Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (5)

image_pdfimage_print

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (5) – Adrio König

2.3.3 Matteus 20:24

Maar wat dan van die beroemde uitspraak van Jesus in die profetiese rede dat sy volgelinge moet bid dat hulle nie in die winter of op die Sabbat sal moet vlug nie? (Matt 24:20). Beteken dit Hy het verwag sy volgelinge sal die Sabbat hou?

Wat het Jesus met hierdie uitspraak bedoel? Dit is deel van sy profetiese rede. Dit gaan oor die toekoms en die vervolgings wat sy volgelinge sal beleef. In die voorafgaande verse sê Jesus dat dit baie swaar sal gaan tydens die vlug. Dit sal ‘n tyd vol ontberings wees, en hulle sal baie haastig moet vlug (24:16-17 – ook Mark 13:15-16 en Luk 21:21).  Hy vervolg dat dié wat bykomende laste dra, buitengewoon swaar sal kry (vers 19). En dan sê Hy: “Bid dat julle nie in die winter of op die sabbatdag hoef te vlug nie.”

 

Waarom nie in die winter nie? Dit sal die vlug nog swaarder maak, want in die winter is daar in Palestina reën, koue, stormagtige weer en deurweekte paaie.

 

In dieselfde asem sê Jesus dat hulle moet bid dat hulle vlug nie op die Sabbat moet plaasvind nie. Waarom? Seker om dieselfde rede: dit sal hulle vlug bemoeilik.

 

Hoe? Daar is minstens twee antwoorde moontlik. Die een is dat Jesus bedoel hulle sal uit eerbied vir die Sabbat nie op dié dag mag vlug nie.  Hulle sou in gehoorsaamheid aan die vierde gebod moes rus, en dan sou die vyand hulle natuurlik oorrompel.   

 

Die ander een is dat Jesus bedoel dat die Jode dit vir hulle op die Sabbat nog moeiliker sal maak. Hulle sou byvoorbeeld nie voedsel kon koop nie, en voor allerlei ander beperkings staan. Fanatieke Jode sou dit as hulle plig beskou om hulle vlug te kortwiek.

 

Watter een van hierdie twee betekenisse is die waarskynlikste? Sit daar nie ‘n vreemde beeld van Jesus agter die eerste een nie? Al is hulle lewe in gevaar, sou hulle nogtans die gebod moes gehoorsaam en stilsit. Is dit die Jesus van die Evangelies, die Jesus wat sy dissipels verdedig as hulle op die Sabbat koringare pluk oor hulle honger is, en siekes op die Sabbat genees? Is Hy nie die Een wat gesê het die mens is nie vir die Sabbat gemaak nie, maar die Sabbat vir die mens? (Mark 2:27)

 

Dit is dus sinvoller om die tweede rede te aanvaar: Dat die Sabbat dieselfde probleme as die winter sal oplewer: Dit sal omstandighede meebring wat hulle vlug sal bemoeilik. Dit beteken dat ons nie uit hierdie woorde van Jesus kan aflei dat Hy oortuig was sy volgelinge sou na sy opwekking nog die Sabbat hou nie.

 

Jesaja 66:22-23 sal in hoofstuk 3 behandel word.

 

Maar intussen is dit in elk geval duidelik dat Jesus self die Sabbat gehou het netsoos Hy getrou was aan die ander aspekte van die Ou Testamentiese kultus: die tempel, die feeste, die priesterdiens, die offers.

 

Maar het die vroeë Christene die Sabbat gehou?

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...