1 Petrus 4:17

image_pdfimage_print

1 Petrus 4:17 – Francois Malan

Jan Smith vra:

Ek wil graag vra hoe 1 Petrus 4 vers 17 vertolk moet word,asb? “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God”. Petrus praat vooraf van lyding, gebed, liefde vir mekaar,bediening volgens elkeen se genadegawes, prediking, vervolging, belediging maar hoofsaaklik lyding. Dan die bogenoemde skrif en wat volg tot vers 19 mbt redding. Die inhoud strook vir my nie met die ander onderwerpe nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Petrus word geskryf aan die klein groepies Christene te midde van ‘n heidense omgewing, wat verstrooid in die noorde van Klein-Asië (vandag se Turkye) woon in die streke Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1:1). Hulle word deur hulle eie mense uitgestoot, uitgeskel en vervolg omdat hulle nie meer meedoen aan die heidense tempelbyeenkomste en feeste nie (2:11,12; 3:13-17; 4:4; 5:9,10). Dit word gesien as ‘n stryd van die duiwel teen God en sy gemeente (5:8). In die hele brief word hulle lyding gesien as deelhê aan die verwerping en lyding van Christus. In die wêreld is versoekings en beproewings deel van die lewe van die gemeente van Christus. In 1:6 word dit as ‘veelkleurige’, soos ‘n lappieskombers,  (NAV allerlei) beproewings beskryf. Op allerlei maniere word die gemeente onder druk geplaas. Daar is belastering, verdagmakery, boikot, hulle word by die owerheid aangekla. Die gemeentes word aangespoor om dit alles te verdra as ‘n vuurproef vir hulle geloof om, soos goud gesmelt te word om onsuiwerhede uit te kook, hulle sal groei in die geloof (1:7). Maar te midde van dit alles word die gelowiges deur die krag van God veilig bewaar (1:5).

 

Petrus beskou die tyd waarin ons lewe as die eindtyd (1:20). Daarom sien Petrus vooruit na die einde van alle dinge (4:7). Die tydjie tussen Christus se eerste en wederkoms is kort, die einde staan voor die deur. Daarom moet ons verstandig wakker (letterlik: omgord die lende van julle verstand – gereed om dinkwerk te doen) en nugter lewe, met die oog op Christus se wederkoms en sy genade oor ons (1:13).

 

Die tyd vir die oordeel het aangebreek met die koms van Christus. Hy het die oordeel van God oor ons sonde kom dra in sy liggaamlike lyding (3:18; 4:1). Ons liggaamlike lyding is om deel te hê aan sy lyding (4:1-2, 13). Daarom is die oordeel van God reeds besig om voltrek te word aan die huis van God, die mense wat aan Christus en sy sterwe verbind is deur die geloof (4:17). Daarom moet die gelowiges nie verbaas wees oor die vuurproef waaraan hulle onderwerp word nie (4:12, vgl. 1:6). Dit kom juis omdat ons aan Christus behoort. Hoe meer ons ly, hoe meer moet ons daaroor bly wees, want dan sal ons ook oorloop van vreugde by sy wederkoms (4:13, vgl. 1:7,11). Ons lyding bewys dat ons deel is van Christus, dat die Heilige Gees in ons woon om ons in die lyding te versterk (4:14). Maar dan nie lyding omdat ons kwaad doen nie. Maar omdat ons aan Christus behoort (4:15-16; vgl. 3:17 dat lyding nie ‘n noodlot is nie, dit kan die wil van God wees dat ons ly). Gelowiges sal ook op die oordeelsdag voor God verantwoording moet doen (1:17). Maar die gelowige kan nou reeds iets bespeur van die oordeel van die Regter, in die lyding wat hom/haar opgelê word, as beproewing en toetsing van sy/haar geloof. Lyding kom nie toevallig oor ‘n mens nie. Dit is deel van God se plan. God se oordeel oor die sonde is deur Christus aan die kruis gedra (2:24). Deur die gelowiges se verbondenheid aan Hom, kry hulle ‘n eerste vuurproef van die oordeel. Die gelowiges in bewus van die vuurgloed van God se toorn wat hulle soos goud smelt om hulle suiwerheid te toets in hulle lyding (4:12; vgl. 1:7). Die gelowiges is geroep om die lyding te verdra, omdat Christus vir ons gely het, en so vir ons ‘n voorbeeld gestel het, sodat ons in sy voetspore kan volg (2:21; vgl. Rom.8:17; Hebr.5:8). Wanneer gelowiges insien dat hulle lyding tot hulle heil is, sal hulle hulle daarop toelê om die oordeel oor hulle as deel van God se beskikking te beskou. Daarmee wil die Here ons vorm om al meer soos Christus te word (vgl. 2 Kor.3:18; dat Christus in ons gestalte kan kry, Gal.4:19). Alle mense staan onder die oordeel van God om na die liggaam te sterwe (vgl. Gen.2:16). Dood is deel van God se oordeel oor die sonde. Maar wanneer gelowiges sterwe, lewe hulle na die gees, soos God lewe, op grond van die evangelie. Die evangelie is die goeie nuus oor Christus, wat hulle in geloof omhels het (4:6; vgl. 1 Kor.15:51-57).

 

Die ‘huis van God’ is God se huisgesin, almal wat aan God se Seun behoort, deur sy bloed losgekoop is (1:19), 2:9 noem hulle o.a. ‘die eiendom van God’,  1:1 ‘die uitverkorenes van God’, 1:17 sê: ‘julle wat Hom as Vader aanroep’, en mede-gelowiges word broers genoem (1:22). God hou sy kinders vas te midde van die druk van vervolging en lyding, ook liggaamlike lyding, in die vuurproef van die oordeel (1:5).  

 

                Die volle gloed van God se oordeel oor die sonde van die mens gaan egter die ongelowiges tref (4:18). Dit is ‘n aanhaling van Spreuke 11:31 volgens die Griekse vertaling van die Ou Testament ‘as die regverdige kwalik gered sal word, waar sal die goddelose en sondaar verskyn?’ (vgl. 2:7-8; 3:12 wat Ps.34:17 aanhaal; 4:5).

 

                Dié wat ly omdat God dit wil (2:15; 3:17), moet hulle lewe toewy en toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen (4:19). In die lyding staan die gelowige nie alleen nie. God is die troue Skepper wat ons nie sal loslaat nie. Selfs in lyding mag die gelowige nie kwaad met kwaad vergeld, of in opstand teen God kom nie (vgl. Jesus se voorbeeld in 2:22-24). Goed doen word uitgespel in 2:11-4:11.  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...