Individuele gebed – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Die Bybel sê waar daar 2 of meer saam bid, daar is God. As jy alleen is, word die boodskap nog as  gebed op gestuur deur die Heilige Gees,

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is baie plekke in die Nuwe Testament waar daar gesê word dat dit ook ‘n gebed is as ‘n mens as individu met God praat (lees bv. Mat 6:6; Ef. 1:15-16). Om alleen te bid is net so geldig as enig ander gebed. Onthou, Jesus het ook dikwels alleen gaan bid, ook die nag toe Hy gevang is (bv. Mat 26:36).

Die gedeelte waarna Suzette verwys wat van twee of drie praat, staan in Mat 18:19-20. Hoofstuk 18 in Matteus gaan oor dinge wat in die gemeente gebeur, bv. as iemand iets verkeerd gedoen het in die gemeente, wie belangrik is in die gemeente of as iemand nie ander wil vergewe nie, ens. Matteus sê dus hier waar twee of drie mense saam is, kan mens van ‘n gemeente (versameling/ vergadering) praat. As die gemeente saam bid (of dit nou maar net twee of drie is) dan is God ook daar, want dit Sy gemeente. Daarmee wil Matteus nie sê dat God nie na individue luister nie, soos ons hierbo gesê het. Hy wil egter beklemtoon dat ‘n gemeente (hoe groot of klein ook al) se gebed verhoor word, omdat God by hulle is.

‘n Laaste opmerking: waarom word daar van ‘twee of drie’ gepraat. Die rede is omdat twee of drie getuies destyds as ‘n wettige groep gesien is wat byvoorbeeld in ‘n hof getuienis kon aflê (Deut 17:6; 19:15; Mat 18:16; 2 Kor 13:1; Heb 10:28). Net so vorm twee of drie ‘n wettige groep as dit by die gemeente kom.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (5) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Al geselsende met God.

‘n Gesprek is ‘n gesprek.

Gebed is ‘n gesprek. Natuurlik is dit ‘n baie spesiale gesprek, maar dit bly ‘n gesprek. Daarom is die gewone dinge wat van ‘n gesprek waar is, ook van gebed waar.

‘n Gesprek het nie ‘n vaste patroon nie. Soms sit ‘n mens sommer net lekker oor ditjies en datjies en gesels. By ander geleenthede bespreek ‘n mens ‘n enkele ernstige saak intens. As jy iemand dringend moet gaan roep, bestaan julle gesprek miskien net uit: ‘Kom gou!’ So wissel gesprekke soos die geleenthede en onderwerpe wissel.

Net so min as wat ‘n gesprek altyd ‘n vaste patroon moet volg, net so min moet of hoef gebed altyd ‘n vaste patroon te volg. Soms as jy in die nood is, help ‘n vinnige skietgebed sommer baie. As jy weer ‘n ernstige probleem het, val jy sommer met die deur in die huis   en vra God se raad of hulp. Dan gebeur daar weer iets wonderliks in jou lewe wat maak dat jy net oor en oor vir God wil dankie sê. Nie een van hierdie gebede is ‘minder gebed’ as die ander een nie. Dit is mos almal gesprekke met God.

Tog kom ons uit die Bybel agter dat gebed soos ‘n diamant baie pragtige kante het. Daar is byvoorbeeld aanbidding, lof, smeking, belydenis van sonde en so aan. Al hierdie elemente hoef natuurlik nie in elke gebed voor te kom nie. Tog moet ‘n mens versigtig wees dat jy nie een van die ‘elemente’ verwaarloos nie. Jy moet vir jouself geleentheid maak om nie alleen dinge van God te vra nie, maar Hom ook te loof of jou sonde te bely. Oor al hierdie ‘elemente’ gaan ons nou verder gesels.

‘n Gesprek en nie ‘n monoloog nie.

God sit nie swygend en luister na jou wat ‘n monoloog voer nie. Soms bid ons asof ons dink dat God stom is. Ons dink dat Hy in gebed niks te sê het nie. Niks is natuurlik so ver van die waarheid af nie.

God praat op baie maniere met ons. Dit gebeur nie met ‘n bulderende stem uit die hemel nie. Nee, God praat soms op maniere waarop ons dit nie verwag nie. Elia het God in die magtige stormwinde verwag; toe kom God na hom toe in die sagte dartelwindjie. Die Jode het ‘n groot kryger as messias verwag wat elke Romein in die see sou injaag. God beantwoord egter hulle gebede met die Messias aan ‘n kruis! Net so praat God op verrassende maniere met ons tydens gebed. Daaroor later meer.

Daar is tog een manier waarop God met ons praat wat ons nie kan miskyk nie. Dit is deur sy Woord, die Bybel. Augustinus se ma was ‘n wasvrou. So, met die nat, vuil klere tussen haar hande geklem het sy vir haar seun gebid terwyl hy saam met sy maats in die poele van plesier gebaai het. Dit was egter deur die woorde van Romeine dat God hierdie eenvoudige wasvrou geantwoord het. God het Augustinus viervoet in sy spore gestuit, en dit deur die krag van sy Woord. Dáár hoor ‘n mens God se stem op sy helderste. Dit het Luther ook agtergekom. Hy het in sielewroeging teen homself en die sonde gestry. Dit was egter die Woord van die lewende God wat hom uit hierdie kettings van die Satan kon bevry. God het Luther se pleitende gebede gehoor en geantwoord – deur sy bevrydende Woord.

Gebed en Bybelstudie hoort bymekaar soos wolke en reën. Deur getroue en biddende Bybelstudie leer ons meer en meer van die wil van God ken. Daar leer ons ook hoe en waarvoor om te bid. Deur vurige gebed lei God ons ook in die diepste geheimnisse van sy Woord in. Daar ontdek ons weer sy wysheid.

Daaroor gaan  nie meer gesê word nie. Die belangrikste is om te beklemtoon dat ons geestelik sensitief moet wees vir God se antwoorde op ons gebede deur sy Woord. Daarin is ons ook baie afhanklik van die bystand en hulp van die Heilige Gees.

In die dialoog nie alleen nie

Elke gelowige het natuurlik die Gees van God in hom of haar. Daarom leef  kinders van God in die kragveld van die Heilige Gees. Dit geld veral ook vir hulle gebede. Geen wonder dat Paulus in Gal 4:6 sê: ‘En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: “Vader!” Die Gees lei ons nie alleen in ons lewens nie, maar ook in ons gebede. Uit ons harte roep die Gees ook na die Vader, soos Paulus sê.

Dit is alleen in afhanklikheid van die Heilige Gees dat gebed sy volle diepte kan bereik. Dit is die Gees wat jou bewus maak van jou oortredings en jou in jou sondebelydenis lei. As jy in jou nietigheid voor die genadetroon van God staan, is dit die Gees wat jou ondersteun. So laat die Gees ook die lof vir God oor jou lippe vloei.

Om die waarheid te sê, dit is dikwels juis in gebed dat ‘n mens die teenwoordigheid van die Gees in jou lewe die diepste aanvoel. Die teenwoordigheid van die Heilige Gees omvou elke woord van jou gebed. Dit is God se Gees wat in jou en saam met jou uitroep: ‘My Vader in die hemel!’

Dit gaan nie weer by die bespreking van elke ‘element’ van gebed herhaal word nie. Alles wat verder van gebed gelees word, moet in die besef gelees word dat dit deur die krag en teenwoordigheid van die Gees alleen geskied!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




SAGTE GEBEDE – Francois Malan

Anna vra:

Waar in die Woord staan geskrywe dat God die aarde gaan
oprol soos n stuk lap?

Nog iets asb. Is dit waar dat wanneer jy satan in jou gedagtes bestraf
hy jou nie kan hoor nie? Ook as jy saggies bid, kan hy inbreuk maak op jou gebed,
want hy kan jou nie hoor bid nie. Dankie.

 Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In Jesaja 34:4 voorspel die profeet
dat die Here in sy toorn oor al die nasies die hemel soos ’n boekrol sal
toerol. Die hele skepping word geraak deur die sonde van die nasies en die
noodsaaklike reaksie van God op die nasies se verwerping van die Here met die
eindoordeel. In Openbaring 6:14 word dit aangehaal as die aanbreek van die dag
van die Here se oordeel wat die einde van die huidige hemel en aarde sal wees
om plek te maak vir die nuwe hemel en die nuwe aarde van Openbaring 21. 

Jesus het belowe dat die Heilige Gees
vir ewig by ons en in ons sal wees (Joh 14:15-17). As jy vir Jesus liefhet en
sy opdragte uitvoer sal sy Vader jou liefhê en Hy en die Vader sal na jou toe
kom en by jou woon (Joh 14:23). As die Vader en die Seun en die Heilige Gees in
jou woon kan Satan jou nie raak nie, maar as jy jou rug op God draai en jou eie
kop volg, vir jouself liewer het as vir God, gee jy aan die Satan vatkans en sal
jy hom nie kan bestraf nie. Hy word slegs deur God, die Skepper van die hemel
en die aarde oorwin. Kyk hoe goed God jou ken deur Ps 139 te lees.

Ons kan nie die duiwel bestraf nie,
dit kan die Here alleen doen, en ons kan Hom vra om ons van die duiwel te
verlos (vgl. Mattheus 17:18). Maar Jakobus 4:7 sê: ‘Weerstaan die duiwel, dan
sal hy van julle af wegvlug.’ Dit kan ons doen omdat die Heilige Gees van God
in ons woon om ons die krag te gee om die versoekings te weerstaan wat uit ons
begeertes ons wil oorweldig (vgl. Jakobus 4:5-6, 8-10).

Selfs as ons saggies bid is dit juis ons eie begeertes wat inbreuk maak op ons gebed. Jakobus 1:14 sê: Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word.

Skrywer: Prof Francois Malan




Here, Here – Francois Malan

Francois vra

`n Persoon wat baie lief daarvoor is om voor te gaan met gebed het die gewoonte om die woord “Here” omtrent aan die begin en einde van elke sin te gebruik. Iets soos: “Here, baie dankie Here dat u Here ons so mildelik seën Here. Dat u .Here. ons elke dag, Here versorg Here. Sou iemand met hom `n gesprek voer en sy naam ook so baie noem, sal dit hom nie ongemaklik voel nie. Nou waarom die Here se naam so baie gebruik as daar gebid word.

Vir my persoonlik is dit nie “so lekker nie” . Vir my neem dit omtrent alles uit die gebed uit en dit laat my half ongemaklik voel?

Is ek bevooroordeeld?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Matteus 6:8-15 leer Jesus sy dissipels hoe om te bid. In vers7 waarsku hy hulle: ‘Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra.’

Die persoon wat so lief is om voor te gaan in die gebed hou blykbaar baie van sy eie stem, en dink dat hy op grond van die baie herhalings van die Here se Naam verhoor sal word.  Die Griekse woord battalogeō wat met ’n ‘stortvloed woorde’ vertaal word, het ook die bykomende implikasie van  ‘niksseggende woorde,’ soos die 1953-vertaling se ‘ydele herhaling van woorde.’ Om die Here se Naam so dwarsdeur die gebed gebruik te word, maak sy Naam niksseggend. In die ‘Onse Vader’ van Matteus 6:9-13 word ons Vader slegs aan die begin aangespreek, en verder met Hom gepraat sonder die herhaling van sy aanspreekvorm. Dit is die voorbeeld wat Jesus vir ons gegee het, vgl. Matt 6:9 ‘Daarom moet julle só bid:’

In Matteus 7:21-23 waarsku Jesus: ‘Nie elkeen wat vir My sê, “Here, Here,’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. Baie sal op daardie dag vir My sê: “Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?” Dan sal Ek openlik vir hulle sê, “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!”’

Die herhaling van sy aanspreekvorm sal op die oordeelsdag geen waarde hê nie. Dit het net irritasie-waarde.

 

Skrywer: Prof Francois Malan