SAGTE GEBEDE – Francois Malan

image_pdfimage_print

Anna vra:

Waar in die Woord staan geskrywe dat God die aarde gaan oprol soos n stuk lap?

Nog iets asb. Is dit waar dat wanneer jy satan in jou gedagtes bestraf hy jou nie kan hoor nie? Ook as jy saggies bid, kan hy inbreuk maak op jou gebed, want hy kan jou nie hoor bid nie. Dankie.

 Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In Jesaja 34:4 voorspel die profeet dat die Here in sy toorn oor al die nasies die hemel soos ’n boekrol sal toerol. Die hele skepping word geraak deur die sonde van die nasies en die noodsaaklike reaksie van God op die nasies se verwerping van die Here met die eindoordeel. In Openbaring 6:14 word dit aangehaal as die aanbreek van die dag van die Here se oordeel wat die einde van die huidige hemel en aarde sal wees om plek te maak vir die nuwe hemel en die nuwe aarde van Openbaring 21. 

Jesus het belowe dat die Heilige Gees vir ewig by ons en in ons sal wees (Joh 14:15-17). As jy vir Jesus liefhet en sy opdragte uitvoer sal sy Vader jou liefhê en Hy en die Vader sal na jou toe kom en by jou woon (Joh 14:23). As die Vader en die Seun en die Heilige Gees in jou woon kan Satan jou nie raak nie, maar as jy jou rug op God draai en jou eie kop volg, vir jouself liewer het as vir God, gee jy aan die Satan vatkans en sal jy hom nie kan bestraf nie. Hy word slegs deur God, die Skepper van die hemel en die aarde oorwin. Kyk hoe goed God jou ken deur Ps 139 te lees.

Ons kan nie die duiwel bestraf nie, dit kan die Here alleen doen, en ons kan Hom vra om ons van die duiwel te verlos (vgl. Mattheus 17:18). Maar Jakobus 4:7 sê: ‘Weerstaan die duiwel, dan sal hy van julle af wegvlug.’ Dit kan ons doen omdat die Heilige Gees van God in ons woon om ons die krag te gee om die versoekings te weerstaan wat uit ons begeertes ons wil oorweldig (vgl. Jakobus 4:5-6, 8-10).

Selfs as ons saggies bid is dit juis ons eie begeertes wat inbreuk maak op ons gebed. Jakobus 1:14 sê: Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...