Uitbanning van die blindgeborene (9:30-34)

image_pdfimage_print

Uitbanning van die blindgeborene (9:30-34) – Francois Malan

9:30-33 Met groot vrymoedigheid bevraagteken die man die godsdienstige leiers se kennis oor Jesus en veral hulle ongeloof. Ironies sê hy, dit is tog ‘n ‘wonder’ dat hulle nie weet waar Jesus vandaan kom nie, al het hulle die wonder gesien, dat Hy die oë geopen het van ‘n man wat blind gebore is.

Hulle sê hy moet  God prys vir die wonder, want hulle weet ‘hierdie Man’ is ‘n sondaar (v24). Maar almal weet God luister nie na mense wat in sonde volhard nie, maar na mense wat God se wil doen – dit was juis die leiers se punt. Hier het ‘n wonder gebeur waarvan nog nooit in die bestaan van die wêreld gehoor is nie. Dit is mos ‘n duidelike bewys, die Man kom van God af (Ps 146:8). Die ‘blindheid’, stiksienigheid van die godsdienstige leiers, wat nie wil glo wat vir almal logies is nie, is vir die blindgeborene ‘n ‘wonder’. Hulle ongeloof is die ‘wonder’. As dit ‘n genesing van iemand was wat blind geword het, was dit reeds ‘n wonder. Maar van ‘n blindgeborene is dit ‘n unieke wonder. Daarom moet Jesus in ‘n unieke verhouding tot God staan. Sy werke bewys dat God Hom gestuur het (Jn 5:36). Die wondergenesing het Hom gelegitimeer, as eg bewys. Die man verwonder hom oor hulle blindheid vir die waarheid.

 

9:34 In woede beledig hulle hom en bewys hulleself skuldig: ‘in sondes (meervoud) is jy gebore, geheel en al…’ Hulle beskou sy blindheid van geboorte af  as ‘n bewys dat hy in sondes gebore is. Die dissipels se vraag in 9:1 of sy blindheid die gevolg is van sy eie sonde of sy ouers se sonde, was die algemene geloof van die Jode. Met hulle uitspraak oor die man erken hulle dat hy blind gebore is – iets wat hulle nie wou glo nie (9:18-19). Met hulle onlogiese belediging erken hulle indirek dat ‘n wonder van God deur Jesus plaasgevind het, maar steeds verwerp hulle die Lig wat op hulle skyn (1:4,5,9) en verval verder in hulle blindheid/duisternis (3:19-21). Hulle, die geleerde godsdienstige leiers van die volk, laat hulle nie leer deur so ’n ellendige sondaar nie (vgl. 7:49). Hulle ban hom uit die sinagoge, soos hulle vooraf al besluit het, (vgl. 9:22). 

 

Die blinde kom tot volle lig (9:35-38)

9:35 Jesus laat die uitgeworpene nie alleen nie. Hy soek hom op, vind hom, en bring so sy werk, wat hy met die man begin het, tot sy reddende einde, deur hom in sy gemeenskap op te neem. Jesus begin met ‘n direkte vraag, op die man af, en in teenstelling met die Jode:  ‘Jy, glo jy in die Seun van die mens’?  Die Joodse verwagting van ‘n Messias as politieke verlosser is o.a. gebou op Dan.7:13,14, waarby Jesus hier aansluit.

 

9:36 Die man is blykbaar bewus van die Joodse verwagting van ‘n Gesalfde Verlosser, en wil weet of die Mense-seun van Daniël 7, wat die verlossing van God se koninkryk bring, nou reeds gekom het. Beleefd vra hy:  ‘wie is Hy, meneer (kurios), dat ek in Hom kan glo?’ Uit homself kan die man nie onderskei watter persoon die ewige koning van Daniël se visioen is nie, maar die man is bereid om Jesus se leiding te aanvaar.

 

9:37 Jesus openbaar Homself aan die man wat dit nie uit homself kan doen nie: ‘Jy het Hom gesien en Hy wat met jou praat, Hy is dit’ (aan die Samaritaanse vrou  het Jesus Homself ook openbaar: ‘Dit is Ek, Ek wat met jou praat’).

 

9:38 Die man antwoord: ‘Ek glo, Here (kurios)’ – die Griekse woord kurios word gebruik vir respekvolle aanspreek van ‘n persoon: meneer; of deur ‘n slaaf vir sy eienaar: my heer; of deur ‘n onderdaan voor sy koning: my heer; maar ook deur ‘n aanbidder teenoor God: my Here. Na Jesus se selfbekendmaking word die man se ‘meneer’ van v36, ‘Here’ in v38. Dit blyk uit sy optrede: hy val voor Jesus op die grond in aanbidding, bewus van sy goddelike teenwoordigheid (die Griekse woord proskuneoo sluit kuneoo  ‘om te soen’ in; Oosterlinge het voor die vors of goddelike verteenwoordiger neergeval en hulle voete gesoen, vgl. Luk 7:38,45) . Deur die woord van ‘die Woord van God’ en die werking van God se Gees in die man, gaan sy oë verder oop vir die Lig vir die wêreld, die Lig wat lewe gee (8:12). So neem Jesus die man, wat deur die Jode uitgewerp is, op in sy nuwe gemeenskap van gelowiges. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...