is. Hy vra raad van Agitofel (16:23). Hy konsulteer ook vir Gusai. Dié gee presies die teenoorgestelde raad aan Absalom. Argitofel sê dat Dawid onmiddellik agterna gesit moet word (17:1); Gusai se aanbeveling is om te wag om eers ‘n groter mag bymekaar te kry. Beide gee argumente ter ondersteuning van hulle standpunte. Gusai se argumente is meer oortuigend. Abslom aanvaar dit. Die gevolg is ‘n ramp waarin Absalom self omkom.

‘n Argument is dikwels ‘n keerpunt in ‘n mens se lewe – selfs in die lewe van ‘n volk soos Israel. In hierdie geval kry die leser egter sekere inligting wat Absalom en Argitofel nie het nie – Gusai gee voor dat hy vir Absalom dien, maar in werklikheid is hy lojaal aan Dawid (15:34). Salomo glo dat Gusai se raad opreg en redelik is. Gusai se argument bestaan in werklikheid uit drie lae:

  • Wat hy self wil hê – dat Absalom verslaan moet word.
  • Wat Absalom verstaan – dat hy Dawid gaan verslaan
  • God is agter die skerms besig. Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Argifofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring (17:14).

In hierdie geval sien ons dat ‘n argument ook gebruik kan word om te mislei en te manipuleer. Maar ‘n argument kan ook deel wees van wyse raad. In 1 Samuel 25 besluit Dawid om sy manne opdrag te gee om Nabal aan te val en dood te maak. Abigajil, Nabal se vrou, gaan na Dawid toe en oortuig Dawid met haar argumente om nie vir Nabal dood te maak nie. Dan lees ons: Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag  verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem (25:33).

Uit hierdie twee voorbeelde sien ons dat argumente negatief en positief gebruik kan word – dit kan gebruik word om mense te mislei en te manipuleer, maar ook om wyse raad aan mense te gee.

Volgende keer gaan ons na argumente in die  Bybel oor belangrike godsdienstige besluite kyk.

 

image_pdfimage_print