Wat is die evangelie? (7)

image_pdfimage_print

We are called not to adjust ourselves to each other, but to adjust ourselves to God. — AW Tozer

Wat is die evangelie? (7)

As die evangelies ware geskiedkundige gebeure beskryf en nie net die idees van vroeë dissipels nie, hoekom openbaar die opgestane Jesus Hom net aan gelowiges? Sou dit nie beter gewees het as Hy Hom ook aan ongelowiges geopenbaar het nie? Hierdie beswaar berus op ‘n verkeerde uitgangspunt.

 

 

1 Korintiërs 15: 3 – 7 was waarskynlik ‘n vroeë Christelike belydenis wat Paulus hier aanhaal. In die finale reël van die belydenis lees ons: Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. Van Jakobus lees ons ook in Josefus se geskrifte. Hy beskryf onder andere sy marteldood deur steniging.

 

Hoekom het Jakobus so vas geglo dat sy ouer broer die Messias was? In Johannes 7:5 lees ons tog: Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie. Markus 3:21 stel dit nog sterker: Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.”  Teen Handelinge 1 het dinge dramaties verander: Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by (vers 14). Jakobus en sy broers word gelowiges na Jesus se opstanding.

 

Het die opstanding werklik gebeur? Diegene wat gesê het dat hulle die opstanding gesien het, het kante gekies en ander daarvan probeer oortuig – iets wat ‘n mens sou verwag as dit werklik gebeur het. Maar wat van die aanklag dat Jesus net aan sy volgelinge verskyn het?  Nie waar nie. Hiervan is Jakobus ‘n goeie voorbeeld Ons lees tog duidelik in die evangelies dat Jesus se broers nie in Hom geglo het nie. Later, na die opstanding, verskyn Jesus aan hulle. Daarna sluit hulle by die ander dissipels aan. Jesus verskyn aan sy ongelowige broers en hulle glo.

 

Jesus het Homself aan ongelowiges geopenbaar. Waar wil jy ‘n beter voorbeeld as Paulus self hê: Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn. Paulus sê self dat hy nie dit werd is om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het (1 Korintiërs 15:8 – 9). Teen hierdie tyd was die belydenis voltooi. Paulus voeg nou sy eie getuienis en aanstelling as apostel by. Aanvanklik was Paulus ‘n vyandige getuienis … totdat hy die opgestane Christus gesien het. Soos met Jakobus die geval was, het iets vir Paulus oortuig van ‘n totale ommekeer.

 

Hierdie ou belydenis sê dat ‘n sekere Joodse rabbi vir ons sondes gesterf het en op die derde dag weer opgestaan het. Hy verskyn voor gelowiges en vyandige getuies.

 

In die laaste blog gaan ons kyk na Paulus se argumente vir die stelling: As Christus nie opgestaan het nie, is ons prediking sonder inhoud.

image_pdfimage_print

You may also like...