Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (10)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (10) – Adrio König

9.3.2 Jesus as die rots

Paulus bring Jesus op nog ’n merkwaardige manier in verband met die uittog (1 Kor 10:1-22). Hy gebruik die uittog soos dit dikwels in die Ou Testament gebruik is as ’n waarskuwing. Hy wil die gemeente in Korinte veral teen hoogmoed en afgodsdiens waarsku.

Hy begin met ’n verwysing na die begin van die uittog: Die wolk wat hulle bedags gelei het en die deurtog deur die Rooisee. En sy nadruk is dat almal, dus die hele volk, die seëninge van God gedeel het. Hierdie seëninge is die beskerming deur die wolk, die redding van die vyand deur die Rooisee, die manna en die water uit die rots. Dit is almal bekende gebeurtenisse wat ons maklik in Eksodus en Numeri kan naslaan.

 

Maar wat nou belangrik is, is die interpretasie wat Paulus gee aan hierdie ervarings tydens die uittog. Die beskerming deur die wolk, en die deurtog deur die see interpreteer hy as hulle doop, en die manna en die water uit die rots interpreteer hy as hulle nagmaal. Dit is nogal opvallende interpretasies. Maar dis duidelik waarom hy dit doen. Dit sal hom help om Israel en die uittog te gebruik as waarskuwing aan die gemeente in Korinte, want hulle is ook gedoop en het ook nagmaal gebruik. Die punt wat hy gaan maak, is dat Israel net soos hulle die volle heil uit God se hand ontvang het, en tog verwerp is in die woestyn (10:5, 6). Die gemeente in Korinte moet oppas dat dit nie met hulle ook gebeur nie.

 

Maar ons moet in meer besonderhede kyk na sy interpretasie van Israel se ervarings. Hy interpreteer die beskerming onder die wolk en die deurtog deur die see as hulle doop (2). Die wolk en die see het wel albei met water te doen, en dit kan ’n mens aan die doop laat dink. Maar verder nie veel nie. En veral die gedagte van sekere kommentare dat hulle in die see onderdompel is en dat dit sou klop met die doop wat volgens hulle deur onderdompeling bedien is, is natuurlik vreemd om die minste daarvan te sê. Immers hulle is – Goddank! – droogvoets deur die see. Dié wat “onderdompel” is, die Egiptenaars, het verdrink. En “onderdompeling” in ’n wolk wat bokant die volk getrek het, is ook nie oortuigend nie.

 

Wat wel belangrik is, is Paulus se verdere interpretasie. Die Afrikaanse vertalings lui: “Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop” (1983 en NLV). Maar dit gee nie taalkundig of teologies goeie betekenis nie. Dit is tog vanselfsprekend dat hulle almal vir Moses gevolg het. Waarom sou Paulus dit byvoeg? En hoe sou dit kon bydra tot die feit dat hulle in die wolk en in die see gedoop is? As ’n mens Paulus se interpretasie van die doop in jou agterkop hou, sien jy maklik wat hy eintlik volgens die Grieks wil sê.

 

Oor en oor lees ons by hom dat ons deur die doop met Christus verenig is of in Christus ingedoop is (Gal 3:27; Rom 6:3-4). Dis presies wat hier in verband met Moses staan. Selfs die absoluut tradisionele NIV vertaal: “They were all baptized into Moses in the cloud and in the sea.” (So ook oa GN, ISV, NJB, PC, W, WJ, 1953-vertaling.) Juis hierdie interpretasie van Israel se ervarings help Paulus om die gemeente te waarsku: Israel het dieselfde ervarings gehad as julle, Israel is ook deur die “doop” met hulle leier verenig, en tog is hulle verwerp. Oppas!

 

Paulus se interpretasie van Israel se “nagmaal” is net so interessant. Hy interpreteer die manna wat hulle geëet het as die brood van die nagmaal, en die water uit die rots as die wyn (3-4). Maar hy noem dit “geestelike” voedsel en “geestelike” drank, en die rots waaruit die water gekom het, ’n “geestelike” rots (4). En net hier kan ’n mens jou in ’n warboel vasloop. Hoe lyk geestelike brood (manna) en geestelike wyn (water)? En nog vreemder: Hoe lyk ’n geestelike rots? ’n Rots is tog klip, kliphard. En gees is tog soos lug, ’n mens kan dit nie eens voel nie.

 

En dis presies ons fout. Ons gee vooraf aan ’n woord betekenis sonder om te vra na die verband waarin dit gebruik word. Dieselfde ding gebeur wanneer sommige teoloë vandag beweer dat ons nie regtig liggaamlik sal opstaan nie omdat Paulus die opstandingsliggaam ’n “geestelike” liggaam noem (1 Kor 15:44). Maar al wat Paulus regtig hier bedoel met “geestelik” is: Onder die beheer en leiding van die Heilige Gees. Dis ook die woord wat hy in 1 Korintiërs 3:1 in verband met mense gebruik: Geestelike mense. En mense kan tog nie soos lug word, airy nie. Jy kan tog aan hulle vat, al is hulle ook hoe vroom. Daarom het die vertalers “geestelike mense” vertaal met: “mense wat hulle deur die Gees van God laat lei.” Dus mense onder die beheer en leiding van die Gees. Die manna en die water was dus volkome tot beskikking van God/sy Gees. Daarom was dit meer as net gewone water en manna. En net so ook die rots.

 

En nou nog twee sake. Paulus maak oor die rots waaruit die water gekom het, ’n vreemde stelling: “die rots wat met hulle saamgegaan het” (4). Dit beteken die rots het beweeg en saam met hulle getrek. Maar terwyl al die ander dinge waaroor hy skryf, duidelik in Eksodus en Numeri staan, staan daar niks van ’n bewegende rots nie (Eks 17:6; Num 20). Waar kry Paulus dit? Hy kry dit in ’n ou Joodse oorlewering. Daar is ’n storie dat die rots saam met Israel getrek het sodat hulle elke keer kon water kry. Maar waarom bied Paulus nou hierdie ou legende aan asof dit die waarheid is? Omdat dit hom die ruimte gee om iets merkwaardigs oor die rots te sê, en dit is die punt waarby hy wou uitkom om sy waarskuwing des te sterker te maak. “Die rots was Christus.”

 

As die rots Christus was, kan jy maklik die legende van die bewegende rots aanvaar. Christus het met die volk saamgetrek. Juis dit maak die waarskuwing soveel ernstiger: Israel het alles gehad, en tog is daardie geslag verwerp. Oppas, gemeente van Korinte! (10:6, 11)

 

Paulus teken dus ’n volledige prentjie van die seëninge wat Israel in die woestyn geniet het. Dit was die volle heil, wat voorgestel word deur die doop en die nagmaal, en trouens deur die teenwoordigheid van Christus self. Dis dieselfde heil waarin die Korintiërs deel, en juis daarom moet hulle die waarskuwing so ernstig neem.

 

Wat was dan die fout met Israel? In die hele deel verwys Paulus nie een keer na hulle antwoord op die heil nie. Alles gaan oor wat God gedoen het. Hulle het nooit sinvol op die genade geantwoord nie. Dis presies dieselfde waarskuwing wat hy later in die tweede brief in ander woorde herhaal (2 Kor 5:17-21): God het alles klaar gedoen, die versoening is afgehandel. Aanvaar nou hierdie versoening wat God deur Christus bewerk het (2 Kor 5:20). Ook in hierdie geval het hy die versoeningswerk van God in Christus breed uitgespel. Maar van ons kant moet daar ’n antwoord kom: aanvaarding, bekering, toe-eiening, anders bly ons buite staan. Dit was Israel se probleem.

 

Ons het hier nog ’n voorbeeld van hoe vry Bybelskrywers met die geskiedenis kon omgaan, net soos die verskil tussen die Evangelies oor die Paasfees en die kruisiging (9.3.1). In die volgende voorbeeld, Jesus se eie uittog (9.3.3),  gaan ons dit weer sien, en dan sal ons dieper daarop ingaan.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...