Seën, voorspoed en vreugde vir Jerusalem en Israel (vervolg; 61:5-11) – Francois Malan

image_pdfimage_print

61:5-7 In die vorige vier verse is die ander nasies nie genoem nie. Hier word hulle betrek by die nuwe samelewing, maar die bordjies is verhang. Die groot bouprogram het vakmanne nodig, en hulle word ingevoer van die ander nasies af. Die nasies kom werk as arbeiders ook op die plase van die Jode wat tydens die ballingskap op hulle beurt in diens van die Babiloniërs was.

Terwyl die ander nasies ook die geringer landboutake uitvoer, word die ontvangers van die Here se beloftes aan Sion, met ander woorde die hele gelowige volk  ‘Priesters van die Here’ en ‘Dienaars van ons God,’ met die voorreg om te lewe van die ryk gawes van die nasies wat hulle na die tempel toe bring en in die ekonomie lewer, en in hulle eer/besittings sal jy  roem (1983: die trotse eienaars word van hulle besittings). Priesters tree vir die volk en die ander nasies in by die Here, en Dienaars dien die gemeenskap met die woorde en dade van die Here, om hulle te leer om vir die nasies ‘n voorbeeld te wees en ‘n getuienis van hoe die Here is.

In 40:2 staan, Israel het van die hand van die Here dubbel ontvang vir al hulle sonde (1983: die volle straf). In die ballingskap is hulle dubbel verneder in die oë van die nasies, en het dubbel gely vir hulle sonde. 61:7a sê letterlik ‘in plaas van julle dubbele skande en die verwarring waaroor hulle hardop gekla het as hulle lot…’ daarteenoor staan die dubbele deel voorspoed in 61:7b, soos aan Job in Job 42:10. ‘n Dubbele deel verwys in Deutr 21:17 na die erfenis van die eersgeborene as sy voorreg (vgl. 1 Sam 1:5). So ontvang Israel ‘n dubbele deel van die welstand en oorvloed as die Here se eersgebore seun (Eks 4:22). In die nuwe tyd word alles omgekeer. Israel, die Here se volk wat aan Hom toegewy is, lewe in die weelde van die gawes wat sy eertydse onderdrukkers vir hom bring uit eerbied vir die God van hierdie volk wat volgens sy wil saam lewe. In plaas van hulle vroeëre vernedering ontvang Israel nou ‘n oorvloed besittings, lof en vreugde.

61:8  Die profeet se rede word onderbreek deur die woorde van die Here, wat die rede verskaf vir die buitengewone vergesigte van die digter-profeet. Die goeie vooruitsigte vir ‘n herstelde Jodendom is gebaseer op die Here se wil vir hulle samelewing en sy beloftes wat teen die huidige omstandighede ingaan. Die vers begin met ‘n ‘Ek is’ uitspraak soos in 41:4. Ek is Jahweh, ‘Die Ek is’ – die HERE (wat altyd persoonlik en aktief teenwoordig is).

Die Here is geheel toegewy aan reg en geregtigheid (Ps 99:4 Hy het die reg lief en het reg en geregtigheid in Jakob gevestig). ‘En Ek haat roof met onreg’ – die onreg wat Israel so lank gely het onder die nasies wat hulle van hulle menswaardigheid en besittings beroof het. Daarom is dit dat die Here, deur sy liefde en toewyding aan die reg, die radikale omkeer van die vorige verse aankondig (die woord be‘aowlah ‘met onreg’ van party Hebreeuse manuskripte is deur die Masorete anders gevokaliseer as be‘owlah ‘met brandoffer’ en is gevolg deur die 4e eeu n.C. se Vulgaat in Latyn en holocausto. Die Griekse Septuaginta van 200 v.C. vertaal byvoorbeeld met eks adikias  ‘uit onreg’ wat die konteks beter pas).

En Ek sal in getrouheid aan hulle die verdienste vir hulle werk gee, en ‘n ewige verbond met hulle sluit (letterlik ‘sny’ Gen 15:10). Gedurende die ballingskap het baie gedink dit is die einde van die Here se getrouheid aan sy verbond. Slegs die enkeles wat dit gewaag het, het geglo die ballingskap is nie die einde van die verbond  nie. Nou word die getrouheid van die Here aan sy verbond, waarop die bestaan van Israel gebou is, deur die Here bevestig. Sy trou aan sy verbond met Abraham (1,300 jaar tevore; Gen 17:7) en met Dawid (1,000 jaar tevore; 2 Sam 23:5) is nie voorwaardelik nie en bly staan onder alle omstandighhede. Die toekoms van Israel wat nou in werking tree is gewortel in die Here se ononderbroke besluit. Die verbond word deur die bloed van Jesus beseël, wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes (Mt 26:28; vgl Jes 53:12 hy het die sondes van baie op hom geneem). As self God, is Hy die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:1,29), dit sluit ook die sonde van die mense van die Ou Testamentiese tye in, en van vandag se mense 2,000 jaar n.C. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun, die Woord van God, ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Jn 3:36).

61:9 Die nasies sal die herstel van Israel sien en erken dat Israel deur die Here geseën word. In Gen 12:3 het die Here vir Abram gesê: In jou sal al die volke van die aarde geseën wees. Dit is die fondament waarop die herstel van die ballinge gebou is. Hulle kom terug uit die ballingskap om vir al die volke van die aarde ‘n seën te wees (vgl. Jes 51:4; 52:10).

61:10 Die digter is vervul met vreugde – die sin begin in Hebreeus met ‘n herhaling van dieselfde woord: ‘ek is verheug met vreugde oor die Here’. ’My siel –die hele ek – juig oor my God.’ Die digter is ongereserveerd uitgelate.

‘want Hy het my beklee met ‘n gewaad van verlossing, met ‘n mantel van geregtigheid het Hy my toegedraai., soos ‘n bruidegom met ‘n priesterlike hooftooisel, en ‘n bruid haarself versier met haar bruidsuitset’

Na die militêre drag in 59:17 waarmee die Here Homself beklee met geregtigheid, word die beeld van ‘n bruidegom en bruid se vreugdeversierings hier gebruik vir die verlossing en geregtigheid waarmee die Here die digter-profeet en sy volgelinge beklee (soos Ef 4:22-23:’ julle moet eerder in die gees van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.’ Israel is uit die ballingskap verlos, maar word nou van hulle ou lewenswyse verlos. Geregtigheid wys na die verhouding tot God en medemens wat reggestel word. As die Here jou daarmee beklee en toedraai is dit hoe jy moet begin lewe. Die priesterlike hooftooisel praat van die verandering van die mens se denke, om soos ‘n priester bewoë te wees oor die sonde en tekortkominge van mense, en om vir hulle in te tree by die Here.

61.11 Alles gaan om die uitwerking op die samelewing in Sion wat vervul moet word met die Here se verlossing en geregtigheid en om Hom te prys. Die opbloei van die ekonomie soos uitgedruk in die jubeljaar, met sy regverdige verdeling en teruggawes, word vergelyk met ‘n produktiewe tuin wat vrugbaar sal wees deur te blom en geregtigheid voort te bring, met billike en regverdige verhoudings wat lewe aan almal gee. Dit sal ‘n getuienis vir die Here wees voor die nasies (vgl Jesus se gebed vir al sy volgelinge in Joh 17:20-23). Daarvoor het die Here Israel teruggebring uit die ballingskap dat  hulle samelewing in reg, geregtigheid en barmhartigheid  vir die nasies sal wys hoe die Here is, wat reg en geregtigheid liefhet, Hy wat oor die hele aarde regeer.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...