Die Christendom as Geskiedenis

image_pdfimage_print

 

Growth begins when we start to accept our own weakness – Jean Vanier

 

Die Christendom as Geskiedenis

Greg Gilbert het onlangs ‘n belangrike boek geskryf: “Why Trust the Bible?” Hierdie is vandag ‘n algemene probleem: Mense vertrou nie meer die Bybel nie. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

As ons die boeke waaruit die Nuwe Testament bestaan, benader as historiese dokumente en nie as die woord van God nie, kan ons tot die gevolgtrekking kom dat Jesus uit die dood opgestaan het? Die Nuwe Testamentiese dokumente maak self daarop aanspraak dat hulle historiese dokumente is. Lukas begin sy evangelie met: Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf.

 

Natuurlik het die manier van geskiedskrywing in die antieke tyd verskil van ons metode, maar die basiese idee is dieselfde: die skrywers skryf verslae van gebeure wat hulle geglo het werklik gebeur het. Die Christelike geloof is nie ‘n lys van etiese onderrig of filosofiese nadenke of geheime “waarhede” nie. Die Christelike geloof is ‘n aanspraak dat iets buitengewoons gebeur het – iets konkreet en werklik en histories.

 

‘n Verdere vraag: Is die NT dokumente betroubare as historiese getuies? Kan ons hulle vertrou om goeie, betroubare inligting te gee oor die gebeure in Jesus se lewe, veral in verband met sy opstanding. Ons eindig met vyf groot vrae:

  1. Is die vertaling van die Bybel uit sy oorspronklike taal betroubaar? Sê dit nie dinge wat ons nie in die oorspronklike gekry het nie?
  2. Het kopieerders die oorspronklike skrywe akkuraat oorgeskryf? Het hulle nie doelbewus dinge bygevoeg of weggelaat of verander, sodat wat ons vandag het verskil van die oorspronklike nie?
  3. Kyk ons na die regte versameling boeke? Is daar nie boeke weggelaat wat ‘n ander perspektief op Jesus sou gee nie?
  4. Was die oorspronklike skrywers betroubaar? Was hulle oorspronklike bedoeling om ‘n akkurate verslag van gebeure te gee of wou hulle mense mislei?
  5. Kan ons seker wees dat wat die skrywers neergeskryf het werklik plaasgevind het?

 

Eers as ons op al hierdie vrae kan antwoord, het ons ‘n sterk aanspraak op die betroubaarheid van die gebeure. Dan het ons ‘n soliede fondament om die Bybel as histories betroubaar te sien. Eers dan kan ons die Bybelse verslag van Jesus se opstanding uit die dood aanvaar – dit het werklik gebeur.

 

Voordat ons na hierdie vyf vrae kyk, is daar ‘n paar gedagtes ter agtergrond wat ons eers moet bespreek.

 

image_pdfimage_print