Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (4)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (4) – Adrio König

5.4.3 Dankbaarheid

Ons liefde is ’n analogiese eienskap met God se liefde. Ons liefde moet iets van sy liefde vertoon. Ons is immers sy beeld. Dankbaarheid is ’n komplementerende eienskap van genade. Die twee verskil, staan in ’n sekere sin teenoor mekaar, maar hulle verskil sinvol sodat hulle presies by mekaar pas. Ons is immers God se bondgenote wat heeltemal ’n ander rol in die verbond speel as Hy, maar ’n sinvolle aanvullende rol wat sy inisiatiewe aanvul tot ’n harmonieuse verhouding.

Dit was nie vreemd dat ons liefde gekies het as die analogiese eienskap nie. Ons lei ons siening van die mens af uit ons siening van God, en God is liefde. Net so is dit ook nie vreemd dat ons as komplementerende eienskap dankbaarheid kies nie. Veral in die Gereformeerde teologie was dankbaarheid altyd sentraal as ons antwoord op God se verbondsgenade. Die hele evangelie is saamgevat onder drie woorde: sonde, verlossing, dankbaarheid. En ook die klassieke nagmaalsformulier vat ons hele verhouding met die Here saam onder die een woord: dankbaarheid.

 

Net soos in die geval van analogiese eienskappe is ook by dankbaarheid sprake van verskille en ooreenkomste, behalwe dat die verskille hier opvallender is. Dit is juis hierdie reeks eienskappe wat ons daaraan herinner dat daar ’n groot verskil is tussen God en mens, terwyl die analogiese eienskappe ons aan die ooreenkoms tussen Hom en ons herinner. Kom ons kyk ’n oomblik na sommige van die verskille tussen genade en dankbaarheid.

  • Genade spreek van inisiatief, dankbaarheid van reaksie.
  • Ons verdien nie God se genade nie, maar Hy verdien ons dankbaarheid oor en oor. Trouens dis meer as dat ons nie sy genade verdien nie. In werklikheid het ons sy genade verbeur.
  • Ons sonde is die aanleiding tot sy genade – wat ’n vernederende gedagte is. Maar sy genade is die aanleiding tot ons dankbaarheid – wat ’n verheffende gedagte is. Sy genade gee ons ’n ongekende status: kinders, en selfs erfgename van God.

 

Hierdie verskille is egter nie steurend nie. Hulle pas sinvol in mekaar. Hulle vorm ’n passende geheel.

Maar God se genade kan ons ook baie leer oor ons dankbaarheid. Daar is ook punte van ooreenkoms. God is nie traag om ons genadig te wees nie. Ons hoef Hom nie aanhoudend te smeek nie. Ons hoef nie baie beloftes te maak nie. Abraham moes, by wyse van spreke, ook nie afvaardigings na Hom toe stuur om Hom te oorreed om ’n verbond met hom te maak nie. Daarom kan ons ook nie traag wees in ons dankbaarheid nie. As Hy graag genadig is, pas dit ons om met entoesiasme dankbaar te wees. Dankbaarheid wat gevra of voorgesê moet word, is ’n probleem.

 

Genade is duur, selfs onbetaalbaar duur. Ons kon niks doen om dit te verdien nie. Dink net weer ’n oomblik daaraan dat Hy sy enigste Seun só ’n pad laat loop en só ’n prys laat betaal het. Kersfees het nie maar net die laaste tyd duur geword oor die inflasie nie. Die eerste Kersfees was die duurste ooit. God het nie net sy hand diep in sy sak gesteek nie, maar Hy het sy hart gegee. Dit het die gevolg dat ons niks hoef te gee om sy genade te probeer verdien nie. Hy het klaar die prys betaal. Sy genade is verniet.

 

Maar daarby kan net ’n dankbaarheid pas wat ook radikaal is, ook alles gee. Omdat Hy in Jesus Homself gegee het, kan dit tog nie anders nie as dat ons in dankbaarheid ook onsself gee nie. Om anders mens te wees as ’n-ten-volle-aan-God-oorgegewe mens pas eenvoudig nie. ’n Halfhartige Christen is ’n anomalie. Trouens selfs ons alles kan nog hoegenaamd nie met sy alles vergelyk word nie. God se genade is meer as genoeg, dis ’n oorvloed. “Hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword” (Rom 5:20). Christus het deur sy offer die wêreld met God versoen (2 Kor 5:17-20). Die verlore seun kry nie ’n stukkie droë brood en ’n beker koffie nie, hy kry die vetgemaakte kalf en nuwe klere. En die arbeiders wat net een uur gewerk het, kry ook ’n volle dagloon (Matt 20:1-16).

 

Dit is merkwaardig dat die “kerkmense” van daardie tyd in opstand kom teen hierdie oorvloedige goedheid van God. Die oudste seun wat nooit iets verkeerd gedoen het nie, is so kwaad oor sy pa se rojaalheid teenoor sy jong boetie dat hy buite bly staan. En die arbeiders wat die hele dag gewerk het, kom in opstand teen die volle dagloon wat die laatkommers kry. En niemand van ons kan dink dis lelik van hulle nie. Ons sou presies dieselfde gedoen het. God se goedheid is so ’n oorvloed dat dit selfs teen ons idee van reg en regverdigheid indruis.

 

Maar dit alles moet vir ons iets sê oor hoe ons dankbaarheid behoort te lyk. Hoe kan ons so traag en so middelmatig in ons  toewyding aan Hom wees? Sou dit nie eerder gepas gewees het as ons te ver gegaan het in ons toewyding, as ons té groot offers in sy diens gebring het nie, as die skrywers van die Nuwe Testament ’n keer vir ’n gemeente moes skryf: “Stadig, nou gaan julle darem te ver” nie? Maar om soos hierdie gemeentes gedurig aangespoor en aangepor te moet word, pas eenvoudig nie by God se rojaalheid nie.

 

Deel van God se genade is dat Hy ons verlede en ons sonde vergeet. Dis nie die geval dat sy geheue Hom in die steek laat nie, dis ’n keuse wat Hy maak: Hy wíl vergeet. Hy verwyder ons oortredings van ons af so ver as die ooste verwyder is van die weste (Ps 103:12). Maar dan pas dit by ons dankbaarheid om dieselfde te doen. Ons hoef dus nie aan ons verlede vasgenael te sit nie. Jy kan jou kop optel selfs al was jy die swartskaap van die familie. Die waarheid is dat God ons eie verlede aan die kruis saam met Jesus opgehang het, en ons met Jesus verenig het sodat ons aan sy nuwe lewe, sy opstandingslewe deel het. Daarom kan Paulus ons beveel: “Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (Rom 6:11). ’n Minderwaardigheidsgevoel pas hoegenaamd nie by gelowiges nie. Hoe kan dit onder die son? Ons is kinders  en erfgename van God! Ons het ’n aandeel aan Jesus se opstandingslewe. Skep moed en begin leef!

 

Dis interessant wat gebeur as ons nadink oor ons verhouding met mense. Teenoor God se genade pas ons dankbaarheid? Maar wat van ons verhouding met ander mense? Natuurlik moet ons ook dankbaar wees teenoor hulle. Maar dis nie al nie. Is daar nie ’n sin waarin ons óók genadig teenoor ander moet wees nie? Jesus se houding teenoor ander is tog dwarsdeur sy bediening eintlik ’n oproep aan ons om soos Hy teenoor mense op te tree. Wat bedoel Hy anders met sy houding teenoor die vrou wat op egbreuk betrap is? (Joh 8) Sy houding is tog eintlik ’n appèl op die Fariseërs om soos Hy genadig teenoor haar te wees. En die appèl aan die ouboet is tog ook: Vergewe, wees genadig (Luk 15). En die appèl aan die Fariseër wat Hom na ’n ete genooi het toe die vrou by sy voete kom staan en huil het? (Luk 7)

 

Dit kom eintlik op dieselfde neer as sy oproep om ander lief te hê. Daar moet ’n sagtheid, ’n toegeneentheid in ons houding teenoor mense wees, veral mense wat “aan die verkeerde kant van die draad staan”. “Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles” (1 Kor 13:7) is nie ’n probleemlose uitspraak nie, maar dis ’n sterk appèl om genadig te wees, om begrip te probeer opbou vir die persoon wat in die beskuldigdebank staan. Veral die eerste frase: “Die liefde bedek alles” kan misverstand wek. NLV vertaal selfs: “Die liefde bly stil oor ander se foute.” Maar dit skep tog ernstige vrae. Moet ons toesmeer, deur die vingers sien, maak asof dit nie bestaan nie? Doen God dit? Het Jesus dit gedoen met die vrou wat in egbreuk betrap is? Of het Hy haar beveel om op te hou met haar sonde? En met die Samaritaanse vrou by die put? (Joh 4) Die oorspronklike woord vir “bedek alles” is afgelei van die woord vir ’n dak of ’n bedekking. Sou dit dus eerder kon beteken die liefde beskou alles, ook mense se foute en sonde, onder die dak van die liefde? Die liefde is dan die oorkoepelende perspektief, die bril waardeur ons na ander se foute kyk. Dan verdoesel ons nie, maar beoordeel in liefde, met begrip, bereid om te verstaan en te vergewe. Dit is wat dit beteken om genadig teenoor ander te wees. NJB vertaal: “Love is always ready to make allowances.” Kan ons ruimte maak vir ander se foute?

 

As ons terugdink aan God se genade moet ook ons graag “genadig” wees teenoor ander selfs al kos dit ons iets. Dis meestal maklik om toegeeflik te wees as dit ons niks kos nie, maar dis goedkoop, terwyl God se genade duur was. Ons genade moet ook nie te gou grense bereik nie, want God s’n is oorvloedig. En ons moet bereid wees om op die ou end ander se foute/sonde te vergeet. Genade grawe nie ou koeie uit die sloot nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...