Alle Paaie lei na Jesus: Inleiding

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Inleiding – Adrio König

Inleiding

Is die Bybel regtig so ’n deurmekaar boek? Kan ’n mens regtig die Bybel gebruik om net omtrent enige standpunt te (probeer) verdedig? Ek weet mense doen dit. Maar laat hulle daarmee reg aan die Bybel geskied?

 

Is die teendeel nie waar nie? Lees hierdie boek en kry die belewenis dat daar merkwaardige lyne in die Bybel loop, dat bepaalde temas sinvol ontwikkel word oor ’n tydperk van eeue. Miskien die grootste onreg wat moderne radikale kritici aan die Bybel kan doen, is om dit te versnipper in klein, losstaande eenhede. Daar is samehang, ontwikkeling, interafhanklikheid in die Bybel.

 

Maar meer nog. Daar moes in Jesus se lewe en optrede ’n merkwaardige rykdom en verskeidenheid gewees het. Hoe anders kon die skrywers van die Nuwe Testament Hom in soveel verbande plaas, soveel profesieë in Hom in vervulling sien gaan, soveel aansprake maak oor sy oorweldigende betekenis? Daar is ’n sin waarin Hy die groot verskeidenheid temas van die Ou Testament soos ’n magneet saamtrek in Homself. ’n Mens kan skaars dink aan enige belangrike saak in die Ou Testament wat nie op een of ander manier in die Nuwe met Hom in verband gebring word nie.

 

Was Luther regtig so verkeerd toe hy gesê het die kanon, dit wat gesaghebbend is in die Bybel, is dit wat met Hom in verband staan (was Christum treibet)? Nie dat alles regtig so maklik en eenvoudig verloop nie. ’n Mens kry telkens die gevoel dat die skrywers van die Nuwe Testament soms die Ou Testament gebruik op maniere wat nie vir ons aanvaarbaar is nie. Ook hulle gebruik van geskiedenis sou in ons tyd tereg onder skerp kritiek kon deurloop. Maar dan moet ons onthou ons kyk van 2 000 jaar later terug. Dit is moeilik (onmoontlik?) om regtig in hulle skoene in te klim en te besef watter metodes in hulle tyd aanvaarbaar was. Hulle was tog kinders van hulle tyd. Hulle het tog nie (kon tog nie) werk met ons denkraamwerk nie.

 

Wat opnuut vir my ’n ontnugtering was, is die radikale manier waarop daar met gebruike in die Ou Testament gebreek is, soos die tempelkultus (Hebreërs). Vir getroue Jode wat God se eeue oue voorskrifte oor offers en feeste ernstig geneem het, was dit ’n onvoorspelbare skok om dit alles die drein te sien afgaan. Om dit te kon hanteer, moes hulle vooraf op ’n oorweldigende manier deur Jesus gegryp gewees het. Hulle liefde vir Hom moes hulle as ’t ware blind gemaak het vir hulle eeue oue godsdienspleging in ooreenstemming met die voorskrifte van die Here.

 

Hierdie navorsing en skrywe was ’n opwindende ervaring. As dit vir jou net die helfte soveel beteken om dit te lees, sal jy klaar voel dit was oor en oor die moeite werd.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...