Kyk terug na die verlede

Success is peace of mind which is a direct result of self-satisfaction in knowing you did your best to become the best you are capable of becoming – John R. Wooden

Kyk terug na die verlede

Dit is belangrik om terug te kyk na die geskiedenis van die kerk. Daar is baie redes daarvoor. Een daarvan is om die kerk te beskerm teen individualisme wat vandag so algemeen onder Christene voorkom. Baie faktore – ‘n verbruikersmentaliteit, die aandrang op individuele regte, die klem op persoonlike outonomie, die gevoel dat ons op sekere dinge geregtig is – skep ‘n atmosfeer waarbinne baie Christene hulle leer kies en keur net soos hulle doen met hulle kos en klere.

As hulle ongemaklik voel oor die oppermag van God of ontsteld is oor die idee van God se toorn of die hel, verwerp hulle dit. As hulle wêreldse lewenstyl deur die eise van heiligmaking gekonfronteer word, word hierdie leer eenvoudig as minder belangrik beskou.

Die geskiedenis kan hierdie situasie regstel. Ons word daaraan herinner dat ons geloof ‘n korporatiewe geloof is wat nog altyd God se oppermag, sy toorn, heiligheid en die gesag van die Bybel beklemtoon het. Hierdie ryk erfenis beskerm ons teen die neiging om te kies en te keur wat ons aanvaar en wat ons verwerp.




Die geskiedenis van die Kerk – Is dit belangrik

Build your own dreams, or someone else will hire you to build theirs – Farrah Gray

 

Die geskiedenis van die Kerk – Is dit belangrik

As ons praat oor kerkgeskiedenis is gelowiges geneig om twee foute te maak:

  • Ons ignoreer dit, want ons dink dit is nie belangrik nie. Wat ons vergeet, is dat die Heilige Gees in die kerk oor baie eeue gewerk het. Hy het gawes aan die kerk gegee, onder andere, apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus (Efesiërs 4:11 – 12). Ons moet kyk wat hierdie mense deur die eeue gesê het. Daar is nog baie wat ons by hulle kan leer – of dit nou Augustinus of Luther is.
  • Ons hanteer dit asof dit ‘n afgod is. Daar is Christene wat glo dat daar iewers in die verlede “’n goue eeu” was waar  mense die Christelike leer verstaan het. Ons taak is om terug te gaan na daardie tyd van verstaan. Wat ons egter vergeet is dat die enigste ware bron van die leer van die Christendom die Bybel is – en niemand het nog ooit die Bybel volmaak verstaan nie

 

Deur die eeue het Christus in die kerk gewerk: Mans julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik (Efesiërs 5:25 – 27).

 

Die kerk het deur die eeue geleidelik gegroei in verstaan van die Christelike leer. Geleidelik vorder die kerk na sy doel: Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer … Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof (Efesiërs 4:14 – 15).

 

Die geskiedenis van die kerk is belangrik – ons mag dit nie ignoreer nie. Ons moet egter altyd in gedagte hou dat die verlede nie volmaak was nie.




Kan die moderne kerk by die vroeë kerk leer?

The two most important days in your life is the day you are born and the day you find out why – Mark Twain

 

Kan die moderne kerk by die vroeë kerk leer?

Hoe het 120 Joodse volgelinge van Jesus die kerk in ‘n multi-etniese beweging met 33 miljoen volgelinge teen die jaar 350 verander? Rodney Stark (The Rise of Christianity) identifiseer veral drie dinge wat die vroeë kerk gedoen het. Dit is dinge wat die kerk vandag steeds met groot vrug kan doen.

  • Die vroeë kerk het die siekes en armes versorg

Aaansteeklike siektes in die eerste twee eeue nC het katastrofiese gevolge gehad. Marcus Aurelius, keiser van 161 – 180, het gesê: So many people died that cities and villages in Italy and in the provinces were abandoned and fell into ruin.” Dionysius, die Biskop van Aleksandrië,  vertel dat die geloofsgemeenskap die evangelie uitgeleef  het deur die siekes te verpleeg – ten spyte daarvan dat ons hier met hoogs aansteeklike siektes te doen gehad het. Dit het gebeur terwyl die heidene hulle siekes aan hulleself oorgelaat het – om die waarheid te sê hulle het hulle siekes in die straat uitgegooi nog voor hulle dood was. Het ons gemeentes ‘n strategie om die armes en siekes te versorg? Moet ons nie weer soos die vroeë kerk weer liefde op armes en siekes uitstort nie?

 

  • Die vroeë kerk het vrouens geëer en met waardigheid hanteer

In Atene is vrouens as kinders geklassifiseer – maak nie saak wat hulle ouderdom was nie. Mans kon van hulle vrouens skei bloot deur hulle uit die huis weg te jaag. In die Grieks-Romeinse wêreld is vroulike babas dikwels doodgemaak. Min gesinne het meer as een dogter gehad. Vroue reageer op die evangelie in groot getalle, want vir die eerste keer hoor hulle dat ook vroue na die beeld van God gemaak is en dat hulle gelyk aan die man was. Hulle was verbaas om te hoor dat mans hulle vrouens moes liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het (Efesiërs 5:25). Hulle was verbaas dat hulle in leierskapsposisies gebruik kon word – soos Febe wat ‘n diaken was (Romeine 16:1 – 2). Het die kerk ‘n strategie in plek om die leierskapsvermoëns van vroue te ontgin?

 

  • Die vroeë kerk was ‘n multi-etniese, plaaslike beweging

Grieks-Romeinse stede was etnies divers. So byvoorbeeld was Antiogië uitgelê in twee primêre gedeeltes: een vir die Siriërs en een vir die Grieke. Hierdie gedeeltes was met ‘n muur van mekaar geskei. As gevolg van die etniese verskeidenheid was sosiale integrasie baie moeilik – geen wonder opstande het gereeld plaasgevind nie. Juis in Antiogië was Jesus se volgelinge vir die eerste keer Christene genoem (Handelinge 11:19 – 26). In Antiogië verander Jesus se kerk van ‘n homogene groep Jode na ‘n multi-etniese groep – Jode en nie-Jode. Dit was juis hierdie multi-etniese, plaaslike kerk in Antiogië wat die evangelie van Jesus Christus dwarsdeur die wêreld uitgedra het – nie die homogene kerk in Jerusalem nie. Dit was Antiogië se kerk wat Barnabas en Saulus afgesonder het en uitgestuur  het (Handelinge 13:1 – 3). Christus is ons vrede, Hy wat die twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het … deur sy dood aan die kruis het Hy ‘n einde gemaak aan die vyandskap en die twee met God versoen en tot een liggaam verenig (Efesiërs 2:14 – 16). Dit is een van die oorheersende temas in Paulus se briewe: die evangelie breek grense af en skep nuwe mense in Christus wat leef vir die koninkryk van God en mekaar liefhet. Net 13% van alle gemeentes in die VSA is multi-etnies. Het ons ‘n plan om multi-etniese gemeentes tot stand te bring?

 

Het ons gemeentes wat die nuwe hemel en nuwe aarde  van Openbaring reeds hier op aarde weerspieël?




Geskiedenis en dit wat nuut is

The only way to do great work is to love what you do – Steve Jobs

 

Geskiedenis en dit wat nuut is

Gemeentes soek altyd na dit wat nuut is, want ons wil relevant wees. Ons volg ook graag sterk leiers al is hulle teologie maar oppervlakkig. Alister McGrath gee die volgende oplossing hiervoor: Rediscovering the corporate and historic nature of the Christian faith reduces the danger that entire communties of faith being misled by charismatic individuals and affirms the ongoing importance of the Christian past as a stabilizing influence in potentially turbulent times.

 

Maar wat doen ons? Ons kom na vore met snaakse leerstellings soos die voorspoedteologie en water bestaande leerstellings – soos berou oor sonde – af. McGrath glo dat tradisie ‘n filter is – dit laat ons toe om onmiddellik dwaalleer te herken. Om te sê: Ons het dit nog nooit geglo nie, beteken nie dat die onderrig verkeerd is nie, Dit plaas wel ‘n fundamentele vraag op die tafel: Hoekom het Christene dit nog nooit vantevore geglo nie? Verdere ondersoek is nodig en dikwels is daar ‘n goeie rede waarom dit nog nooit vantevore aanvaar is nie. Die verlede is beide ‘n hulpbron en veiligheidsnet om ongesonde leer uit die kerk te weer. Dit verplig die ondersteuners  van hierdie leer om dit te verduidelik.