Wat moet ek oor God se woord voel?

image_pdfimage_print

The best portion of a good man’s life is his little, nameless, unremembered acts of kindness and of love. -William Wordsworth, digter (1770-1850)

Wat moet ek oor God se woord voel?

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 Weereens is daar drie gevoelens oor God se woord.

  • Ek moet my in sy woord verheug

Om volgens u verordening te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld (119:14). [Ons kry basies dieselfde in verse 24, 47, 70, 77, 143 en 174.] Die psalmis praat emosioneel oor God se woord. Hy sê die woord is soeter as heuning in sy mond (vers103); is wonderlik (vers 129) en dat hy God se verordeninge baie liefhet (vers 167).  Almal van ons word opgewonde as die woorde wat ons lees tot ons voordeel is. Die Bybel se woorde is vir ons tot voordeel.

Daar is egter ook ernstige waarskuwings. Dit gaan oor ons en diegene wat ons liefhet; dit bring ons van aangesig tot aangesig met Hom wat alle mag het. Die Bybel is die grootste storie wat nog ooit vertel is. Daarom sê die psalmis hy het God se woord lief: U woord is baie suiwer, ek het dit lief (119:140).

Die psalmis word ook kwaad as mense hulle nie in God se woord verheug nie: Ontsteltenis verteer my omdat my teëstanders u woord verontagsaam (119:139); Ek het die verraad van die ontroues gesien, en dit het my met walging vervul dat hulle u woord nie gehoorsaam nie (119:158). Hoe voel jy as iemand God se woord minag? Niemand wat hom waarlik in God se woord verheug, sal ongevoelig wees as dit verontagsaam word nie.

  • Die woord moet my begeerte wees.

Ek kwyn van verlange na u bepalings (119:20). Nie minder as veertien keer druk die psalmis die begeerte uit om God se woord te ken en te verstaan. Een voorbeeld is: Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer, sodat ek my tot die einde daaraan kan hou (119:33). ‘n Begeerte is dit waaroor ons droom en dink en waarvoor ons bid. Sommige begeertes is goed; ander begeertes is sleg. Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer (119:71)

  • Ek is van God se woord afhanklik

Ek hou vas aan u verordeninge, Here,moet tog nie dat my lewe ‘n teleurstelling word nie (119:31). Daar is baie dinge wat ons in die lewe wil hê, maar daar is min dinge wat ons werklik nodig het. Maar daar kom dae, sê die Here my God, dat Ek ‘n honger oor die aarde laat kom: ‘n honger nie na kos nie, ‘n dors nie na water nie, maar om die woord van die Here te hoor (Amos 8:11). Ons is almal afhanklik van God se selfopenbaring in sy woord. Alles wat die psalmis glo en voel oor God, moet ons ook glo en voel oor Jesus Christus.

Noudat ons gesien het hoe ons oor God se woord moet voel, kan ons volgende keer kyk na wat ons met sy woord moet doen.

image_pdfimage_print

You may also like...