Perspektief op gebed (30) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

VRAAG 7: Bid in die Naam van Jesus.

Om in die naam van Jesus te bid, beteken om op sy gesag te bid. Hy gee jou die gesag om te bid. Om dit anders te stel: jou versoeke ry op sy rug. Voor God is dit asof Jesus dit self vra.

Maar, dit behels ook meer. Om in die Naam van Jesus te bid beteken ook dat jy jou volledig met Hom assosieer. Jy veronderstel eintlik met jou beroep op sy Naam dat jy jou volledig met Hom assosieer en dat alles wat jy sê sy goedkeuring wegdra. So gesien is dit eintlik ‘n groot verantwoordelikheid. Dit moet ‘n mens ook versigtiger maak om sommer enigiets te bid. Gebed gaan uiteindelik daaroor dat jy jou wil meer in ooreenstemming met die wil van God bring. Daarom behoort jou gebede ook die wil van God te weerspieël.

VRAAG 8: Hoekom moet ons bid as die Here dan reeds alles weet?

Iets wat gelowiges nogal dikwels pla, is die woorde in Mat 6:8: ‘…julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra’. Die vraag is dan gewoonlik waarom ‘n mens nog moet bid as die Here eintlik reeds alles weet?

Die eerste deel van die antwoord lê in die konteks van die woorde in Mat 6:7-8. Dit gaan daar oor mense wat vreeslik baie woorde gebruik en dink dat hulle so die Here kan oortuig of miskien nog kan afpers. Mense uit sekere godsdienstige bewegings het gedink dat die gode met baie en harde gepratery oortuig sou kon word om te doen wat jy wil hê. Die Here sê dat Hy nie so werk nie. Jy hoef nie vreeslik in jou gebed tekere te gaan asof Hy nie weet wat aangaan en jy eers alles onder sy aandag moet bring nie. Die gedagte is dus nie dat Hy alles weet en daarom buitendien nie wil hê jy moet bid nie. Nee, hy wil net nugterheid in jou gebed bring.

‘n Ander deel van die antwoord lê in die feit dat gebed nie werk soos ‘n lekkergoedmasjien waar ons net ons versoeke ingooi en dan verwag dat God die antwoorde outomaties moet laat uitval nie. Gebed se basis is ons persoonlike verhouding met God. Hy’s ons Pa op wie se skoot ons sit! Met Hom gesels ons oor dinge.

Nou, daar op sy skoot kan ons Hom nie forseer om te maak soos ons sê nie. Ons kan ons ‘begeertes’ wel met Hom bespreek. Maar uiteindelik moet gebed meer aan ons doen as aan God. Ons wil moet in lyn met God se wil kom!

God weet wat ons nodig het. Hy ken ook die plan vir ons lewe. Maar gebed is vir Hom veel meer as ‘n vraesessie. Dit is oomblikke van persoonlike gemeenskap. Dit is die saamwees en die ontdekking van Wie God is en wie jyself is wat ons in gebed soos ‘n arend bo ons eie begeertes en wil uitlug. Daar vind ons rus in die teenwoordigheid en nabyheid van God self.

As gebed net die oorhandiging van ‘n gebedslysie aan God was, sou ‘n mens kon wonder waarom jy nou juis moet bid? Maar nou is dit veel meer… dit is ware gemeenskap met God!

VRAAG 9: Hoe leer ek my kinders bid?

Kinders ontwikkel vinnig. Verstandelik en emosioneel beweeg hulle dus redelik vinnig deur sekere fases. Daarom moet die ouer sy kind se ontwikkeling goed dophou. Daar is periodes, veral voor hulle tien word, wanneer hulle graag na-aap. Daardie geleentheid moet gebruik word om sekere gebedspatrone vas te lê. Hulle moet gewoond raak om te bid! As hulle ouer word en tienerskoene begin aantrek word hulle meer krities en selfstandig. Dan raak dit belangrik om met hulle te gesels oor dinge soos gebedsverhoring of die manier waarop God in gebed teenwoordig is. As ouer moet jy jou dus laat lei deur die groeifase van jou kind.

Ons moet ook erns maak met ons kinders se vrae oor gebed. Klein kinders kan byvoorbeeld bid dat ‘ouma wat siek is gesond word’. As dit nie dadelik gebeur nie, wil hulle weet hoekom. Die Here is dan sterk. Waarom luister Hy dan nie? In so ‘n geval moet die ouer oppas om nie verkeerde idees in die kind se kop te plant net om uit die vraag te kom nie. Hierdie antwoorde onthou die kind gewoonlik baie goed, soms vir die res van sy lewe. Doen dus moeite om sinvol met jou kind te gesels as hy of sy ‘n probleem met gebed het. Uiteindelik sal julle almal die vrugte daarvan pluk.

As ouers is ons voorbeeld egter die heel belangrikste. Hoe ons bid, wat ons daaroor sê en wat ons van gebed verwag, word die ‘voorbeeld’ wat ons kind navolg. As jou kind jou nooit sien of hoor bid nie, sal hy of sy daarvan aflei dat gebed eintlik nie vir jou so belangrik is nie. Dit maak nie sigbaar deel van jou lewe uit nie. As jy bid vir hulp van die Here, maar daarna nog erger kla oor jou probleme, vertel dit aan jou kind iets van jou ongeloof. Die respek en erns waarmee jy vir en voor jou kinders bid, is dus deurslaggewend.

Kortom, neem jou kind ernstig en stel ‘n goeie voorbeeld.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...