Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (1)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (1) – Adrio König

7.2 Spesifieke vervullings

Ons kies sewe profesieë uit die Ou Testament wat in die Nuwe vervul is, waarvan die eerste vier uit Matteus en dan drie uit Handelinge is.

  • Die geboorte van Jesus in Betlehem.
  • Die baba Jesus se terugkeer uit Egipte.
  • Herodes se kindermoord.
  • Judas se loon vir sy verraad.
  • Die opstanding.
  • Die koms/uitstorting van die Gees.
  • Die sending.

7.2.1 Die geboorte van Jesus

Dispensasionaliste verwys graag na Miga 5 wat dan letterlik vervul sou wees in Jesus se geboorte in Betlehem. En dit is inderdaad waar dat Betlehem sowel in Miga 5:1 as Matteus 2:1 genoem word as die geboorteplek van Jesus. Maar dis nie die einde van die saak nie.

 

Miga 5:1 is die inleiding tot ’n omvattende profesie, 5:1-5. In opgesomde vorm sê hierdie profesie dat die Messias in Betlehem gebore sal word, en dat sy eerste groot werk sal wees om Israel te bevry van die bedreiging deur Assirië wat juis in die tyd van Miga ernstig was. Daar sal eers nog ’n tyd van lyding wees (5:2), maar dan sal die Messias wat gebore is, met sterk optrede na vore kom (5:3), en wanneer die dreigende Assiriese leër dan die stad binneval, sal daar genoeg militêre leiers wees om teen hulle op te tree en hulle te oorweldig (5:4-5a). En dit alles sal die inisiatief wees van die Messias (5:5b).

 

Van hierdie profesie haal Matteus nou net die geboorte in Betlehem aan en ’n mens sou hier van letterlike vervulling kon praat. Maar wat van die res van die profesie? In die kwessie van letterlike vervulling is die vraag of ’n mens vooraf uit die profesie sou kon aflei hoe dit vervul sal word. En die antwoord is eenvoudig: Nee. Ons sou nie eens naastenby vooraf kon aflei hoe hierdie profesie in Jesus vervul sou word nie. Uit die profesie soos ons dit in Miga het, sou ons vooraf net kon dink aan ’n aanval deur Assirië en ’n oorwinning deur Israel onder die aanvoering van die Messias. Ons sou dus eenvoudig moes wag tot dit vervul is om te sien hoe dit werklik vervul word.

 

Die oorgrote deel van die profesie is trouens glad nie in Jesus se aardse optrede vervul nie. Net een klein sinnetjie is vervul, en daar was geen manier om vooraf vas te stel watter deeltjie dit sou wees nie.

 

Ons sal verder aan ook sien dat dit gewoonlik so gebeur. Nie die volle profesie nie, maar net ’n onderdeel daarvan word vervul, en daar is geen manier om vooraf te wete te kom watter deel dit sal wees nie.

 

7.2.2 Die baba Jesus se terugkeer uit Egipte

Matteus vertel hoe Josef met Maria en die Kindjie na Egipte vlug. En dan sien hy in hulle terugkeer uit Egipte die vervulling van Hosea 11:1 (Matt 2:15). ’n Mens kan net terloops sê dat ons hier te doen het met een van die geweldigste perspektiewe van Matteus oor die betekenis van Jesus. Hy is oortuig dat Jesus eenvoudig die rol van Israel oorneem omdat Israel misluk het in die Here se doel met hulle, en dat Jesus dus aan die begin van sy lewe net soos Israel ’n uittog uit Egipte gehad het. Die uittog van Eksodus was immers ook die “geboorte” van Israel. Maar dit net terloops. Dit is breedvoeriger behandel onder 9.3.3.

 

En die vervulling? Is Jesus se terugkeer uit Egipte die letterlike vervulling van hierdie profesie? Eintlik is dit ’n moeilike vraag. Nee, want Hosea 11:1 is in werklikheid glad nie ’n profesie nie. Dit vertel iets uit die geskiedenis van die uittog, van die wonderlike wyse waarop die Here die volk uit Egipte “gedra” het soos ’n moeder haar kindjie, maar daarteenoor dan die skokkende ontrou van die volk aan die Here (Hos 11:1-4). Uit hierdie verhaal neem Matteus nou net ’n enkele sinsnede en sien die terugkoms van die kindjie Jesus uit Egipte as ’n vervulling daarvan. Hy haal dus glad nie eens ’n profesie aan nie. Hy interpreteer ’n stukkie geskiedenis as ’n profesie omdat hy glo Jesus neem die plek van Israel in.

 

Weer die vraag: Sou ’n mens vooraf uit hierdie geskiedenis in Hosea iets oor die bewegings van Jesus kon aflei? Antwoord:  Nee, want ’n mens sou vooraf geen idee gehad het dat Matteus in ’n deel van hierdie geskiedenis ’n profesie sou sien wat in die lewe van Jesus vervul is nie. Daar is dispensasionaliste wat deur ’n baie ingewikkelde proses probeer aantoon dat ons wel in Hosea 11 ’n profesie het. Maar selfs as hulle reg is, sou niemand natuurlik daaruit kon aflei hoe Jesus se “uittog” uit Egipte sou lyk nie, dat Hy as baba op ’n donkie teruggedra sou word deur sy ouers nie. Dit is tog wat ’n mens sou kon doen as ons van letterlike vervulling praat.

 

In die volgende artikel kyk ons verder na spesifieke vervullings van profesieë.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...