Psalm 119

image_pdfimage_print

The process of history is not haphazard. There is a purpose in it all. And the purpose is the purpose of God. —Leon Morris

 

Psalm 119

Hierdie is nie alleen die langste psalm (176 verse) nie, maar ook die psalm wat die onderwerp van die Skrif baie direk hanteer. Feitlik elke vers verwys op een of ander manier na God se woord. Die psalmis gebruik ‘n verskeidenheid woorde om God se woord te beskryf: gebooie, verordeninge, bevele, ens. Hierdie verwys na die Skrif soos dit destyds bestaan het – essensieel die Pentateug.

 

Hier het ‘n baie goeie voorbeeld van die Skrif wat oor die Skrif praat. Ons kry hier ‘n interaksie tussen die skrywer en die woord van God op vyf maniere.

  1. Vertrou die woord van God

Herhaaldelik sê die psalmis dat die Skrif waar is (Alles wat U gebied het staan vas – vers 151). Hy glo die woord – Ek stel my vertroue in u gebooie – vers 66. Ek vertou op u woord – vers 42. Sy gevolgtrekking is: Op u woord kan ‘n mens hom geheel en al verlaat – vers 160.

 

Hierdie stap is baie belangrik. As die gelowige nie werklik die woord van God vertrou nie, sal die volgende stappe van geen waarde wees nie.

 

  1. Bestudeer die woord van God

Die psalmis leer die woord – Gee my insig dat ek u gebooie kan verstaan – vers 73. Hy dink gereeld daaroor na. Hierdie stap volg natuurlik op die eerste een. As God se woord waar is en vertrou kan word, moet ons studente van sy woord wees.

 

  1. Gebruik die woord van God

Ons moet die woord as riglyn gebruik as die lewe vir ons moeilik is of ons uitdaag. Ons moet op die woord leun vir bemoediging en hoop. Die psalmis sê: U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers – vers 24. Ek kwyn weg van kommer, skenk my krag soos U in u woord beloof het – vers 28. Dit is my troos in my ellende – vers 50. Daarom sê hy: U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad – vers 105. God se woord lewe; dit is kragtig en aktief. Die Skrif is die plek waar God en die mens ontmoet.

 

  1. Hy verheug hom in die woord van God

Die psalmis het die woord lief. Neem tog in ag dat ek u bevele liefhet, Here –  vers 159. Oor u woord is ek so bly soos iemand wat ‘n groot skat in die hande gekry het – vers 162. Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond – vers 103. Die psalmis het passie, ywer en opgewondenheid vir God se woord. Hy het God se woord lief, want hy het vir God lief. Hoeveel van ons het passie, ywer en entoesiasme vir God se woord?

 

  1. Gehoorsaam God se woord

Die voorafgaande vier kenmerke lei natuurlik na hierdie kenmerk. Die psalmis wil God se woord volg, onderhou en vervul. Om God se woord te gehoorsaam is nie vandag ‘n gewilde konsep nie. Die psalmis onderhou die woord as gevolg van sy liefde vir God – nie om verlos te word nie.

 

Jesus het al hierdie kenmerke uitgeleef.

 

 

image_pdfimage_print