Vergeef ons ons oortredings

image_pdfimage_print

No men can be lords of our faith, though they may be “helpers of our joy.” John Owen

 

Vergeef ons ons oortredings

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

Belydenis van ons sondes behoort ‘n integrale deel van ons gebede te wees. Geen wonder Jesus leer ons om die Vader se vergifnis te soek nie. As ons sondig, plaas ons onsself in die skuld by God. Hier vra ons dat God ons skuld moet vergewe. Jesus het ons skuld aan die kruis betaal. In sy genade en barmhartigheid laat God toe dat Jesus ons skuld betaal. Ons skuld was so groot dat ons dit onmoontlik self kon betaal het.

 

In die Nuwe Testament word sonde met verskillende woorde beskryf. Kom ons kyk na ‘n paar hiervan:

  • ‘n Oortreding van die wet – ‘n misdaad. In die Bybel lees ons dikwels dat God die regter is. Ons weet Hy is ‘n regverdige Regter. Hy moet dus oortredings van die wet straf. Die bevinding sal sekerlik wees dat ons skuldig is, behalwe as iemand anders die straf wat ons verdien, betaal het.
  • In ons harte haat ons vir God. Ons moet met Hom versoen word – in vrede met Hom leef. Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is deur die lewe van sy Seun gered sal word (Romeine 5:10). Let wel: ons was vyande van God Hoekom? God is heilig en ons nie. Mense wat nie heilig is nie, waardeer nie ‘n standaard wat hulle tekortkominge blootlê nie. God se heiligheid en ons sondigheid skep ‘n kloof wat ons nie kan oorbrug nie. Daarmee saam sien en weet God alles. Ons kan nie van Hom wegkruip nie. Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar; gaan ek lê in die doderyk, is U ook daar (Psalm 139:7 – 8). God is ook almagtig en onveranderlik. God is ‘n formidabele teenstander. As ons vyandig teen Hom is of van Hom vervreemd is, is ons deel van ‘n geveg wat ons onmoontlik nie kan wen nie.

Hierdie geveg kan net gewen word as ons onvoorwaardelik aan Hom oorgee. Dit is wat ek doen as ek Hom vra om my oortredings te vergewe. Maar Jesus heg ‘n voorwaarde aan hierdie petisie: soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree. As hierdie voorwaarde letterlik moet geld, het ons groot probleme. Ons kan net nie vergewe soos God vergewe nie. Wat Jesus hier sê, is dat dit is waarna ons moet strewe. Omdat ons van baie vergewe is, moet ons ander ook baie vergewe

 

Hierdie petisie herinner ons aan die diepte van ons sondigheid, dat ons daagliks vir vergifnis moet vra, want ons het dit daagliks nodig. Ons het almal dringend vergifnis nodig en ons hoef net daarvoor te vra.

 

image_pdfimage_print