Wat sê die Bybel oor depressie en angs

image_pdfimage_print

Wat sê die Bybel oor depressie en angs

As jy met Christene oor psigiese gesondheid praat weet jy nie wat om te verwag nie. Party sal vir jou sê dat depressie en angs ‘n suiwer geestelike stryd is wat met meer geloof, meer Bybel lees en meer gebed oorwin kan word. Ander sal vir jou sê dit is ‘’n suiwer fisiese saak – sien jou geneesheer en kry meer medisyne. Ander sal met teorieë van demoniese aanvalle en die eindtye kom.

Maar wat sê die Bybel oor depressie en angs.

Die Bybel sê niks nie.

Jy gaan nie die woorde depressie of bipolêr in die Bybel kry nie, net soos jy ook nie die woord Drie-eenheid in die Bybel kry nie. Maar net omdat daardie spesifieke woorde nie in die Bybel voorkom nie, beteken nie dat die Bybel stil is oor hierdie sake nie.

Sonde het die volmaakte wêreld wat God geskep het gebreek.

 

Gereformeerdes praat van totale verdorwenheid. Dit beteken dat sonde ons totale wese geïnfekteer het. Ons liggame, emosies en siele is onder die onderdrukkende oorheersing van sonde. Ons wêreld is stukkend. Daarom sê Paulus in Romeine 8: 22 – 24:

Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God bekend sal mak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het. Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is immers gered en ons het nou hierdie hoop.

Psigiese ongesteldheid moet ons nie verbaas nie. Toe sonde in die wêreld gekom het, het ook kanker, verkoue, ebola en depressie gekom. Ons liggame, brein ingesluit, sug vir die verlossing wat Jesus bring.

Maar daar is meer as net ons totale verdorwenheid. Ons sien ook geesteongesteldhede in goddelike mense. Lees net die psalms. Dit lyk of Dawid soms baie laag gesink het Natuurlik kan ons nie sê dat Dawid aan depressie gely het nie, maar hy was soms in die dieptes van wanhoop en donkerte.

 

Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here/ vir altyd?

Hoe lank gaan U nog van my af wegkyk?

Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? ..

Luister tog en antwoord my, Here my God!

(Psalm 13:2 – 4).

Die psalmis het nie net ‘’n slegte dag nie; hy is nie net teleurgesteld nie. Hy word neergedruk onder die gewig. Hy het hartseer in sy hart – elke dag. Dit klink nogal na die storie van mense met depressie. As ons deur die kerkgeskiedenis loop sien ons voorbeelde van goddelike mense lamgelê deur depressie. In ‘n preek “The Christian Heaviness and Rejoicing” sê Charles Spurgeon:

…my spirits were sunken so low that I could weep by the hour like a child, and yet I knew not what I wept for…a kind friend was telling me of some poor old soul living near, who was suffering very great pain, and yet she was full of joy and rejoicing. I was so distressed by the hearing of that story, and felt so ashamed of myself.

William Cowper skryf toe hy 21 jaar oud was:

 (I was struck) with such a dejection of spirits, as none but they who have felt the same, can have the least conception of. Day and night I was upon the rack, lying down in horror, and rising up in despair.

Hy het probeer selfmoord pleeg.

Wat  ons van die Bybel en geestesongesteldhede dink, bepaal hoe ons mense gaan help. Uit die Skrif weet ons dat depressie en angs die hele persoon affekteer. Daar moet dus ‘’n holistiese fisiese en geestelike benadering wees.

Dit is nie verkeerd om aan te beveel dat hulle ‘’n geneesheer moet sien nie. Ons moet hulle ook met God se woord bemoedig. Moenie sê dat hulle ‘’n gebrek aan geloof het nie. Moet ook nie sê dat hulle hul nie moet bekommer nie. Herinner hulle aan God se liefde en sy nabyheid aan diegene wat swaarkry. Hulle sal waarskynlik nie anders voel as jy dit vir hulle sê nie. Die punt is dat jy wil hê dat hulle moet weet dat jy hulle lief het – en God ook. In meeste gevalle is teenwoordigheid van meer waarde as woorde.

Moet ook nie aan hulle ‘’n boek gee om te lees nie. Hulle kom beswaarlik deur die dag, hoe gaan hulle nou nog ‘’n boek lees. ‘’n Enkele vers is genoeg. Geestelike medisyne moet stadig toegedien word. Soms neem dit weke voordat dit begin werk.

Die antwoord op die vraag: ‘wat sê die Bybel oor depressie en angs?” is belangrik, want mense is belangrik. As jy die antwoord verkeerd kry, gaan mense ly.

 

 

image_pdfimage_print