RUS MEER

image_pdfimage_print

The New Testament preaches a Christ who was dead and is alive, not a Christ who was alive and is dead. —James Denney

Rus meer

Soms voel dit vir ons dat ons nie aan God se verwagtinge voldoen nie. Die gevolg: ons werk harder en wy ons meer volledig aan God toe. Maar nou sê die Bybel dat die antwoord nie is om harder te werk nie, maar om beter te rus. Eers as ons leer om in Jesus te rus, sal ons die krag hê om vorentoe toe te gaan.

 

Maar nou leef ons in ‘n kultuur wat chronies oorwerk is. Ons weet dit is nie goed vir ons nie, maar ons voel ons moet die vinnige pas volhou. Werk is immers hoe ons kos op die tafel sit. Nog belangriker: werk is ons bron van identiteit. Daarom probeer ons gedurig om onsself te bewys – ons waarde word deur ons werk bepaal. Gelukkig kom Hebreërs 4 met ‘n belofte van rus vir dié wat glo. Net Christus kan daardie innerlike rus voorsien – sonder Christus sal ons werk al rus ons; met Christus rus ons al werk ons.

  • Christus is ons geregtigheid. Ons probeer ons lewe lank om onsself te regverdig – om ons foute te verminder en ons deugde te oordryf. Ons voel onbelangrik, naak en blootgestel. Daarom is titels en prestasies so belangrik vir ons. Die evangelie vernietig hierdie vals regverdiging wat ons gebruik om onsself te bedek; die evangelie bied Christus se geregtigheid as gawe vir ons aan. Geklee in sy geregtigheid kry ons die liefde en aanvaarding wat ons nog altyd wou hê. As gevolg van sy geregtigheid is daar niks wat ons kan doen om te verseker dat God ons meer – of minder – liefhet nie.
  • Christus is ons identiteit. Ons kan nooit rus as ons identiteit in ons werk kry nie. Dan moet ons voortdurend veg om ons waarde te bewys. Ons baklei om te bewys ons is iemand, want ons probeer desperaat om ons identiteit te vestig. Ons hele lewe lank probeer ons onsself bewys en dit is uitputtend. Maar die evangelie sê iets anders: as God met ons is wie gee dan om vir die res van die wêreld. Ons kan rus in Christus, want ons het ‘n nuwe, permanente identiteit as God se geliefdes.
  • Christus is ons sekerheid. Dit is moeilik vir ons om te aanvaar dat ons nie alles kan beheer nie – ons kan nie vir elke moontlikheid voorsien nie. Nou is ons gespanne, want ons dra ‘n las wat God nie bedoel het ons moet dra nie. Die gevolg is geen afdae en geen vakansies nie. Omdat ons absolute sekerheid wil hê, kan ons nooit ontspan nie. As ons verstaan dat die Here die huis bou en die stad beskerm hoef ons nie vroeg op te staan nie – die Here gee dit in ons slaap (Psalm 127:1 – 3)
  • Christus is ons prioriteit. ‘n GPS is ‘n interessante sisteem. Die stem weet altyd waarheen ek op pad is en sê wanneer ekmoet draai. As ek verkeerd ry, pas sy die roete aan. Maar die GPS werk net as ek ‘n duidelike bestemming het – alles wat die GPS doen, is gerig op daardie bestemming. Die lewe is net so. Dit is verbasend dat ons so selde vra waarheen ons op pad is. So dikwels het ons geen prioriteit in ons lewens nie. Nou moet ons by elke vurk in die pad alle keuses oorweeg – en ons is nooit seker dat ons die regte besluit geneem het nie. As Christus ons prioriteit is, het ons ‘n kompas vir ons besluite. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee (Matteus 6:33). Nou hoef ons ons nie oor al hierdie ander dinge soos geld, verhouding, ons werk te bekommer nie. Ons fokus net op trou aan Hom. As Christus eerste in ons lewens is, kry ons alles wat ons nodig het.

 

Christus bied vir ons innerlike rus aan. Hy sal ons geregtigheid, identiteit, sekerheid en prioriteit wees as ons net sy blye boodskap glo en aanvaar.

image_pdfimage_print

You may also like...