Psalm 11 (2)

image_pdfimage_print

 

This is a very serious act of treason: when you love other things more than you love God. —John Piper

 

Psalm 11 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

11:4 – 7:  ‘n Geloofstelling: Die regverdige mens is veilig by die Here.

Die psalm ontken nie dat die mens niks kan doen om die situasie te red nie. Teenoor hierdie hulpeloosheid van die mens bevestig die psalmis God se mag. Die psalmis gee redes vir sy geloof in God. Dit is eenvoudige feite wat hy weet waar is.

 

11:4: 4Die Here is in sy heilige tempel, die Here – in die hemel op sy troon. Sy oë sien, sy blik (letterlik ooglede) toets die mensekinders.

God sit in die oppermagtige plek. Hier mag verwys word na sy tempel wat dan deur sy troon in die hemel aangevul word. Waar is God se heilige paleis en sy troon? Die vers antwoord hierdie vraag: in die hemel.  Dit is nie net ‘n gebou op aarde nie. Dit is binne die heelal – nie een of ander afgeleë ryk nie. Dat God in die hemel is, is nie noodwendig goeie nuus vir die gelowige nie. Mense het nodig dat God aandag gee oor wat hier op aarde aan die gang is. Maar dit is juis wat God doen: sy oë is oop. Hy sien wat aangaan. Dit is nie sommer gewone sien nie. Hierdie sien van God het ‘n doel. Sy ooglede (= oë) ondersoek en toets. [Die verwysing na ooglede mag beteken dat God nooit slaap nie.] God kyk versigtig na mense om hulle werklike waarde te bepaal.

 

11:5: 5Die Here – ‘n regverdige toets Hy, maar in ‘n goddelose mens en iemand wat geweld liefhet, het Hy ‘n weersin.

Die ondersoek beteken dat God dieper  as die mens se woorde kan sien. Hy sien die werklike waarheid agter die woorde. So kan Hy dan tussen mense onderskei. God se ondersoek skei regverdiges en goddeloses. Na die ondersoek sê God nie dat hierdie interessante navorsing was nie – Hy tree op. God tree op teen diegene wat die fondamente omgooi deur hulle wettelose geweld.

 

10:6: 6Hy laat gloeiende kole oor goddelose mense reën – vuur en swael en ‘n verskroeiende wind; dit is wat hulle toekom, dit is hulle beker.

Hoe  lyk hierdie optrede van God. Hier word dit verduidelik. Hier kry ons ‘n reeks uitdrukkings wat op vernietiging dui. Die ondervinding van Sodom en Gomorra word herhaal vir die goddelose. Hierdie reën uit God se paleis in die hemel, is meer vernietigend as die pyle wat die goddeloses skiet. God se boog is gespan met vernietigende, brandende pyle. God se reën maak nie net die mense dood nie, maar dit maak ook die land onproduktief – niks groei daar nie.

 

Die skroeiende wind is nog deel van van God se reën – net op ‘n ander wyse beskrywe. Dit is die goddeloses se beker. Iemand se deel is gewoonlik iets lekker – die lekker deel van die offer wat die priesters gekry het. God gee aan mense hulle deel. Hierdie deel is nie lekker nie. Die beker laat ons dink aan ‘n beker met wyn – ‘n seën. Maar ‘n beker kan ook gif bevat. Dit is die beker wat God vir sy teenstanders gee. Dis psalm gebruik bekende beelde om God se optrede te beskryf.

 

11:7: 7Want regverdig is die Here, Hy het regverdige dade lief, die opregtes sal sy teenwoordigheid ervaar.

Hierdie ramp wat die goddelose tref, is ‘n uitdrukking van sy trou aan die regverdiges – hulle word gered uit die kloue van die goddeloses se skematjies. Ons weet dat God aan die kant van die regverdiges is, want Hy self is regverdig. Omdat Hy regverdig is, tree Hy regverdig op. Regverdigheid is ‘n kenmerk van God, maar ook van sy optrede. Sy regverdigheid staan teenoor die goddeloses wat geweld liefhet. Die regverdiges was die slagoffers van die goddeloses, maar die opregtes sal God se aangesig sien. God tree in vir die regverdiges – net wat hulle nodig het. Skuil by die Here en die sien van God se aangesig, vou hierdie psalm toe.

 

Die raad van sy raadgewers spoor die digter aan tot ‘n gloeiende belydenis. Hy is vol vertroue in die Here. Hoekom?

  1. Die Here is bereikbaar in sy heilige tempel.
  2. Hy tree op as regter. Dan toets Hy wat die mense doen en onderskei tussen die regverdiges en goddeloses. Hy straf die goddeloses vir wat hulle doen; Hy het die regverdiges lief; Hy laat hulle veilig voel by Hom.

 

Alles goed en wel, maar wat is die teologiese implikasies van hierdie psalm. Daarna kyk ons in ons volgende blog.

image_pdfimage_print