Was Jesus deel van die drie-eenheid toe hy mens was op aarde?

image_pdfimage_print

Was Jesus deel van die drie-eenheid toe hy mens was op aarde? – Kobus Kok

Jan Smith vra:

Was Jesus deel van die drie-eenheid toe hy mens was op aarde? Hoe presies is Jesus God?

Antwoord:

Prof. Kobus Kok antwoord:

Die Christelike geloof aanbid die Vader, Seun en Heilige Gees as drie-enige God. Hierdie drie entiteite is ‘n persoon in eie reg, maar is ook onlosmaaklik aan mekaar verbind. Sommige mense dink dat Jesus tydens sy aardse bestaan net uit “twee” in plaas van “drie” bestaan het, omdat hy eers na sy opstanding uit die dood deur God verhef is tot die goddelike posisie van die “Seun”. Hoe moet mens die goddelikheid van Jesus verstaan? Kan mens van die “afwesigheid” van Jesus in die drie-eenheid praat ten tye van sy aardse lewe? ‘n Ander belangrike vraag is hoe mens die Heilige Gees moet verstaan, want dit is dan eers uitgestort nadat Jesus se aardse bediening basies klaar was. Dit is sommige van die vrae waarmee een van ons lesers worstel.

 

Die drie-eenheidsleer het oor ‘n baie lang tyd ontwikkel en is eers etlike eeue na die historiese gebeure werklik eers “uitgewerk”. Die sin waartoe gekom word, word ook retrospektief terugwerkend in die geskiedenis “ingelees” deur verbande te trek tussen verskillende konsepte wat implisiet in die Bybelse tekste en die verstaan daarvan in die vroeë kerk reeds teenwoordig was.

 

Verder is daar in die Bybelse materiaal ook verskillende hoeke waaruit die verskillende skrywers die saak benader. Die leer oor die drie-eenheid is dus ‘n geabstraheerde vorm van singewing wat ‘n sintese verteenwoordig van die diverse stemme binne die Nuwe Testament.

 

Die evangelie wat dit vir my die mooiste verduidelik is Johannes.  Johannes begin in sy proloog (Joh 1:1-18) met die verklaring dat Jesus reeds van die heel begin van die skepping reeds by God en self God was. Dit is vir ons vreemd om die en-en dimensie te verdiskonteer. Vir die antieke mense was dit nie so moeilik nie. Johannes werk met die beeld van ‘n koning, sy oudste seun en die familie. In die antieke tyd sou ‘n koning dikwels sy seun stuur om namens hom bepaalde take te verrig. Vir alle praktiese doeleindes het die seun die koning verteenwoordig by die mense na wie hy gestuur was. Die wat hom goed ontvang het, het die koning goed ontvang en die wat die seun sleg ontvang het, het eintlik die koning sleg ontvang en sy eer aangetas. Volgens Johannes het God, as Koning-Vader, sy Seun gestuur na die aarde toe om Sy wil te kom bekendmaak (Joh 1:18). Jesus sê self in Johannes dat hy niks kan doen sonder die Vader nie (Joh 5:18vv). Inteendeel, Jesus sê in hierdie gedeelte dat sy vermoë om lewe te gee van die Vader af kom. Vir die antieke mense was daar net Een persoon wat lewe kon gee, en dit was God. God wat lewe is, en lewe gee, het dus sy vermoë om lewe te gee aan sy Seun “oorgegee”. God die Vader in Johannes se evangelie bemagtig dus sy Seun om lewe te gee soos wat Hy lewe gee. In Johannes 11 is Lasarus dood. Jesus bid dan tot God om Lasarus uit die dood op te wek sodat die mense ook kan sien wie Jesus regtig is, naamlik die Seun van God. Hier word Lasarus nog “bemiddelend” opgewek. Die groot vraag is egter wat gaan gebeur as Jesus self sy eie lewe verloor? Dan lees ons in Johannes 10:17-19 dat Jesus sê dat hy sy eie lewe gaan neerlê en dat hy dit self weer gaan “opneem”. Geen mens kan dit doen nie. Indien mens die dood kan oorwin en lewe kan gee, kan jy net een persoon wees, en dit is God. Maar in Johannes se denke is dit God wat aan sy Seun die vermoë gee om lewe te gee. Uiteindelik sterf Jesus aan ‘n kruis (Joh 18-19), maar wek dan homself, met die lewe-skeppende vermoë wat God aan hom gegee het, op tot lewe. Die wat hom na die tyd sien, en besef dat hy nie net die vermoë het om lewe te gee nie, maar self lewe in homself het (Joh 1:4), kan dan nie anders nie as om te verklaar dat hy (soos) God is nie. Daarom lees ons in Johannes hoe Thomas, nadat hy die opgestane Jesus sien en aan hom aanraak, verklaar dat Jesus sy “God (Theos) en Here (Kurios) is. In die Griekse Ou Testament word die woorde Theos en Kurios vir God gebruik. Thomas maak dus die (regte) verklaring dat Jesus God is. Jesus blaas (Joh 20) dan oor die dissipels en sê vir hulle “ontvang die Heilige Gees”. In Johannes is die Heilige Gees die trooster, die advokaat en die een wat die gelowiges sal lei in waarheid. Die Heilige Gees is ‘n eie entiteit, maar gaan instrumenteel uit van God en die verhoogde Christus in diens van God se wil. Die wat Johannes lees sal besef dat daar in Johannes se kop ‘n duidelike struktuur was. God is die Vader en Hy is die een wat die Seun en die Heilige Gees stuur. Hulle is een in wese maar nie dieselfde nie – hulle is immers drie persone, maar funksioneer as ʼn (een) span. Dit is dikwels moeilik vir ons om dit te verstaan omdat ons vanuit ons menslike beperkinge daaroor moet dink. Dit is soos om mannetjies in ‘n twee-dimensionele wêreld te vra om te verduidelik wat in ‘n drie-dimensionele wêreld gebeur. Die mense in die twee-dimensionele wêreld kan nie eens begin om te verstaan hoe die drie-dimensionele wêreld funksioneer nie, omdat hulle nie daartoe toegang het nie. Een van die beste voorbeelde wat ek aan kan dink is die dag toe iemand uit ons drie-dimensionele wêreld daarin geslaag het om met twee dimensionele mannetjies in ‘n papier-wêreld te kommunikeer en vir hulle moes verduidelik hoe ‘n rugbybal lyk. Hy waag dit toe om die drie-dimensionele rugbybal na die tweedimensionele wêreld te stuur. Die probleem was net dat die arme twee-dimensionele mannetjies die kontoere van die rugbybal net binne húlle dimensie kon sien. Sommige van hulle teken toe wat hulle sien. Sommiges het duidelike sirkels gesien terwyl ander weer duidelik ovaalvormige prentjies gesien het. Hulle het dag en nag verskil oor die presiese aard van die rugbybal. Dit het tot kerkskeuring gelei. Die drie-dimensionele wese probeer toe om vir hulle te sê dat die rugbybal ‘n kombinasie is van almal van hulle se perspektiewe en dat almal van hulle se perspektiewe wel reg was.  Vir hulle was dit onmoontlik om te verstaan. Die een figuur sluit dan die ander een uit. Net so is dit vir ons baie moeilik om te verstaan en kan ons dikwels tot op die fynste punte met mekaar verskil oor die aard van Jesus se goddelikheid.

Paulus het so effense anderse manier as Johannes om dieselfde saak te beskryf. In die bekende Kolossense 1:15-20 (vgl. ook Filippense 2:5-11), wat ‘n bekende vroeë Christelike himne was, verduidelik Paulus dat Jesus die beeld van die onsienlike God is, die eersgeborene van die ganse skepping. ‘n Beeld is immers ‘n prentjie van die oorspronklike. Die beeld verteenwoordig die oorspronklike. Net so verteenwoordig Jesus die beeld van God, maar is hy ook God. By Paulus vind ons egter ook soos by Johannes die gedagte van hiërargie – naamlik dat Jesus deur God verhoog is en deur God self ‘n ereplek toegeken is (vgl. Fil 2:5-11).

 

Dit is en bly ‘n moeilike vraag hoe mens die presiese aard van Jesus se goddelikheid moet verstaan. Ons is immers soos twee-dimensionele wesens wat ‘n drie-dimensionele begrip wil verstaan. In ‘n sekere mate is ons blote vrae verkeerd, omdat dit vanuit ‘n twee-dimensionele perspektief gevra word.

Die belangrike vraag is egter nie hoe presies Jesus God is nie, maar die punt dat hy God is.

Tog was die vraag rondom die hoe presies Jesus God is, vir die vroeë kerk baie belangrik. Die verskillende sentra (Alexandrië in Egipte en Antiogië in Sirië) van die vroeë kerk het ook nie heeltemal saamgestem oor die saak nie. Die Nuwe Testament op sigself vertoon ‘n verskeidenheid van stemme. Vir die eerste Christene, wat vanuit ‘n Joodse wêreldbeeld prioriteit verleen het aan die monoteïsme (dat daar net een God is), beeld Jesus uit op ‘n wyse dat die monoteïsme nie in gedrang kom nie. So word Jesus die beeld van God genoem of die Seun van God, en by sommiges soos Paulus word Jesus verklaar as God, maar dan via die aksie van God. Een so ‘n voorbeeld is Filippense 2:5-11. In Filippense 2:9-11 staan daar: “Daarom het God hom verhoog en hom die naam gegee wat bo alle name is… sodat elke knie sal buig en elke bely dat Jesus Here (kurios in Grieks) is – tot eer van God die Vader. Ons sien dus hier iets baie belangrik raak – naamlik dat God die handelende subjek is wat die aksie van die werkwoorde verrig. God is die een wat Jesus verhef tot op so ‘n vlak dat mense kan bely Hy is Here. Hierdie belydenis, volgens Fil 2:11, geskied tot die eer van God.

 

In die vroeë kerk het daar vinnig verskillende Christelike groepe regoor die wêreld ontstaan. Sommige groepe wat meer Joods georiënteerd was en bekend gestaan het as die Ebioniete, het die goddelikheid van Jesus nie aanvaar nie. Hulle het eerder klem gelê op Jesus se mensheid. Aan die ander kant was daar die Docetisme. Die word Docetisme is afgelei van die Griekse word dokêo ­, wat “dit lyk so/wil so voorkom” beteken. Hulle het weer geglo het dat Jesus God was en dat hy nie volkome mens was nie – dit het net gelyk of hy mens was.

 

Van die beginjare van die patristiese tydperk (vanaf die tweede eeu) was daar dus alreeds intense debatte oor die presiese aard van Jesus se goddelikheid. Hierdie debatte het hulself uitgespeel in die twee prominente sentra in die vroeë kerk, naamlik in die Alexandrynse skool in Alexandrië en in die Antiogeense skool in Antiogië. Die Alexandrynse skool het die klem laat val op die goddelikheid van Jesus en tekste soos Johannes 1:14 het ‘n belangrike rol in hulle denke oor die inkarnasie (menswording van Jesus) gespeel. Die Antiogeense skool het weer die klem laat val op die menslikheid van Jesus en veral ook op Jesus se lewe as morele voorbeeld vir gelowiges.

 

Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) was een van die bekendste vroeë kerklike apologete. Apologete het die Christelike geloof verdedig teen die aanvalle vanaf die kant van die heidene. Justinus, wat diep kennis van die Griekse filosofie het, ontwikkel die leer van die logos spermatikos (die saad [sperma] draende woord [logos]). Hy neem dus bekende terme en konsepte uit die heidense filosofie oor om die aard van die Christendom mee te beskryf – dit is ʼn tendens wat in die Oosterse kerk sterk was. Die gedagte van die logos (woord) kom van Stoïsisme en Middel Platonisme. Hulle het geglo dat die logos die primêre bron van alle menslike kennis is. Justinus het geglo dat die Logos bekend is en toeganklik is vir beide Christene en heidene maar dat die Christene, op grond van die feit dat Jesus self die Logos is (vgl. Joh 1:1-18), spesiale en volle toegang het tot die waarheid. Volgens Justinus kan mens wel iets van die waarheid raaksien by heidense filosowe soos Heraclitus en Socrates, maar hulle het maar net stukkies van die waarheid beet. Net so belangrik was die gedagte van die logos spermatikos, wat uit Middel Platonisme kom. Volgens hierdie leer het die Goddelike Logos saad gesaai regoor die wêreld en regoor die geskiedenis. In ander gelowe kry mens stukkies van die waarheid, maar in die Christendom kry mens die vervulling daarvan. Die Christendom bou dus voort op dit wat alreeds aanwesig was in ander gelowe (soos Judaïsme), maar die ware volheid daarvan kom eers tot vervulling in die Christendom. In sy tweede apologie skryf Justinus:

Ons geloof/religie is duidelik verhewe bo enige ander menslike leer: die Christus wat verskyn het ter wille van ons menslike wesens verteenwoordig die Logos-beginsel in sy volheid… Wat ook al regsgeleerdes of filosowe goed/reg gesê het, het hulle gedoen op grond van sommige aspekte van die Logos. Maar aangesien hulle nie die Logos in sy volheid geken het nie –  wat Christus is – weerspreek hulle dikwels hulself.

 

Volgens Justinus het ons nou volle toegang tot die Logos – die bron van wysheid, omdat Jesus die Logos was. In die jare wat volg sou die vraag steeds wees hoe is Jesus deel van die Godheid?

Een van die mees intense debatte in die vroeë kerk staan bekend as die Ariaanse kontroversie (Arian controversy). Arius (250-336 n.C.) het geargumenteer dat Jesus nie gelyk in status aan God kan wees nie. Arius het gemeen dat Jesus self deur God geskep is, soos mens byvoorbeeld in Kolossense 1:15-20 lees, alhoewel hy die eersgeborene van die skepping was. Hierteenoor het ander kerkvaders soos Athanasius hewig in reaksie gekom en geargumenteer dat indien mens nie Jesus se goddelike natuur na waarde skat nie, die soteriologie (redding van die mens) skade lei. Volgens Athanasius was Arius se Christologie (leer oor Christus) eintlik soteriologies gesproke bankrot. ʼn Ariaanse Jesus kan nie die gevalle mensdom red nie. Uiteindelik het die vroeë kerk die leer van Arius verketter.

 

Enkele jare daarna het die Appollinarian debat ontstaan. Dit het saamgehang met die leer van Apollinarius van Laodisea (310-390 n.C.). Laasgenoemde het ook hewig in opstand gekom teen die leer van Arius en geargumenteer dat Jesus nie beskou kan word as dat hy ten volle mens was nie. In sy argumente het hy gebruik gemaak van die reeds bestaande argumente en terme in die Griekse filosofie. Hy het gepostuleer dat die menslike gees van Jesus vervang was met die goddelike logos (woord). Gevolglik kan daar nie gesê word dat Jesus waarlik ʼn mens soos ons was nie. In latere jare het ander kerkleiers weer gevoel dat die leer van Appollinarius onvoldoende was en te veel teoretiese probleme tot gevolg gehad het. Een so ʼn persoon wat van Appollinarius verskil het, was die bekende Gregory van Nazianzus wat geoordeel het dat hierdie leer daarop neerkom dat Jesus nie ten volle die menslike natuur kon verlos as hy self nie heeltemal mens was nie.

 

Die debatte in die vroeë kerk was so intens dat die eerste Christelike keiser, Konstantyn, ʼn vergadering/konsilie byeen geroep het, omdat hy onder andere besef het dat al die debatte die potensiaal het om sy ryk te skeur. Die eerste konsilie staan vandag bekend as die Konsilie van Nicea wat in 325 n.C. in Nicea (vandag se Iznik in Turkye) gehou is. Konstantyn het al die biskoppe van regoor die wêreld byeen laat kom om probleme op te los. Een van die grootste debatte op die konsilie het gesentreer rondom die kontroversie rondom Arius se leer waarna ons hier bo verwys het. Die ganse debat wat vir ʼn besondere lang tyd plaasgevind het, het gesentreer rondom een Griekse lettertjie. Die vraag was of Jesus homoousios – dieselfde substansie/een in wese met God is, en of Jesus homoiousis – soortgelyke substansie – was? Nicea het uiteindelik gekonkludeer dat Jesus homoousios is – een in wese en van dieselfde substansie met God. Daarmee is die leer van Arius verwerp. In die jaar 451 is die vierde ekumeniese konsilie in Chalcedon gehou en daar is die besluite van die konsilie van Nicea weer bekragtig, en het hulle weereens intens gedebatteer oor nuwe sake wat opgeduik het oor die menslikheid van Jesus.

 

In die tyd wat daarop gevolg het, was daar nog steeds debatte. Alhoewel die konsilies uiteindelik die konsensus van die vergadering gehandhaaf het, was daar steeds baie Christelike groepe wat nie saamgestem het met die vergadering se besluit nie. In die sesde eeu het daar reuse debatte ontstaan oor die natuur van Christus en weereens was daar twee strominge  – die monophysitism – die leer dat daar net een (monos) natuur (physis) in Christus is en waar die fokus op sy goddelike natuur val. Hierdie siening was veral sigbaar in die oosterse Mediterreense kerke, insluitende die Koptiese, Arminiaanse, Siriese en Abessiniese kerke. Die Chalcedon posisie staan bekend as dyophysitism, of die twee-nature leer.

 

Daar is dus geen eenvoudige antwoord op die vraag nie. Die presiese aard, die hoe van Jesus se goddelikheid is ʼn misterie. Daarom is die belydenis dat Jesus God is, ʼn geloofsverklaring wat fokus op die feit dat Jesus God is.

 

Bronverwysing:

Indien u meer oor hierdie belangrike kwessie wil leer kan u die volgende bron raadpleeg:

McGrath, A., 2000, Christian Theology: An introduction, Blackwell Publishers, Oxford, pp. 319-357.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

image_pdfimage_print

You may also like...