Vrae teenoor stellings

image_pdfimage_print

 

Where there is patience and humility, there is neither anger nor vexation – Franciskus van Assisi

 

Vrae teenoor stellings

Die openingswoorde van die slang aan Eva was ‘n vraag: Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie (Genesis 3:1). Ons lees die slang was listiger as al die wilde diere. Hy weet dat Eva se vertroue in God volledig was, maar onskuldig en ongetoets. As die Satan haar onmiddellik weerspreek het, sou daar ‘n kop-aan-kop botsing gevolg het. Dit sou God se woord teen die slang se woord gewees het – en die slang sou verloor het.

 

Het God werklik gesê. ‘n Vraag is altyd meer ondermynend as ‘n stelling – hulle is indirek. ‘n Goeie vraag is nie so ooglopend nie en waarheen dit lei, is onduidelik. ‘n Vraag kry jou ook betrokke. ‘n Stelling kan jy aanvaar of verwerp. ‘n Vraag, daarenteen,  daag ons uit en prikkel ons belangstelling – ons wil sien waarheen dit lei.

 

Om God tromp-op te loop, sou ‘n ramp gewees het. Maar deur ‘n vraag wat heel onskuldig klink te vra, gee aan die Satan ‘n vastrapplekkie. Hierdie sou stadig maar sekere uitbrei. Het God werklik gesê. Met hierdie vraag laat hy Eva spekuleer oor wat God werklik in gedagte gehad het. Eers daarna, as Eva die aas gesluk het, waag die Satan dit om God te weerspreek: Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.

 

Aan die einde van hierdie ontmoeting was Eva se vertroue nie meer absoluut nie. Sy het die aas gesluk deur vir God te wantrou en deur haarself as arbiter tussen God se woord en Satan se woord te stel. Sy glo dat sy die vermoë het om tussen hulle te oordeel. Sy glo dit sal geen skade doen om van die verbode vrugte te eet nie. Sy het ‘n eksperiment nodig om te besluit wie praat die waarheid – God of die Satan.

 

Adam en Eva se ongehoorsaamheid behels twee dinge wat op ons almal van toepassing is.

  • Sonde is die aanspraak dat ek reg is. My manier om dinge te sien, is reg. Enigeen wat van my verskil, is verkeerd – ook God.
  • Sonde is die doelbewuste teregwysing van God en van sy manier van hoe dinge gesien moet word. Ons sien nie meer vir God soos Hy werklik is nie.

 

Sonde moet homself altyd regverdig. Om ons te verskoon, moet ons God aankla. Dit is tyd dat ons weer verantwoordelikheid aanvaar vir wat ons doen. Daarom moet ons ons sonde bely. Dawid het dit geweet:

Teen U, teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd was in u oë,

Sodat U gelyk sal hê as U uitspraak lewer, volkome reg wanneer U oordeel (Psalm 51:6).

 

 

image_pdfimage_print