Moenie alles wat jy lees, glo nie

image_pdfimage_print

 

All of us have a secret desire to be seen as saints, heroes, martyrs. We are afraid to be children, to be ourselves – Jean Vanier

 

Moenie alles wat jy lees, glo nie

Greg Gilbert het onlangs ‘n belangrike boek geskryf: “Why Trust the Bible?” Hierdie is vandag ‘n algemene probleem: Mense vertrou nie meer die Bybel nie. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Veral vandag met die Internet sal net ‘n dwaas alles wat hy lees, glo. ‘n Waardevolle vaardigheid is om die verskil tussen feit en fiksie, tussen waarheid en versinsel te kan onderskei. Wat ons lees, moet ons toets: is dit betroubaar?

 

‘n Man, Jesus, is 2000 jaar gelede uit ‘n maagd gebore; Hy maak daarop aanspraak dat Hy God is; Hy doen wonderwerke soos deur op water te loop; Hy word gekruisig; Hy staan op uit die dood; Hy vaar op na die hemel waar Hy nou as Koning van die heelal heers. Laat ons eerlik wees: meeste mense in ons kultuur dink dit is vreemd dat mense hierdie storie ernstig kan opneem.

 

Christene vertrou die Bybel. Dit dien as die fondament van hulle lewens. Maar, daar is baie Christene wat nie werklik kan verduidelik waarom hulle die Bybel glo nie. Hulle mag baie redes gee: Die Heilige Gees het my oortuig; dit het in ons lewens gewerk; argeologie bevestig sommige van die Bybelse stellings; ons aanvaar dit in geloof … Natuurlik is hulle wettige redes vir Christene om die Bybel te vertrou, maar as ons eerlik wil wees, gaan hulle nie sommer iemand wat nie die Bybel vertrou, oortuig nie. Dit mag selfs hulle twyfel versterk.

 

Hoe sal jy vir iemand wat nie in die Bybel glo nie, oortuig dat hy die Bybel kan vertrou? Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe (1 Petrus 3:15). Lank voor ons by vrae soos wie is Jesus of wat is die evangelie kom, moet ons eers antwoord waarom ons die Bybel vertrou. Die antwoord is: Omdat ek glo dat Jesus uit die dood opgestaan het. As ek dit glo, sal ek die Bybel vertrou. As Jesus uit die dood opgewek is, is Hy waarlik die Een waarop Hy aanspraak gemaak het. Dan is Hy waarlik die Seun van God. Dan moet ons na Hom luister.

 

Jesus het in die Bybel geglo. Herhaaldelik in sy onderrig haal Hy uit die Ou Testament aan en bevestig die waarheid daarvan. Die Nuwe Testament was eers jare na sy dood op skrif gestel, maar dit bevestig wat Hy gedoen en gesê het. Om deel van die Bybel te wees, moes sy apostels die waarheid daarvan bevestig.

 

Maar hoe kan ons glo dat Jesus werklik uit die dood uit opgestaan het? Ons kan nie net sê dat die Bybel dit sê nie. Ons gaan nie ongelowiges daarmee oortuig nie. Kom ons begin ons pad om te wys dat ons die Bybel kan vertrou deur die Nuwe Testamentiese boeke as historiese dokumente te benader.

 

image_pdfimage_print