Terug na die Ou Testament: Allerlei (1)

image_pdfimage_print

Terug na die Ou Testament: Allerlei (1) – Adrio König

6 Allerlei

Ramshoring, Christelike feeste soos Kersfees, dag- en maandname en jaarberekening, die begin van die dag, verjaarsdae, vleis van “onrein” diere, woestyntyd, drome. Dit is die kleiner sake wat nie elkeen ‘n hoofstuk regverdig nie. Maar dis deel van die terug na die Ou Testament beweging.

Daar is baie kleiner dinge waarin mense wil terug na die Ou Testament.

 

6.1 Wanneer begin ‘n dag?

Dis ‘n taamlik algemene oortuiging dat die dag in die Bybel in die aand begin, en nie in die oggend nie. Dit klink taamlik oortuigend. Lees ons dit dan nie oor en oor in Genesis 1 nie? “Dit was aand en dit was more”. Ons sal terugkom na hierdie uitdrukking in Genesis 1. Maar wat kry ons in die res van die Bybel?

 

Kom ons kyk na ‘n paar verhale.

 

Ná Lot se vrou ‘n soutpilaar word, besluit sy twee dogters om met hulle pa seks te hê om sy nageslag voort te sit. Hulle maak hom dronk sodat hy nie sal besef wat aangaan nie. “Daardie nag het hulle hom dronk gemaak en die oudste dogter het met hom gemeenskap gehad… Die volgende dag sê sy toe vir die jongste: Ek het verlede nag by hom geslaap” (Gen 19:33-34).

 

Kom ons kyk mooi wat hier staan oor dag en nag. Die oudste slaap die nag by hom, en sê die volgende dag vir haar suster . As die dag in die aand begin het, moes daar tog gestaan het: “Daardie nag het hulle hom dronk gemaak en die oudste dogter het met hom gemeenskap gehad…Later daardie dag (toe die son opkom) sê sy toe …” Die oggend kon nie die volgende dag gewees het as die dag in die aand begin het nie. Dit moes dan mos dieselfde dag as die vorige nag gewees het.

 

Uit wat hier staan (die nag, en dan die volgende dag)  is dit duidelik dat die oggend nie dieselfde dag is as die vorige nag nie. Die oggend het ‘n nuwe dag begin.

 

Hier is nog ‘n verhaal. “Toe stuur Saul mense na Dawid se huis toe om hom dop te hou en hom in die môre dood te maak. Maar sy vrou Mikal het hom gewaarsku: As jy nie vannag vlug nie, word jy môre doodgemaak” (1 Sam 19:11). Praat Mikal nie verkeerd nie? Sy moes mos iets gesê het soos: “As jy nie vannag vlug nie, word jy later vandag, wanneer die son opkom, doodgemaak.” Nee, sy praat asof die dag in die oggend begin. “Môre” was nie deel van dieselfde dag as die vorige aand nie.

 

Op ‘n keer maak Israeliete die stam van Benjamin dood, en sit toe by Betel en treur daaroor. “Daar het hulle tot die aand toe in die teenwoordigheid van die Here gesit… Die volgende môre het die volk vroeg opgestaan” (Rigt 21:2-4). Die Hebreeus vir “die volgende môre” is eintlik “die volgende dag”.  Wanneer die son opkom, is dit nie meer dieselfde dag as die vorige aand nie.

 

Ons kry dieselfde in die Nuwe Testament. “Toe dit aand word, het Jesus en sy dissipels na die see toe gegaan… Die volgende dag kom daar toe ander skuitjies …” (Joh 6:16, 22). Hoekom nie: Later die dag toe die son die oggend opkom nie?

 

“Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd. Paulus het die gelowiges toegespreek, en aangesien hy die volgende dag sou vertrek, het hy tot middernag aangehou” (Hand 20:7). Hulle vergader tot middernag. As die son weer opkom, is dit die volgende dag, nie later dieselfde dag nie. 

 

“Die soldate het hulle opdrag uitgevoer en Paulus dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris. Die volgende dag het hulle die ruitery met Paulus verder laat gaan…” (Hand 23:31-32). 

 

Verder is dit interessant hoe die Bybel die tyd van die dag aandui. Die uur word bereken van sonop af, nie van sononder af nie. Wanneer Jesus gekruisig word, lees ons dat dit om 12 uur donker word. Die Grieks lees: “die sesde uur”. Indien die dag in die aand begin het, was die sesde uur 12:00 die nag. Maar Jesus is tog in die dag gekruisig. Hulle het die ure van sonop af bereken. Dit is wanneer die dag begin het.  

 

Daar is een keer ‘n onduidelikheid in hierdie verband. In Daniël 8:14 lees ons van “Twee duisend drie honderd aande en oggende.” Maar dis nie duidelik waarom hy hierdie volgorde gebruik nie. Trouens dis goed moontlik dat hy dit doen om halfdae aan te dui. “‘n Aand en ‘n oggend” is nie ‘n volle dag nie. Wat van die res van die dag soos die middag?

 

En die skeppingsdae? Staan daar dan nie uitdruklik: “En dit was aand en dit was môre, die eerste dag” nie? (Gen 1:5, 1953-vertaling) Dan het die dag mos in die aand begin.

 

Dit is een van die opvallendste en algemeenste misverstande in die Bybel dat hierdie uitdrukking beteken die dag het in die aand begin.      

 

Is ‘n aand en ‘n môre ‘n volle dag? Wat van die middag? Of mis ons die hele punt? Die Here het die eerste dag die lig geskep. Hy het die lig en duisternis van mekaar geskei, en gesien dit is goed. Ná Hy dit gedoen het, word dit toe aand, en toe dit môre word, was die eerste dag voltooi.

 

Dus nadat die Here die dag se werk afgehandel het, het dit aand geword, en toe dit oggend word was die eerste dag verby, en kon Hy met die tweede dag se werk begin. Dit beteken dat die dag in die oggend begin het. 

 

En die Sabbat?  Maar wat dan van die sabbat en die feeste? Dit staan oor en oor uitdruklik dat die Sabbat van aand tot aand gevier moet word.  “Julle moet rus van sononder af op die negende van die maand tot sononder op die tiende” (Lev 23:33). Oor en oor kom hierdie besondere nadruk op die aand voor in die dele oor die Sabbat en die feeste (Eks 12:6, 18). 

 

Maar bevestig dit nie juis dat gewone dae van oggend tot oggend geloop het nie? Waarom sal daar soveel nadruk geplaas word op die aand tot aand van die Sabbat as dit vanselfsprekend was dat die dag van aand tot aand loop?  Dan was dit glad nie nodig om dit te vermeld nie. Maar as dit uitsonderlik was omdat die dag altyd in die oggend begin het, is dit verstaanbaar dat dit beklemtoon moes word.

 

Maar dit beteken dat die Sabbat tegnies soos al die dae eers die oggend begin het, en dat Israel die aanpassing moes maak om dit al die vorige aand te begin vier. Dit is tog wat geïmpliseer word in Nehemia 13:19 waar ons lees dat die poorte van die stad gesluit moes word “sodra dit daar begin donker word op die aand voor die sabbat.” Tegnies was dit nog nie Sabbat die aand voor die Sabbat nie omdat die dag eers die volgende oggend begin het. Maar hulle moes die Sabbat só vier. 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...