Waarvoor staan ek?

image_pdfimage_print

 

“Failure isn’t a character quality. It’s just an event. How you respond to failure is your character.” Rick Warren via Twitter

 

Waarvoor staan ek?

‘n Mens kry die indruk dat vandag se Christene beter bekend is vir die dinge waarteen hulle is as vir die dinge waarvoor hulle staan. Waarvoor staan Christene? Kom ons kyk na ‘n paar.

  1. Liefde

Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde (1 Johannes 4:8). Liefde is ‘n intrinsieke waarde van elkeen wat homself ‘n Christen noem. Maak nie saak wat die omstandighede is nie, maar om in liefde ‘n helpende hand uit te steek, is iets wat gelowiges van ongelowiges onderskei.

 

  1. Genade

Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het (Efesiërs 4:32). God het aan die kruis vir ons sondes betaal. Alhoewel ons nie die genade wat God so mildelik uitgedeel het, verdien nie, strek Jesus steeds sy hand uit om ons te help. Net so moet Christene vir hulle genade en vergifnis wat aan ander bewys word, bekend wees. Dit mag nie altyd verdiend wees nie, maar ons s’n was ook onverdiend.

 

  1. Reinheid

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8). Reinheid gaan oor meer as net die onderwerp van seks Gelowiges moet bekend wees vir hulle reinheid in verhoudings, maar ook in wat hulle sê, hulle optrede en hulle motiewe.

 

  1. Geduld

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22 – 23). In vandag se vinnige lewe is geduld die sleutel. Die wêreld soek kitsoplossings, maar God roep ons om geduldig te wees. Dit is nie altyd maklik nie, maar dit is die regte ding om te doen.

 

  1. Opoffering

God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16). Ons kan nooit naby aan Jesus se offer aan die kruis kom nie, maar dit beteken nie ons moet die voorbeeld wat Hy gestel het nie voortsit nie. Christene moet geken word aan hulle onselfsugtigheid en opoffering.

 

  1. Dink aan ander

Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (Filippense 2:4). Gee jy net om iets terug te ontvang of gee jy uit die oorvloed van jou hart? Plaas jy ander voor jouself en God voor almal en alles? Ons moet onthou dat alles wat ons het nooit werklik ons s’n was nie.

 

  1. Toewyding

Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee (Matteus 5:37). As ons as Christene sê dat ons iets sal doen, moet ons dit eenvoudig doen. Natuurlike sal ons foute maak en soms tekort skiet, maar ons moet Jesus se toewyding vir ander wys. Ons moet vir die wêreld wys dat ons vertrou kan word en dat ons nie ons woord sal verbreek nie

 

  1. Respek

Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê (1 Petrus 2:17). Ons sal mense ontmoet wie se idees van ons s’n verskil, maar dit beteken nie dat ons hulle nie kan respekteer nie. Christene moet bekend staan as ‘n gemeenskap van respekvolle mense wat selfs as hulle verskil liefde en genade kan bewys.

 

Jy kan by hierdie lysie byvoeg. As ons hier begin sal ons die persepsie dat Christene negatiewe mense is, kan verander. Wees positief; wees vir iets en nie net teen iets nie.

 

image_pdfimage_print