Alle Paaie lei na Jesus: Abraham, evangelie, doop, besnydenis

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Abraham, evangelie, doop, besnydenis – Adrio König

1.5 Abraham – evangelie – doop – besnydenis

Eintlik kry ons mos al by Abraham se roeping in Genesis 12 die sterk boodskap van sy geestelike vaderskap. Reg aan die begin, wanneer die Here hom uitlei uit die heidendom om uit hom ’n nuwe volk te bou, is die belofte aan hom: “Deur jou sal al die mense op die aarde geseën word” (Gen 12:3, NLV). Paulus verwys  na hierdie teks en noem dit die “evangelie” as hy skryf: “Daarom is die Goeie Nuus (Grieks “evangelie”) vooraf aan Abraham bekend gemaak” (Gal 3:8, NLV). Wat is die Goeie Nuus?

Dat nie net Jode wat glo nie, maar ook heidene wat glo, deur God gered (geregverdig) word. Met nadruk skryf Paulus dan twee keer dit is nie dié wat die wet (probeer) hou nie, maar dié wat glo, wat “kinders van Abraham” is (3:7, 9). Na hierdie laaste sinnetjie moet ’n mens mooi kyk. Kom ons

kyk na twee vertalings.

  •  “Dit is dus dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word” (1983).
  •  “Almal wat glo, ontvang dus die seën waarmee God die gelowige Abraham geseën het” (NLV).

 

Bedoel Paulus dit regtig ernstig? Kan ek (en elke ander mens) op geen ander manier geseën word as om deel te kry aan die seën wat God aan Abraham gegee het nie, anders gesê: Om saam met Abraham geseën te word nie? Wel, dis tog presies wat Paulus ’n paar verse verder aan herhaal: Deur Christus kry ons deel aan die seën wat God aan Abraham toegesê het (3:14).

 

Dit kan tog nie iets anders beteken nie as dat God een gemeenskaplike seën aan Abraham gegee het, en dat ons, alle gelowiges, deur die geloof, aan daardie gemeenskaplike seën deel kry. Dan is dit mos nie vreemd dat hy Abraham die vader van alle gelowiges noem nie. En dan is dit mos totaal van die spoor af om te dink Abraham is net die vader van die Jode.

 

En die verbond? Werk dit nie op dieselfde manier nie? Onthou God se verbond met Abraham was nie ’n private verbond met hom as enkeling nie. Hy het die verbond gemaak met Abraham en- al-sy-geslagte-na-hom (Gen 17). Ook die verbond is dus gemeenskaplik. God sluit nie met elke mens ’n nuwe verbond nie. Hy neem ons op in die een enkele genadeverbond, die verbond met Abraham.

 

En dis tog presies wat Paulus verder aan in Galasiërs 3:26-29 skryf. Ons is deur die doop met Christus verenig (3:27), en só kry ons deel aan die verbond wat God met Abraham gemaak het (3:29). Maar dit is tog wat die besnydenis in die Ou Testament gedoen het. Heidene wat in God geglo het, het deur die besnydenis deel gekry in die Abrahamverbond. En verbondskinders is besny en moes later self tot geloof kom. Dan moet daar tog ’n soort verband tussen die doop en die besnydenis wees. ’n Mens verwag dit eintlik as jy eenmaal losgekom het van die gedagte dat die besnydenis maar net ’n nasionale, “vleeslike” teken was dat iemand ’n Jood is, en as jy die diep geestelike betekenis van die besnydenis in die Ou Testament raakgesien het.

 

Ons kry dan ook so ’n verband in Kolossense 2. Paulus skryf aan ’n gemeente wat hoofsaaklik uit heidene bestaan het. En vir hulle sê hy dan dat hulle besny is!? (2:11) Natuurlik kan hy dit nie letterlik bedoel nie. Heidene is nie besny as hulle tot geloof gekom het nie. Wat bedoel hy dan? Hulle is besny” omdat hulle aan Christus verbonde is (2:11). Hierdie “besnydenis” bestaan daar in dat hulle ou sondige natuur weggeneem is (2:11). Nou weet ons natuurlik dis presies wat die besnydenis in die Ou Testament beteken het: Jou lippe moes besny word, of jou ore, of jou hart. Dis presies dieselfde as dat jou ou sondige lewe beëindig word. Deur die geloof in Jesus het die heidene dus die betekenis van die besnydenis gekry. Maar hoe? Hulle is dan nie besny nie. Nee, dit het by hulle doop gebeur (2:12).

 

Wat beteken dit? Dat hulle deur die doop die betekenis van die besnydenis ontvang het. Dan is daar mos ’n verband tussen die besnydenis en die doop. Dan gee die doop ons deel aan die betekenis van die besnydenis, wat op hierdie punt presies dieselfde is as dié van die doop: Die doop is die beëindiging van ons ou lewe (wat ook die betekenis van die besnydenis is) omdat dit ons met Christus verbind.

 

En nou val meer uitsprake in plek. Nou weet ons die wonderlike betekenis van die besnydenis in Romeine 4:11 is ook die betekenis van die doop: “Dis ’n seël wat bewys dat God jou vrygespreek het omdat jy geglo het.”

 

1.5.1 Misverstande

Twee misverstande moet hier uit die weg geruim word. Die eerste is die misverstand dat ons hier die volle betekenis van die doop het. Die doop se betekenis is baie ryker. Dit is nie so dat die besnydenis eenvoudig in die doop oorgegaan het nie. Eintlik het besnydenis en doop ’n ruk lank saam geloop in die vroeë kerk. Terwyl Jode en heidene gedoop is as hulle tot bekering gekom het, het die Christen-Jode nog steeds hulle kinders besny (Hand 21:21).

 

Ons moet onthou dat alles nie dadelik duidelik was na die opstanding van Jesus nie. Trouens Hy het dit self in die vooruitsig gestel dat die Gees die dissipels geleidelik in die hele waarheid sou inlei (Joh 16:13). Daarom het baie insigte geleidelik gegroei. Ons weet byvoorbeeld dat die Christene aanvanklik die kruis heeltemal negatief geïnterpreteer het (Hand 3:15; 4:10; 5:30; 7:52; 10:39-40) en eers byna 20 jaar na die kruisiging besef het watter  wonderlike waarde die kruis het (Gal 1:4). Net so het die doop skynbaar aanvanklik net die betekenis van vergifnis en reiniging van sonde gehad (Hand 2:38; 22:16), en eers later ook die be te kenis gekry van vereniging met Christus en inlywing in die

Abrahamverbond (Rom 6; Gal 3:26-29).

 

Opsommend sou ons kon sê dat die doop se betekenis teruggaan op twee gebruike in die Ou Testament:

  • die Groot Versoendag (Lev 16 – vergifnis en reiniging van sonde),
  • en die besnydenis (inlywing in die verbond en beëindiging van ons ou lewe).

En dan het die doop natuurlik ook nuwe betekenisse gekry soos die vereniging met Christus.

 

1.5.2 Die tweeledigheid van die Abrahamverbond

Die tweede misverstand is dat die doop net vir gelowiges is. Natuurlik is die doop vir gelowiges. En natuurlik is daar niks met die sogenaamde grootdoop verkeerd nie. Prys die Here vir elke buitestander wat tot bekering kom en dan gedoop word. Dis presies hoe die besnydenis ook gewerk het. Dit was in die eerste plek bedoel vir heidene soos Abraham wat in God begin glo het en dan besny is. Die besnydenis was immers voluit ’n geloofsakrament (Rom 4:11), net soos die doop.

 

Maar tog het die Here Abraham beveel om ook vir Isak te besny (Gen 21:4). Natuurlik sou ’n mens direk kon vra of dit dan nie verkeerd was nie. Die besnydenis was dan, net soos die doop, ’n geloofsakrament. Abraham is besny as teken en bewys dat God Hom aangeneem het omdat hy geglo het. Maar Isak kon mos nog nie glo nie.

 

’n Mens kan verskillende verklarings hiervoor aanbied, maar belangriker as enige verklaring, is die feit dat dit die wil van die Here was. Hy wou hê dat die gelowige Abraham aan sy seun, nog voor hy self kon glo, dieselfde geloofsakrament sal gee as wat hyself ontvang het nadat hy tot geloof gekom het. En dit beteken dat daar twee maniere was om deel van die verbond met Abraham te word:

  • ’n buitestander moes eers self glo en dan die sakrament ontvang,
  • en ’n gelowige se kinders moes eers die sakrament ontvang en dan self ook tot geloof kom. Sulke kinders wat dan agterna “onbesnede van hart/lippe/ore” gebly het, dus nie self geglo het nie, was dan net afstammelinge van Abraham en nie kinders nie (Rom 9:6). Elders het ons daaraan herinner dat nie alle Jode/Israeliete werklik deel van Israel, die verbondsvolk, die kinders van Abraham was nie.

 

Hierdie tweeledigheid van die Abrahamverbond kom duidelik na vore in Romeine 4:11-12. Daar staan dat Abraham die vader was van twee groepe mense:

  • dié wat glo voordat hulle besny is (heidene wat net soos hyself van buite af inkom),
  • die besnedenes wat “nie net besny is nie, maar ook glo”, wat natuurlik die Jode is wat as babas besny is en dan self tot geloof gekom het.

 

Dit is hoe Israel vir eeue lank die besnydenis geken het. Dit is jammer dat dit hoofsaaklik net na die een kant toe gewerk het, dat min heidene van buite af ingekom het en dus as gelowiges besny is, maar dit was Israel se skuld. Hierdie tweeledigheid was egter altyd wesenlik deel van hierdie verbond.

 

As ons nou in die Nuwe Testament lees dat Abraham die vader is van alle gelowiges en dat die doop ons nou in die Abraham verbond inlyf, is dit nie vreemd dat sommige aanvaar dié verbond werk nog so nie. As die verbond van God met Abraham in die tyd van die Nuwe Testament wesenlik verander het deurdat die een helfte verval het sodat gelowiges se kinders nie meer deel daaraan kon kry nie, kan ’n mens met reg aanneem dat die apostels baie verduidelikingswerk aan die Christen-Jode sou moes doen. Maar ons kry geen spoor van so iets in die Nuwe Testament nie.

 

Ons kan dus aanneem dat kinders van gelowiges nog steeds soos in die Ou Testament die geloofsakrament moet ontvang en dan agterna self tot geloof moet kom.

 

1.5.3 Afleidings aan albei kante

Ons weet dat alle Christene nie daaroor saamstem nie. Die hele Pinkster- en Baptistewêreld verwerp die kinderdoop. Hulle beroep is sterk gegrond op die feit dat mense na die opstanding van Jesus self eers moes glo voor hulle gedoop is. Hulle is oortuig dat dit ook geld van gelowiges se kinders.

 

Maar kom ons kyk ’n oomblik mooi netjies na hierdie twee teenoorgestelde standpunte. Nie een van hierdie standpunte kom direk in die Bybel voor nie. Daar staan nêrens dat kindertjies van gelowiges gedoop moet word nie. Maar daar staan ook nêrens dat gelowiges se kinders, net soos buitestanders, eers self moet glo voor hulle gedoop word nie. Beide hierdie standpunte is dus afleidings wat gegrond is op sekere gegewens in die By bel. Ons wat die kinderdoop aanvaar, lei uit die karakter van die verbond met Abraham af dat kinders van gelowiges óók in die Nuwe Testament ’n plek in hierdie verbond het. In hierdie verbond is altyd twee groepe opgeneem: buitestanders én gelowiges se kinders. Daar is geen sprake in die Nuwe Testament dat dié verbond verander het nie.

 

Daarteenoor gaan die teenstanders van die kinderdoop uit van die feit dat mense wat in die tyd van die Nuwe Testament gedoop is, eers self moes glo. Hulle lei dan af dat gelowiges se kinders ook aan hierdie reël onderworpe is. Maar ook dit staan natuurlik nêrens in die Nuwe Testament nie. Die teenstanders van die kinderdoop lei dit net af.

 

As beide standpunte dus op afleidings gegrond is, en elke geval ’n taamlik oortuigende afleiding is, is dit seker gepas om vir mekaar respek te hê en mekaar as medegelowiges te aanvaar. En dan is dit seker ook gepas om mekaar nie teen te werk nie, maar ruimte vir mekaar te maak.

 

1.5.4 Abraham en goeie werke – Jakobus

Ons was nou baie lank besig met Paulus se gebruik van Abraham. Hy het Abraham veral gesien in verband met die redding deur die geloof, en in verband met die seën van God, die verbond met sy beloftes, en die toegang tot die verbond: die besnydenis en die doop.

 

Dis interessant dat Jakobus heeltemal van ’n ander kant af na Abraham kyk. Die feit dat hy glad nie die sentrale begrip aanhaal wat Paulus in sy diskussie gebruik nie, “die werke van die wet”, mag al in hierdie rigting wys. Hy skryf oor die belang van goeie werke, nie wetswerke nie (Jak 2). Daar is baie mense wat oortuig is dat hy eintlik téénoor Paulus standpunt inneem. Terwyl Paulus geleer het ons word nie deur werke gered nie, maar net deur geloof (Gal 2:16), sou Jakobus dan leer ons word eintlik deur goeie werke gered. Kom ons kyk hierna.

 

Dit lyk my dit gaan vir Jakobus nie in die eerste plek om die goeie werke nie, maar om die egtheid van die geloof. Hy veg teen ’n verkeerde soort geloof. Volgens hom is geloof sonder werke ’n dooie geloof (2:14, 17, 20, 26). Dis die sentrale tema dwarsdeur hierdie perikoop.

 

’n Mens kan dalk die situasie só verstaan. Paulus waarsku teen mense wat meen dis nie genoeg om vir jou verlossing net op Jesus se kruiswerk te vertrou nie. Jy moet ook nog die wet van Moses hou (Gal 2:16) en dan veral dat jy besny word. As ’n mens verder in Galasiërs lees, sien jy dit gaan oor die “wet hou” (wetswerke) teenoor die geloof. Maar by Jakobus is dit anders. Hy verwys nie eens na die wet nie. Paulus was in die situasie waarin gelowiges uit die Fariseërs die heidene wou verplig om, bo en behalwe hulle vertroue op Jesus, ook nog die wet van Moses te hou. Daar moes dus by die kruisoffer van Christus nog iets bykom.

By Jakobus gaan dit oor die aard van mense se geloof. Jou goeie werke moet toon jou geloof is eg. Presies só verstaan hy dan ook vir Abraham. Abraham se gehoorsaamheid aan God (Gen 22) het getoon sy geloof (Gen 15:6) was eg (Jak 2:21-23). Anders sou hy ’n dooie geloof gehad het net soos die duiwels wat ook sekere dinge oor Jesus en God “glo” (2:19).

 

Dit is wel waar dat Jakobus sy standpunt soms radikaal formuleer. Dit klink vir ons wat Paulus goed ken, soms selfs bietjie vreemd. “Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie” (2:24). En in verband met Abraham lees ons: “Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie?” (2:21) Maar die verbande waarin dit staan, is duidelik. Dit gaan vir Jakobus ten diepste om die geloof, maar die geloof se egtheid hang af van die dade wat dit voortbring.

 

By Paulus se teenstanders was die situasie totaal anders. Daar was geen verband tussen die geloof en die werke nie. Die werke moes nie iets oor die geloof betuig nie. Die werke moes bykom, nie die egtheid van die geloof bewys nie, en dit moes bykom omdat Jesus se offer te min was. Hiervan is daar hoegenaamd geen sprake by Jakobus nie.

 

Dit help dalk as ons onthou Jakobus het skynbaar lank ná Paulus sy Brief geskryf. Paulus was oortuig om gered te word hoef ’n mens net op Jesus te vertrou sonder om die wet van Moses te onderhou. Jakobus was oortuig as jy op Jesus vertrou, sal jou lewe dit wys. Daarvan weet Paulus self baie goed. Hy skryf nie verniet nie (juis in die Brief-teen-die-wetsonderhouding-om-salig-te-word) van die “geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (Gal 5:6)

 

Ons het in Abraham en die verbond met Abraham ’n klassieke voorbeeld daarvan dat die groot temas in die Bybel op ’n merkwaardige manier op Jesus uitloop. Enersyds is dit Hy wat deur sy kruisdood die seën van Abraham vir alle heidene toeganklik maak. Andersyds is Hy self die Nakomeling van Abraham nadat die eerste nakomeling (Isak) se nageslag nie gewerk het nie. En wanneer Jesus die nuwe verbond instel deur sy bloed, is dit ’n herbevestiging van die Abrahamverbond.

 

Ons sal dwarsdeur hierdie boek, in hoofstuk na hoofstuk, dieselfde merkwaardige ontwikkeling sien. Die apostels en die vroeë Christene het die Ou Testament gelees om bevestiging vir hulle geloof in Jesus te kry.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...