MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (4)

image_pdfimage_print

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (4) – Jan van der Watt

Deel 2: Die boodskap van Matteus

 

3.3 Jesus begin preek en werk

Nou lees ons iets belangriks wat ons sommer baie van Matteus se Evangelie leer:

 

Vergelyk Mat 4:23 met 9:35 Wat val jou op?Kyk nou waaroor gaan hoofstukke 5-7 en 8-9 respektiewelik. Kan jy enige verband sien tussen wat in hoofstukke 5-7/8-9 gebeur en wat in die verse staan wat jy gelees het?………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Mat 4:23 en 9:35 ‘omraam’ hoofstukke 5-9. Die twee verse sê dieselfde: Jesus het gepreek en Jesus het wonders gedoen. As ons nou na hoofstukke 5-7 kyk, is dit die Bergpredikasie – een lang preek van Jesus, terwyl in hoofstukke 8-9 die wonders van Jesus in ‘n ry bespreek word. Wat in hoofstukke 5-9 staan illustreer dus hoe Jesus gepreek het en wat se wonders hy gedoen het.

 

3.3.1 Matt 5-7: Die Bergpredikasie

 

Ons het reeds in detail kyk na die bergpredikasie gekyk. Dit wys vir ons hoe Jesus se preke gelyk het.

 

3.3.2 Matt 8-9: Wonderverhale (3-3-3)

 

Gaan hoofstukke 8-9 deur en skryf neer wat jou opval………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Die volgende val op as mens hierdie hoofstukke lees.

 

Daar is ‘n patroon – daar word eers drie wonders vertel, dan word dit onderbreek, weer drie met nog ‘n onderbreking en dan nog drie. Dit wys vir ons dat Matteus bewustelik die wonders so georden het. Hy het wonders wat Jesus op verskillende tye gedoen het, bymekaar gemaak en dit so saam vir ons aangebied. Onthou, die groot belangstelling vir hulle was die boodskap en nie noodwendig die feite soos dit agter mekaar gebeur het nie. Matteus wil vir ons die ‘gevoel’ gee van wat dit beteken dat Jesus wonders doen.

 

Die wonders het beslis iets te doen met die preke (boodskappe) van Jesus, soos ons dit ook in die Bergpredikasie gelees het. Wat is die verhouding? Hoekom dink jy was dit belangrik vir Jesus se preke dat Hy wonders gedoen het?

 

Wel, om iets te sê is een ding, maar om iets te bewys is ‘n ander. Jesus kom beweer dat Hy van God af kom, die Messias is en mense kan red. Wie sê dit is waar? Die funksie van die wonders is om die boodskap te ondersteun en waar te maak. Die Jode het geweet dat goeie dinge van God af kom. As Jesus nou goeie dinge doen wat gewone mense nie kan doen nie moet dit beteken dat God op ‘n spesiale manier in Hom werk. Dit bewys die wonders. Gewone mense kan dit nie doen nie en dit bewys dan dat Jesus nie sommer ‘n gewone mens is nie. Hy kom van God af.

 

Daar is nog meer – die Jode het die Messias verwag. Hy was aan die kom, maar hoe het hulle geweet wie is hy? Hoe kon hulle hom herken? Twee dinge was belangrik: a) die profesieë van die Ou Testament moes waar word, met ander woorde, hulle het na die Bybel gaan kyk; b) hy moes wys dat hy van God kom, God se krag deel en dit het Jesus deur die wonders ook gedoen. Jesus het dus aan beide eise voldoen en daarom was die Christene seker hy is die Messias.

 

Jesus het nie net wonders gedoen ter wille van wonders nie, maar om te wys dat Hy werklik die Messias is. 

 

Volgende keer gaan ons voort by Matteus 10.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...